Bid vir Kuba: Hoop, volharding en geloof
👤 Daniël de Wet
Hierdie week bid ons vir die mense van Kuba, ’n eilandnasie met ’n komplekse geskiedenis, waar Christene ondanks moeilike ekonomiese omstandighede en politieke uitdagings, bly getuig van God se liefde en genade.
Kuba word dikwels internasionaal verbind met sy revolusionêre geskiedenis, ekonomiese isolasie en die langdurige gevolge van internasionale sanksies. Tog vertel die kerk in Kuba ’n verhaal van gemeenskappe wat mekaar dra en wat in moeilike omstandighede ’n lewende getuienis van hoop is.
Kuba verkeer tans in een van die ernstigste ekonomiese en humanitêre krisisse van die afgelope dekades. Tekorte aan brandstof, elektrisiteit, voedsel en noodsaaklike medisyne raak byna elke huishouding.
Teen hierdie agtergrond het ’n internasionale ekumeniese afvaardiging, bestaande uit leiers van onder andere die Wêreldraad van Kerke, Wêreld-Metodisteraad, die Wêreldgemeenskap van Gereformeerde Kerke en ander kerklike liggame, Kuba enkele weke gelede besoek. Die afvaardiging het met kerkleiers, plaaslike gemeenskappe en regeringsverteenwoordigers gesprek gevoer om eerstehands kennis te neem van die uitdagings waarmee die Kubaanse bevolking daagliks saamleef.

Tydens die besoek het die afvaardiging beklemtoon dat die wêreldkerk nie die mense van Kuba sal vergeet nie. Die sekretaris-generaal van die Wêreldraad van Kerke, prof. Jerry Pillay, het gesê dat hulle Kuba besoek het om die uitgadings eerstehands te beleef en die wêreld daaraan te herinner dat die mense van Kuba nie alleen staan nie. Die afvaardiging het besondere waardering uitgespreek vir die veerkragtigheid, hoop en geloof wat hulle in Kubaanse gemeentes en gemeenskappe ervaar het.
Die groeiende interkerklike samewerking in Kuba is bemoedigend. Kerke werk toenemend saam oor denominasionele grense heen om gemeenskappe op praktiese én geestelike vlak te ondersteun. Te midde van onsekerheid, tekorte en aanhoudende uitdagings bly die kerk in Kuba steeds ’n teken van hoop, volharding en geloof.
Bid asseblief saam:
- Bid vir vrede, stabiliteit en hoop vir die mense van Kuba.
- Bid vir genoeg voedsel, medisyne, elektrisiteit en basiese lewensmiddele.
- Bid vir predikante en gemeenteleiers wat mense daagliks geestelik en prakties ondersteun.
- Bid vir hospitale, klinieke en gesondheidswerkers wat onder moeilike omstandighede werk.
- Bid vir kerke om hul roeping met wysheid en moed uit te leef.


