Adrian Swart – “Hy het dit gemaak, ten spyte van ons!”
👤 DJ Muller
Tilana Meyer-Morkel | 01 Augustus 2024
Van ‘n jong ouderdom af was ek oortuig ek gaan die wêreld verander. Toe ek en my man op die jong (en lekker!) ouderdom van 23 getroud is, moes hy net keer of ek bring die wêreld en haar seer ons huis in. Ek het altyd vir hom gesê dat ek ‘n huis wil bou vir die wêreld. ‘n Plek waar mense in hulle eie identiteit en menswees, met wie hulle regtig is, kan veilig wees en tuiskom.
‘n Paar jaar later kry ek ‘n permanente pos in een van die mooiste Boland dorpies – gereed om die wêreld te verander. So pas ek en my man rustig aan en dinge gaan goed. Bietjie langer as ‘n jaar nadat ek die pos gekry het en ons goeie verhoudings begin bou het, kry ons van ‘n jong onderwyseres ‘n stemnota. Daar is ‘n jong seun raakgesien wat uit Caledon kom – Adrian Swart.
Hy is een van die beste atlete wat sy al ooit gesien het. Die skool bied vir hom ‘n volledige “all-inclusive” beurs aan, maar sy Wiskundepunte was nie goed genoeg om plek in die koshuis te kry nie. Hy het plek in die skool, hy staan sak en pak voor die koshuis, maar hy het nêrens om heen te gaan nie. Hulle is dringend opsoek na verblyf vir die seun vir net twee weke.
“Wat is twee weke se ongemak en bietjie ongerief om vir Adrian Swart, ‘n potensiële atleet en jong man, te ondersteun?”
Toevallig (of bestem?) sit my man langs my soos ek die stemboodskap luister. Ek kyk op na hom en hy sug kliphard en sê “Hoekom nie?” Wat is twee weke se ongemak en bietjie ongerief om ‘n potensiële atleet en jong man te ondersteun? Baie arrogant was ek oortuig dat hierdie die eerste stap was wat ons geneem het om die wêreld te verander. En die volgende dag daag hy by ons op. Sy skooltas, sy toksak en sy skoolklere aan ‘n hanger.
Ek hoor nou nog hoe gemeentelede vir ons gesê het dat ons met die mak leeu se stert speel. Mens neem mos nie net enige iemand in wat jy nie ken nie. Wat weet ons van hom? Wie is sy ouers? Wie gaan betaal vir alles? Vrae op vrae. Maar, ons weet mos: dit is net twee weke.
En so word twee weke ‘n maand, ‘n maand word ‘n kwartaal en ‘n kwartaal word ses maande. As jy tieners in jou huis het, sal jy weet dat op ‘n goeie dag is ‘n tiener wat deel vorm van jou familie ‘n uitdaging, op ‘n slegte dag die moeilikste skepsel onder die son. Gooi nou ‘n vreemde tiener, met trauma oor ‘n pa wat afgesterf het, ‘n ma wat ver is, twee jong volwassenes wat niks weet van tieners nie en ‘n skoolsisteem wat potensiaal koop, maar nie belê in die vangnet en netwerk van ondersteuning bymekaar, dan kry jy chaos. Woeste, erge, lewensgevaarlike chaos.
Die eerste maand gaan goed. Ons eet saam, deel stories, lag baie en gaan kyk al wat ‘n atletiekbyeenkoms is. Hy hardloop só, dat ons beide huil. Sy God-gegewe gawe, potensiaal, deursettingsvermoë en vasberadenheid is ongelooflik. Ons loer so nou en dan by hom in oor sy akademie, maar aanvanklik is dit mos nou nie ons probleem nie. Ons bou op, ons ondersteun, ons bemoedig.
Maar, ons beplan om binnekort uit ons ruim pastorie te trek wat loop afstand van die skool af is, en dit maak dinge moeilik vir ons. In elk geval was ons nie heeltemal bereid of gereed om ‘n tiener op ‘n langer termyn basis in te neem nie. En so begin ek die skool bel. Ek praat met afrigters en koshuishoofde. Ek stuur e-posse en ek probeer by die skoolhoof uitkom. Maar, ek hardloop gereeld in die een of ander muur vas. Hierdie muur is: “sy punte is nie goed genoeg nie, ons kan nie vergunnings maak nie”.
Die atletiek seisoen eindig en skielik verander die vriendelike, netjiese en aangename kind in ‘n donker, stil, moody skepsel. Hy kom haal sy kos as ons slaap en eet in sy kamer. Hy sit konstant met oorfone in en sluit homself in sy kamer toe. Hy sluip uit in die oggend voor ons wakker is. Ons weet skielik nie wie hierdie is of wat aangaan nie. Ek probeer weer die skool bel, want ek raak bekommerd. Ek kontak sy ma om met haar te gesels en ek is selfs bereid om so ver te gaan as om maatskaplike werkers of sielkundiges betrokke te kry, want hierdie situasie is ver bo my vuurmaak plek.
Die een dag het hy sport van vriende gaan kyk in ‘n area waarmee ek nie op daardie stadium bekend is nie, maar ek weet dit is nie die veiligste area nie. Dit word aand en ons kry hom nie in die hande nie. Aanvanklik talle oproepe wat gemis word en toe is die foon dood. Ure en baie oproepe later, kry ons ‘n boodskap waarin hy vra dat ons hom gaan haal by die sport. Ek onthou hoe my bloed gekook het. Maar, toe ons daar stop is daar ‘n kar vol jong manne wat ‘n ry-geleentheid nodig het en ons ry in redelike stilte.
Hy het vinnig die aand by die huis ingesluip nadat hy die hek oopgemaak het en ek die kar ingetrek het. Die volgende dag stuur ons ‘n boodskap dat ons moet praat. Ek besef natuurlik dat die kind informeel, sonder enige ooreenkoms in ons sorg geplaas word en ons kan in bitter groot moeilikheid beland as enige iets sou verkeerd loop. My angsvlakke styg al hoe hoër en ek sit al meer druk op die skool vir plek in die koshuis.
Hy begin rugby speel en ons sien weer ‘n effense lig in sy oë. Hy floreer wanneer hy goed is in iets. Hy lewe wanneer hy werk vir iets en presteer. Hy ken net atletiek en rugby. Maar, die atletiekafrigters is nie opgewonde hieroor nie, want die risiko vir beserings is te groot en sy potensiaal in atletiek is gemik op die Olimpiese spele – eendag.
So kom dit daarop neer dat hy kies om eers die rugby te los. Die donkerte daal weer oor ons huis neer. Dit was in die laaste maand waar hy by ons gebly het wat ons hom vir drie dae nie gesien het nie, omdat hy homself in sy kamer toegesluit het, dat ons besef het dit kan nie so aangaan nie. Ons was nie eers seker of hy op daardie stadium nog gelewe het nie. Ek onthou ek het al my afsprake vir daardie selfde dag gekanselleer en ek het besluit ek gaan die skoolhoof bel totdat hy antwoord.
“Sy punte is nie goed genoeg nie en ons kan nie vergunnings maak nie.”
Uiteindelik kom ek deur na die skoolhoof toe en ons besef daar is ‘n massiewe miskommunikasie in die reëling met die seun. Hy gaan onmiddellik ‘n vergadering met die beheerliggaam reël en sal terugkom na my toe met ‘n antwoord. Hy het vir my gesê wat almal nog die heeltyd sê: “sy punte is nie goed genoeg nie en ons kan nie vergunnings maak nie”.
My woorde aan die skoolhoof was daardie dag koud en ek het gevoel ek verraai in daardie oomblik myself ook toe ek vir hom sê: “Maar, dan moet julle hom laat gaan en terugstuur na sy ma toe”. Daar was ‘n oomblik stilte voordat ons gegroet het. ‘n Paar minute later (letterlik paar minute) kry ek weer die oproep met ‘n baie opgewonde boodskap: “ons gaan vir hom ‘n spesiale beheerliggaam vergunning maak, hy kan na die Junie/Julie skoolvakansie koshuis toe kom”.
Ons harte sweef. Dit is waarvoor ons gewag, gehoop en gewerk het (al was dit op vreemde onsigbare maniere). Ons besluit ons maak die aand lekker kos en ons gaan die goeie nuus met hom deel. Ek sal nooit vergeet hoe ons in ons kombuis gesit het en ek vir hom die nuus gegee het nie. Dit het gelyk asof ek sopas vir hom vertel het daar is dood in die familie. Ek besef nou dat hy waarskynlik gevoel het dat ons hom verwerp. Ek is nie seker nie.
Dit was die laaste aand wat hy in ons huis geslaap het. Sy ma het iewers laat weet dat hy vir die vakansie by die huis is en hy sal sy goed kom haal voordat hy koshuis toe gaan. Hy het nooit weer opgedaag nie. Ons het sleutels, besittings en laaste woorde deur ander mense aan mekaar gekommunikeer. Hy het nie kom groet of kom dankie sê nie. Ons harte was seer.
Dit was een ding om ‘n tiener te hê wie se kamer ‘n varkhok was en nie sy eie skottelgoed of wasgoed gewas het nie. Dit was ‘n totale ander storie om net nooit weer die kind te sien vir wie ons vir ses maande liefgehad, ondersteun en deelgemaak het van ons huis-community nie.
