Advent 2024 (Vrede) – “Engele…”
👤 Dolf du Plooy
Die hemel het na die aarde gekyk. Dit was tyd. Vir ‘n oomblik was dit stiller toe die Heilige onaangekondig sê: “Ons gaan iets doen.” Die hemelwesens se aandag is nou meer intens op die misterie wat soos ‘n heilige ligwolk voor hulle dans. Dan is daar weer ‘n stem. “Ons moet vir hulle lig stuur.” Die koorsang is nou oral doodstil. Hulle verstaan nie. Dan vloei die gedagte soos onhoorbare weerlig deur die gevleuelde hemelwesens. “Daar is mos reeds lig vir die aardbewoners. Waarom só ‘n besluit en wat kan dit tog beteken?” En dan is daar weer ‘n woord wat deur die hele ruimte beweeg. Dit is beslis en kragtig, tog is daar ‘n deernis en sagtheid daarin wat herinner aan lank gelede. Soos met die grondlegging van die skepping. Toe die heelal gebore is, het die Heilige ook só gepraat: “Ons sal Een uit Ons na hulle toe stuur.”
Die hemel en die heelal is vir ‘n oomblik in doodse stilte gedompel. “Stuur eerder een van ons daarheen,” waag een van die hemelwesens dit tot die Heilige. Hulle kan nog goed onthou watter droefheid oor die Heilige gekom het, nadat Hulle daardie laaste keer saam met die aardbewoners in die tuin gewandel het…
“Nee, dit moet so gebeur sodat hulle kan sien dat Ons hulle kies. Dat Ons hulle nooit vergeet het nie. Dat hulle weer kan sien wie Ons is. Dat hulle weer kan hoop.”
En nadat die besluit geneem is, word een van die boodskappers na ‘n geringe gestuur. Een van min aansien. Uit ‘n groep met twyfelagtige betroubaarheid. Sy sal die gelukkige een wees wat die begenadigde sal word waardeur die goeie nuus van hoop en lewe die sterflinge sal bereik. En vir ‘n oomblik word die troonkamer van die Heilige op ‘n skrefie sigbaar. Eers aan ‘n jong vrou en later weer aan ‘n paar wagters. En op die bestemde aand het die hemelwesens na mekaar gekyk en sonder dat woorde nodig was, saamgehoop. Vir aarde en hemel se onthalwe, dat die stofmensies die Lig sal raaksien waarmee die Heilige as geskenk deur die duisternis na hulle sou uitreik. En so word die refrein oorgedra tot aan die einde van tyd: “Eer aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde vir die mense in wie Hy ‘n welbehae het!”
Heilige Here, my woorde is te min, beperk en dom…
Hoe kan ek verstaan dat U na my draai, kyk en uitreik?
Dat my bestaan, geluk en vreugde ook u hart raak…
Heilige Here, kom breek die mure van hoogmoed af om my hart.
Mag my oë, woorde en dade al sagter raak,
soos wat u Gees my bestaan soos oggend dou deurweek.
Maak my grootste begeerte vandag – om aan U vreugde te verskaf.
Mag die wete dat Immanuel vir my is, genoeg wees vir my.
Daarin vind ek vrede, God is by my.
Amen!