Ring van Beaufort-Wes: Soms reën dit in die Karoo

Wilmi Wheeler

Ek ken die N1.

Die meeste van my en my man se familie woon in die Vrystaat en Gauteng en daarom ry ons gewoonlik ten minste een keer ’n jaar die lang pad tussen Bellville en Bloemfontein.

Wanneer ’n mens ’n pad gereeld ry, begin jy jou eie merkers kry. Hier koop ons koffie (of hier koop ons nooit weer koffie nie). Daar begin die landskap verander. Hier is ons omtrent halfpad. Jy leer die dorpe, die padwerke, die padtekens en selfs die vervelige stukke ken.

So goed soos wat ek die pad ken, het ek nog nooit links of regs van die N1 afgedraai nie.

Toe die kommunikasiespan dus onlangs die voorreg kry om saam met lede van die moderatuur Beaufort-Wes toe te piekel vir die Ring van Beaufort-Wes se ringsitting in Fraserburg, was dit vir my onbekende wêreld.

En Fraserburg het ’n paar verrassings gehad.

Om mee te begin: Ek het nie geweet ons gaan oor ’n berg moet ry om daar uit te kom nie. En ek het beslis nie verwag om twee watervalle langs die pad te sien nie.

Watervalle… In die Karoo?

Die wêreld waardeur ons gery het, het glad nie gelyk soos die droë, stowwerige Karoo-prentjie wat ’n mens maklik in jou kop ronddra nie. Daar was water. Dit was groen.

Die streek het kort voor ons aankoms goeie reën gekry en volgens die plaaslike mense was daar nóg op pad. Van hulle het dit beskryf as reën wat ’n mens dalk net een keer in ’n generasie sal sien.

Ek het later gedink hoe gepas dit eintlik was dat dít die landskap was waarin ons die ring ontmoet het.

Want binne die vergadering was daar, soos in soveel gemeentes, ook gesprekke oor droogtes van ’n ander aard.

Finansiële druk. Kleiner geloofsgemeenskappe. Gemeentes wat moet kopkrap oor volhoubaarheid. Mense wat baie verantwoordelikheid moet dra. Die gewone en buitengewone uitdagings van kerkwees op plekke waar hulpbronne nie altyd volop is nie.

ring van beaufort-wes

Maar dit was nie die enigste storie in die vertrek nie.

Ons is hartlik ontvang. Ons het saam geëet, koffie gedrink, stories uitgeruil en lekker gelag. En vroeg in die dag het ons saam rondom die Woord gaan sit.

Ds. Gert Cordier het ons gehelp om na die Bybel deur drie beelde te kyk.

Soms kom die Woord na ons soos ’n spieël.

Die wet laat ’n mens na jouself kyk. Wat sien ek hier van myself? Wat word blootgelê wanneer ek eerlik voor God se Woord staan?

Maar die Woord is ook ’n venster.

Deur die evangelie kyk ons verby onsself en kry ons iets te sien van God: Wie God is, wat God doen en hoe God reeds in hierdie wêreld teenwoordig is.

En dan word die Woord ’n deur.

’n Gebod is nie bloot nóg iets wat ’n mens moet regkry nie. Dit maak ’n deur oop na die nuwe toekoms wat God skep en nooi ons om daarin in te stap.

Spieël. Venster. Deur.

Dit is eenvoudige beelde, maar daardie oggend in Fraserburg het hulle by my vasgesteek. Miskien juis omdat ons later weer oor die uitdagings van gemeentes gepraat het.

Aan die einde van die opening het Lourentia Jordaan opgestaan. Daar was iets op haar hart wat sy vir die mense in die vertrek wou sê.

Sy het geluister na die lys van uitdagings. Sy weet dat daar gemeentes is wat wonder hoe die somme gaan klop, hoe die werk gedoen gaan word en wat die toekoms inhou.

En toe herinner sy hulle aan die woorde uit Haggai: “Hou moed … werk, want Ek is by julle.”

Nie: Hou moed, want alles gaan makliker raak nie.

Nie: Hou moed, want die begroting gaan vanself uitwerk nie.

Nie eens: Hou moed, want ons het al die antwoorde nie.

Hou moed. Want Ek is by julle.

Sy het die mense herinner: Elke gemeente het sy uitdagings. Maar God se Gees bly in julle midde.

Op pad terug het ons weer oor dieselfde Karoo gery.

Verby die water wat teen die klippe afloop. Verby die groen wat op plekke begin deurbreek waar ’n mens dit dalk nie verwag het nie.

Ons kyk maklik na ’n droë landskap en dink ons weet wat daar moontlik is. Ons kyk na ’n gemeente se syfers, ouderdomsprofiel, ligging of uitdagings en begin sommer klaar besluit wat die toekoms gaan wees.

Maar soms reën dit in die Karoo. Soms verskyn daar ’n waterval waar jy net klippe verwag het. En soms herinner God se Woord ’n groep gewone gelowiges in ’n kerksaal in Fraserburg:

Kyk in die spieël.

Kyk deur die venster.

En wanneer God die deur oopmaak, stap.

Want Ek is by julle.

Deel hierdie inhoud met jou mense!
Lees ook: