Agt gewoontes vir gelowiges in 2026
👤 Wilmi Wheeler
Hoe gaan dit met jou fiksheidsplan/dieet? Die gym is seker al amper ’n tweede huis. En jou suikerinname? Hoeveel kilogram is al uitgesny? Jou skermtyd en doom scrolling gewoontes op sosiale media is natuurlik laer en die Bybelplan wat jy op 1 Januarie begin het, word seker nog elke dag getrou gevolg… en nie iewers rondom dag vyf stilweg laat val nie.
Daar is min dinge so ambisieus (en so kortstondig) soos ’n nuwejaarsvoorneme. Dit begin gewoonlik met ’n groot besluit, ’n vars lys, en ’n illusie dat hierdie jaar die jaar is waarin jy uiteindelik jou lewe uitsorteer. Teen die derde week van Januarie is daardie lys êrens onder ’n hoop wasgoed, jou motivering is skelm op vakansie en jy wonder hoekom jy elke jaar weer hier beland.

Dis nie dat ons nie ernstig is oor verbetering nie. Ons bedoel dit regtig. Maar dalk is die probleem nie ons dissipline nie, maar ons vertrekpunt. Ons begin by selfverbetering, eerder as by genade. By “meer doen”, eerder as by “anders leef.”
Maar, wat as 2026 nie gaan oor nóg ’n poging om onsself te “fix” nie, maar eerder oor die aanleer van gewoontes wat ons oopmaak vir God se werk in ons gewone, soms-chaotiese lewens?
Ja, wat as hierdie nuwe jaar nie vra vir ’n beter weergawe van jouself nie, maar vir ’n dieper een? Hier is agt gewoontes wat gelowiges in 2026 kan aanleer, nie om God te beïndruk nie, maar om oop te raak vir die God wat reeds hier is.
1. Begin die dag met eerlikheid, nie indrukwekkende gebede nie
Baie van ons begin die dag reeds moeg, selfs nog voor die kafeiene in die koffie kans kry om sy ding te doen. Tog voel ons gebede soms soos ’n poging om onsself bymekaar te kry voor God: mooi woorde, regte houding, net genoeg geloofstaal om alles ordentlik te laat klink.
Maar eerlikheid is dalk die mees onderskatte geestelike dissipline. In 2026 kan jy oefen om die dag te begin soos jy regtig is. Nie soos jy behoort te wees nie. Om vir God te sê: “Here, ek is gespanne.” “Ek’s geïrriteerd en ek weet nie hoekom nie.” “Ek sien nie kans vir alles wat vandag wag nie.” “Here, ek is so moeg.”
Onthou, jou gebede hoef nie te klink soos iets uit ’n teologiese handboek nie.
Hierdie soort gebed gee nie voor nie en maak ook nie dinge mooier as wat dit eintlik is nie, dit maak dit waar. En dis juis daar waar God ontmoet. Eerlikheid skep ruimte vir genade, want dit erken dat jy nie jou eie Verlosser is nie. Hierdie gewoonte leer jou dat gebed nie prestasie is nie, maar verhouding.
2. Lees die Bybel stadiger en sonder die konstante skuldgevoelens
Baie gelowiges het ’n ingewikkelde verhouding met Bybellees. Ons weet dis belangrik, ons wil dit doen, maar êrens langs die pad het dit verander in iets op ’n Christelike te-doen-lys. Jy’s óf agter, óf jy doen dit “nie genoeg nie”, óf jy voel skuldig omdat jy nie onthou wat jy gelees het nie.
In 2026 kan jy dalk iets radikaals probeer: lees minder, maar met meer aandag. In plaas van drie hoofstukke op ’n gejaagde manier, lees ’n paar verse. Bly daar. Lees dit weer. Let op wat jou pla, wat jou tref, wat jou laat wonder.
Die Bybel is nie ’n boek wat jy moet klaarkry nie. Dis ’n storie waarin jy stadig gevorm word. Stadige lees leer jou om te luister, nie net om in te neem nie. Dit herinner jou dat God nie haastig is nie en dat jy dit ook nie hoef te wees nie.

- Maak rus ‘n geloofsdaad, nie ’n beloning nie
Ons leef in ’n wêreld waar rus iets is wat jy “verdien”. Eers werk jy jouself poegaai, dan, as daar tyd oorbly, mag jy rus. Maar die Christelike geloof draai dit om: rus is nie ’n beloning vir harde werk nie; dit is ’n verklaring van vertroue.
Om te rus sê: Ek glo God hou aan werk, selfs wanneer ek ophou. In 2026 kan jy oefen om rus te sien as iets heiligs, nie iets lui nie. Dit beteken dat jy soms jou foon moet wegsit. Dat jy nee sê vir nog ’n taak. Dat jy jouself toelaat om net teenwoordig te wees sonder om produktief te voel.
Rus herinner jou daaraan dat jou waarde nie lê in wat jy doen nie, maar in wie jy is. Dis ’n geloofsdaad in ’n wêreld wat jou wil oortuig jy is net so goed soos jou uitset.
- Oefen dankbaarheid sonder om jou pyn weg te verduidelik
Dankbaarheid word soms verkeerd verstaan as ’n manier om dinge mooier te maak as wat dit is. “Wees net dankbaar” kan maklik klink soos “moenie so voel nie.” Maar ware dankbaarheid ontken nie pyn nie, dit leer jou eerder om lig raak te sien te midde van dit.
In 2026 kan jy ’n eenvoudige gewoonte aanleer: elke dag een oomblik van dankbaarheid. Nie iets groot nie, maar iets eg. Soms is dit ’n gesprek. Soms is dit ’n lekker koppie koffie of heerlike bord kos. Soms is dit net dat jy deur vandag gekom het.
Dankbaarheid vorm jou uitkyk. Dit maak jou nie blind vir swaarkry nie, maar dit keer dat swaarkry alles word wat jy sien. Dis ’n sagte, volgehoue oefening om te glo dat God se goedheid nie afwesig is nie, selfs wanneer alles nie reg is nie.
- Wees sagter met mense (veral waar dit maklik is om hard te wees)
Die wêreld beloon skerp menings en vinnige reaksies. Sosiale media maak dit maklik om te reageer sonder om te luister, om mense te reduseer tot standpunte en om altyd iets te sê.
Een van die mees teenkulturele gewoontes vir gelowiges in 2026 is sagtheid. Dit beteken jy kies soms om nie te reageer nie (jy luister meer as wat jy reageer). Jy vra eerder ’n vraag as om ’n punt te maak. Jy onthou dat daar ’n mens is agter elke opinie.

- Leer om grense te stel sonder om skuldig te voel
Baie gelowiges leef met die idee dat goeie mense altyd beskikbaar is, altyd moet help en altyd ja sê. Maar ’n lewe sonder grense raak gou ’n lewe sonder vreugde… en sonder energie om regtig lief te hê.
In 2026 kan jy oefen om jou grense raak te sien as iets geestelik, nie selfsug nie.
Grense help jou om getrou te wees met wat jy wel kan gee, eerder as uitgebrand te raak deur alles te probeer doen. Om nee te sê kan ’n daad van gehoorsaamheid wees, ’n erkenning dat jy nie God is nie en dit ook nie hoef te wees nie.
- Dien klein, sonder applous
Ons droom maklik van groot impak en sigbare verskil. Maar die meeste geestelike groei gebeur in klein, onopvallende dade. Dinge wat niemand afneem of deel nie.
In 2026 kan jy oefen om klein dade van diens raak te sien: ’n WhatsApp om te vra hoe dit regtig gaan, ’n ete vir iemand wat swaarkry, ’n gebed wat niemand anders hoor nie. Hierdie dinge verander dalk nie die wêreld oornag nie, maar jy leef jou roeping uit as Jesus se hande en voete op aarde.
- Vertrou dat God reeds aan die werk is (selfs in jou gemors)
Miskien is die belangrikste gewoonte van almal hierdie een: om te glo dat God nie wag vir jou om eers “reg” te word nie.
Mag jy in 2026 oefen om God raak te sien waar jy self nog onvoltooid voel. In jou vrae. Jou herhalende foute. Jou halfpad-pogings. Die geestelike lewe is nie ’n reguit lyn nie. Dis ’n U-draai, weer en weer, na die waarheid dat God nader is as wat jy dink.
Hierdie vertroue bevry jou van die druk om alles reg te kry. Dit leer jou om te leef vanuit genade, nie vir genade nie. En dalk is dit die enigste voorneme wat werklik hou.

Miskien is dit wat 2026 regtig vra: nie nóg meer moeite nie, maar meer vertroue. Vertroue dat God nie wag vir alles om eers reg te wees voordat Hy begin werk nie. Dat genade nie die eindpunt van die geloofslewe is nie, maar die beginpunt.
Wanneer die jaar weer skeefloop, want (spoiler alert!) dit sal, mag hierdie gewoontes jou herinner dat God reeds daar is. In elke opgee, in die herhalende foute, in die dae wat nie mooi uitwerk nie.