Iewers het ek agtergekom hy het my geblok op WhatsApp en ek het vrede gemaak daarmee. My man was diep hartseer. Hy het begin droom oor hoe ons langtermyn hom kan bly ondersteun en nog steeds vir hom daar wees. Sy ma is ver, so ons kan sy stand-in mense wees. En skielik is die mat onder ons uitgeruk.
Van 2019 tot 2022 hoor ons niks weer van hom nie en sien ons hom nie weer nie. Ek hoor dat hy iewers in 2020 teruggegaan het na sy tuisdorp, maar dis dit. Ons maak die hoofstuk van ons boek toe en ons rou. Ons wou die wêreld verander en eintlik het ons net heeltemal die pot mis gesit. Ons voel soos mislukkings. Ons is kwaad, hartseer, ontsteld en sommer net mooi keelvol. My man sê: “Nooit weer sorg ons vir iemand anders se kind nie”.
In 2021 neem ons ‘n seuntjie aan wat ons wêreld kom verander en ek lê in die winter van 2023 met hom in my bed en snuggle toe daar op Instagram ‘n notification deurkom (snaaks dat ek dit so presies onthou). Die seun het my op instagram begin volg. My hart glimlag en ek is ietwat optimisties oor wat dit beteken. Maar, ek volg hom maar pligsgetrou terug. Ek besluit ek gaan ‘n boodskap stuur en hoor hoe dit gaan.
Hy stuur die mooiste boodskap terug oor hoe dit gaan. Hy is eerlik oor sy reis. Hy het amper opgegee op atletiek, omdat die eerste jaar na skool baie uitdagend was. “Maar, toe kom God deur en maak vir my deure hier bo op. Ek doen baie goed wat my atletiek aanbetref en het ook ‘n borg gekry”. Hy vertel hoe hy “Coaching Science” op Pukke studeer. Dit gaan baie goed met hom. Hy het ‘n afrigter, mentor, goeie vriende en mense wat in hom belê.
Hy laat weet in een van ons laaste boodskappe dat hy ‘n sukses van hierdie geleenthede gaan maak en as hy die dag graadvang moet ek en my man asseblief daar wees daarvoor. Die aand gesels ons en ek vertel my man oor die ervaring. My woorde aan hom was dat ek dit ontvang het as sy jammer en dankie. Jammer dat ek nie kom groet het nie en dankie vir die klein aandeel wat julle in my lewe gehad het.
Ons gesels toe nie weer verder nie. Tot op 13 Julie hierdie jaar (2024). Hy stuur net vir my ‘n skermgreep van ‘n plasing deur sportscornerza (wat ek honderd keer moes oorlees om seker te maak ek lees reg) waarin hulle aankondig dat hy in die Olimpiese Spele span opgeneem is wat nou in Frankryk, Parys deelneem.
Hy stuur daarna ‘n stemboodskap waarin hy vir my vra om dit asseblief met die oom (my man) moet deel. Hy wil net hê ons moet weet. Ons harte bars van trots. He made it. Hy is in die 4 x 400m aflos span wat Vrydag, 9 Augustus deelneem.
Dit is nou ‘n vreemde spasie waarin ons beweeg. Ons het gedink daardie seisoen was vir almal traumaties en onnodig. Dit het niks beteken nie en meer skade as goed gedoen. Ons het gedroom oor die impak wat ons op die ou se lewe kan maak, hoe ons op die langtermyn sou betrokke wees en bly en hoe ons die dag as hy Olimpiese spele toe sou gaan daar langs hom sou wees. Dit het nie so uitgewerk nie.
Ons het nie die rol in sy lewe gespeel wat ons aanvanklik gedink het nie, en hy het in ons lewe ‘n rol gespeel wat ons nooit sou kon raai nie. Die storie is mooi. Dit is vyf jaar later en die storie is uiteindelik mooi.
“Hy het dit gemaak, nie te danke aan ons nie, nie ter wille van ons nie, maar ten spyte van ons.”
Miskien was die storie nog altyd mooi en ons kan dit nou eers sien. Al wat ek weet, is selfs al het ons vir die laaste 5 jaar min tot geen kontak gehad het nie, voel ons soos trotse ouers of mentors of goeie vriende van Adrian Swart. Hy het dit gemaak, nie te danke aan ons nie, nie ter wille van ons nie, maar ten spyte van ons. Hy het dit gemaak omdat hy ‘n God-gegewe gawe het en daaraan gewerk het. Hy het ons “Hoekom nie” die moeite werd gemaak!
Ons het baie lesse geleer. Maar, die grootste les waarmee ek nou sit is dat ons minder moet vra hoekom ons seker goed moet doen en dalk eerder moet vra “hoekom nie”? En gerief of gemak is nie ‘n antwoord daarop nie.