AI: Dié rubriek is nie 100% deur my geskryf nie…

👤 Wilmi Wheeler

Daar is ’n groeiende tendens in moderne kommunikasie —
waar sinne gladder vloei —

waar idees skerper geformuleer word —
waar emosies net-net reg gekalibreer is —

waar elke paragraaf perfek afrond —
sonder foute — sonder hakkels — sonder menslikheid.

Dis professioneel.

Dis indrukwekkend.

Dis effektief.

En tog… voel iets vreemd bekend.

Kom ek vra jou gou reguit: Het jy iets opgelet?

Daai eerste paragraaf… hoe mooi dit vloei. Hoe netjies dit gebou is. Hoe elke sin amper te korrek klink…

Was daar dalk ’n klein stemmetjie iewers agter in jou kop wat gemurmureer het: “Hierdie klink nie heeltemal eg nie… hierdie klink soos AI.”

Ek hoop so.

Want ek het dit nie geskryf nie. ChatGPT het. En dis presies die punt…

Vrywaring: Ja… iewers tussenin al hierdie woorde gaan jy ’n paar taalfoute raaklees. Dit is nie per ongeluk nie. Ek probeer om ’n punt maak. Geniet hulle gerus.

Klink ons stemme nog eg? Of polish ons dit dat dit byna onherkenbaar is?

Ons as kommunikasie span van die sinode was onlangs by die Leiers wat droom-gespreksessie in Bellville. Hier het Johan Smith en Stephan Joubert gepraat. Ek het ingegaan en gedink ons gaan praat oor visie, hoop en oor die groot dinge wat in die toekoms voor ons lê. Tipiese leierskapdinge.

Maar iewers gedurende Stephan Joubert se praatjie het hy iets gesê wat my regop in my stoel laat sit het: “Ek hoor nie meer mense se harte nie… ek hoor ’n gepoleerde weergawe.”

Sjoe? Dit het my getref op ’n plek waar ek nie heeltemal gemaklik is nie.

Want kyk, ek werk met woorde. Ek leef half op sosiale media. Ek skryf, ek redigeerr, ek dink heeltyd oor hoe iets “land” by mense. En as ek eerlik moet wees… dan is daai versoeking om dinge net so klein bietjie mooier te laat klink, altyd daar:

  • Laat ek net vinnig dit deur ’n AI tool gooi.
  • Ag, net gou gou hierdie paragraaf upgrade.
  • Mos net om seker te maak dit klink slim genoeg, diep genoeg of professioneel genoeg.

En, skielik daarna klink jy… indrukwekkend. Maar ook ’n bietjie soos almal anders.

Dit is die ding wat my die meeste pla: Alles begin deesdae dieselfde klink.

Maatskappye se captions? Dieselfde vibe.
Entrepreneurs se posts? Dieselle frases.

Selfs Whatsapps en e-posse? Netjies. Vriendelik. Effens generies.

Dis asof ons almal toegang het tot dieselfde “perfekte stem”… en ons gebruik hom met gierigheid.

En ja, kom ons sê dit sonder om doekies om te draai: Kunsmatige intelligensie maak ons lewens makliker. Dit help ons om te dink. Dit help ons om ons gedagtes agter mekaar te kry waneer ons nie weet hoe om iets te verwoord nie. Dit help ons om vinniger te werk.

Maar hier’s die ongemaklike vraag wat daardie oggend in Bellville in my binneste geborrel het: Wanneer hou AI op om my te help… en begin dit my vervang?

Want daar is ’n verskil. En ek dink baie van ons het daai lyn al oorgesteek sonder om dit eers agter te kom…

Hierdie generiese taal van AI het ook ’n impak op hoe ons ons geloof verwoord

Dit is nie net ons taalgebruik wat verander nie, die manier waarop ons praat oor ons geloof skuif ook daarmee saam.

Ons raak gewoond daaraan om die regte goed te sê op die perfekte manier. Ons maak nie meer spasie vir gebede waarin ons hakkel of te veel um en ah sê nie. Daar’s net plek aan tafel vir die mooi gebede. Die netjiese non-offensive teologie. Die tipe sinne wat klink soos dit op ’n plakkaat in die konsistorie hoort.

Maar as jy gaan blaai deur die Bybel… dis nie hoe dit daar werk nie.

Nie al die Psalms is mooi nie. Baie van hulle is morsig en eerlik. Partykeer ongemaklik eerlik.

  • “Here, hoor hoe ek sug.” (Psalm 5)
  • “Hoe lank nog, Here?” (Psalm 13)
  • “My God, moet tog nie so ver van my af wegbly nie?” (Psalm 22)
  • “Help my, o God!” (Psalm 3)
  • “Ek is uitgeput van verdriet, ek huil die hele nag deur.” (Psalm 6)

Hierdie woorde van David is nie gepolish nie. Dis rou. Dis mens. En tog… dis presies die tipe gebede wat God laat opteken het. Juis omdat hulle nie perfek is nie, maar eerder so, so eg.

Ons dink partykeer God soek die regte woorde, maar Hy soek eintlik die regte hart. En jy kan nie jou hart outsource na ChatGPT of Claude nie.

AI

Hoe klink jou eie stem in die era van AI?

Ek het ná die gespreksessie begin dink oor my eie skryfwerk. My eie stem. En daar is goed wat my ongemaklik maak.

Daai sinne wat amper te perfek lees.

Daai oomblikke waar ek voel: ChatGPT het dit nou soveel beter as ek gesê.

En dan wonder ek: as iemand wat my ken dit lees… hoor hulle my? Of hoor hulle net ’n beter weergawe van my?

Want mense kan dit aanvoel. Hulle hoor wanneer iets geleef is… en wanneer iets net mooi saamgestel is. En ek dink dis wat Stephan oor gelowiges in ‘n moderne wêreld wou sê. Dat dit nie net lê in wat jy sê nie, maar in hoe eg jy dit sê.

So ja, gebruik die tools. Gebruik die tegnologie. Dis nie die vyand nie.

Maar moenie jou stem daarvoor verruil nie. Moenie so gewoond raak aan gepolishde woorde dat jy vergeet hoe jy klink as jy net… wel, jy is nie. Want aan die einde van die dag het God nie ’n perfekte, gepoleerde stem sonder spelfoute of te veel uhm’s en ah’s nodig nie.

Hy soek jou stem.

Nes dit is.

Deel hierdie inhoud met jou mense!
Lees ook: