Anika Bornman se wilskrag op wiele: “Ek staan nog steeds.”
👤 Ria Strydom
Dis haar hartlike breë glimlag en die vonkel in haar oë wat my eerste tref, nog voor ek die rolstoel sien. Hoewel Anika as gevolg van komplikasies met haar geboorte serebraal gestremd is, is sy ’n inspirasie – ’n ystervrou wat haar drome onvermoeid najaag.
Haar ouers het ’n groot aandeel in die entoesiasme waarmee sy die lewe aanpak. Sy is geleer om elke dag met dankbaarheid aan te pak en haar gestremdheid as leefwyse te aanvaar.
Na haar skoolloopbaan, waar sy akademies uitgeblink het, het haar pa by die Kaapse Technikon, waar daar nog nie voorsiening gemaak is vir gestremdes nie, daarop aangedring dat sy daar moet studeer, of hy gaan koerante toe! Anika het ’n graad in personeelbestuur verwerf en sy is tans besig om ’n TEFL-kwalifikasie te verwerf.
Dis nie haar gestremdheid wat die lewe vir haar moeilik maak nie, maar wel die reaksie van die samelewing op haar gestremdheid: “Ek het ’n broertjie dood aan mense wat vaskyk in my rolstoel en nie my as mens raaksien nie. Daar is ’n deel van God wat hy met jou eerste asemteug op aarde, in jou inblaas, en dit is wat mense in my moet raaksien.”
Anika is die afgelope jaar deur diep waters, maar sy getuig van God se teenwoordigheid. Sy hou vas aan Jesaja 43:2: As jy deur die water gaan, is Ek by jou; en deur die riviere – hulle sal jou nie oorstroom nie; as jy deur vuur gaan, sal jy jou nie skroei nie, en die vlam sal jou nie brand nie. (1953 vertaling) Sy glo dat sy soos Petrus op die water kan loop, solank sy haar oë op God gevestig hou.
Ek help haar met haar rolstoel, ’n baie ou model wat beter dae geken het en sy groet my met die woorde wat ek nooit sal vergeet nie: “Ek staan nog steeds. Al staan ek nie op die manier waarop ek gedink het ek sal staan nie, ek staan nog.”
Indien iemand dalk kan help met ’n skenking vir ’n rolstoel vir Anika, laat weet asseblief vir Ria Strydom by 084 203 2280.



