“Andrew gee nuwe blik op geskiedenis van die kerk.”
👤 Wilmi Wheeler
Dr. Andrew Kok, die NG Kerk se eie meester-argivaris en bobaas bakker, begin binnekort aan ’n nuwe hoofstuk in sy lewe – maar voordat hy vertrek, vier ons sy merkwaardige bydrae.
Onder sy leiding was die Argief nie net ’n plek waar dokumente bewaar word nie, maar ook ’n ruimte waar stories tot lewe kom en mense geïnspireer word om met nuwe oë na die kerk se geskiedenis te kyk. Of dit nou by planne beraam, blomme rangskik of grappies vertel was, Andrew het sy span geïnspireer om meer as net ’n werkplek te hê.
Pieter van der Walt en Lizelle Smit het hierdie huldeblyk geskryf as ’n getuienis van die groot verskil wat hy gemaak het.
Pieter van der Walt: “Andrew laat die Diensgroep op ʼn beter plek as toe hy daarby aangesluit het.”
Ons groet ons kollega, Dr Andrew Kok, wat einde November aftree, met ʼn gevoel van verlies, maar ook met agting en waardering vir die rol wat hy die afgelope jare in ons werksomgewing gespeel het.
Andrew het die Argief ontwikkel tot ʼn veilige bewaringsruimte, maar met die doel om inligting te ontsluit en ons historiese bewussyn te versterk. Met sy kundigheid op die terrein van kennisbestuur – hy het sy doktorale werk in hierdie veld gedoen – het hy toegesien dat inligting nie net veilig in kluise lê nie, maar beskikbaar gemaak word vir navorsing en verdere ontdekking. Argivale navorsers en teologiese studente getuig van die inspirasie en kundige ondersteuning wat hulle ontvang het tydens hulle besoeke aan die argief.
Andrew het sy insigte en vaardighede in kennisbestuur en historiografie ook in die Diensgroep Toerusting en Navorsing ingedra. Hy laat die Diensgroep op ʼn beter plek as toe hy daarby aangesluit het. Hy was déél van die span, het altyd saamgedink en onderskei en help planne maak.
Andrew, ons gaan jou mis by die Argief en in die gange van Communitas. Mag jy baie seën ontvang in die nuwe hoofstuk van jou lewe! Van die Diensgroep Toerusting en Navorsing.
Lizelle Smit: “Stug, sedig en verstok is seker wat mens assosieer met ’n argief. Te danke aan Andrew werk ons nie in so argief nie.”
Soos Pieter reeds genoem het, was Andrew ‘n besondere vaardige, kundige, vooruitdenkende en bekwame bestuurder wat die argief tot nuwe hoogtes gedryf het. Maar Andrew is ook ’n merkwaardige persoon en ek wil graag sy menswees beklemtoon terwyl ons hier in die argief van hom afskeid neem.
Te midde die verrigting van ons daaglikse take, ‘hou die argivarisse jolyt’, (met verskoning aan Boerneef). Andrew het ’n wonderlike sin vir humor en ons argiefpersoneel lag hard en gereeld so tussen die ontsluiting deur. Andrew se stories, kwinkslae en selfs poetse wat hy dan en wan gebak het ons werksruimte op allerlei positiewe maniere beïnvloed: dis lekker om in die argief te werk!
Andrew het nie net bestuur nie, hy het ook gedoen. Hy het sy personeellede gehelp op vele maniere. As ons moes blomme rangskik vir ‘n geleentheid, sou hy help; as ons moes reëlings tref vir geleenthede, het hy voortou geneem; as ons vasgehaak het met ons werk, sou ons sy raad vra; as daar gebak moes word, het Andrew, die bobaas bakker, iets vir ons feestafel voorberei en ons net laat aansit. Sy hande staan vir niks verkeerd nie en ‘n plan kan hy verseker beraam.
Soos ’n regte argivaris het Andrew homself daarin verlustig om ons bronne figuurlik af te stof en die kerk se verhale en verlede te herontdek. ‘n Rare boek wat geskenk word, het sy oë laat skitter en soos die res van ons argivarisse sukkel hy om dokumente weg te gooi. Dis hierdie eienskappe wat hom so ʼn goeie bestuurder gemaak het. Hy het die ou gesegde “onbekend maak onbemind” ernstig opgeneem en alles in sy vermoë gedoen om wat in die argief bewaar word weer bekend te maak sodat daar met ’n nuwe blik na die kerk se geskiedenis gekyk kan word en die waarde van die argivalia herondek kan word. Hy het sy personeel bemagtig om hul take te voltooi en passies na te jaag, en ’n omgewing geskep waarin ons kon floreer.
Stug, sedig en verstok is seker wat mens assosieer met ’n argief. Te danke aan Andrew werk ons nie in so argief nie.
Mag die Here se seën op jou en jou familie rus, Andrew! Dankie vir jou diens, maar bowenal, dankie vir jou menswees. Van die NG Kerkargief personeel.