Bly volhard soos (Comrades) atlete
👤 Wilmi Wheeler
Na sy eerste Comrades-marathon in 1978 kon Theo Swart daardie aand nie behoorlik eet nie.
Nie omdat hy te moeg was nie of omdat hy siek gevoel het nie, maar omdat hy letterlik nie ‘n mes en vurk kon vashou nie. “Van die hele dag se hardloop met gebalde vuiste was my spiere so seer dat dit onmoontlik was,” vertel hy.
Byna vyftig jaar later onthou hy steeds daardie oomblik.
Miskien omdat dit oor meer gegaan het as net spierpyn. Miskien omdat dit iets verklap van hoe baie van ons deur die lewe gaan met gebalde vuiste. Vasgeklou aan planne, beheer, prestasie en sekerheid. Asof dit alles van ons afhang.
En dalk is dit juis waarom vanjaar se Comrades-erediens by Parowvallei-Oos so treffend was.
Want die man wat sy eerste Comrades met gebalde vuiste voltooi het, het hierdie jaar hardlopers die pad ingestuur met ’n ander uitnodiging: Maak jou hande oop. Ontvang en onthou: Alles is genade.
’n Dominee met 27 Comrades-medaljes
Toe ek met ds. Theo Swart gesels, het dit gou duidelik geword dat hy nie oor die Comrades praat soos iemand wat bloot langs die pad gestaan en kyk het nie.
Hy het die wedloop 29 keer begin en 27 keer voltooi. Hy ken die langpad, die opdraandes, die teleurstellings, die herstel en die vreemde genade daarvan om net weer een voet voor die ander te kan sit.
Juis daarom dra die Comrades-erediens by Parowvallei-Oos soveel gewig. Dit is nie bloot ’n mooi idee vir hardlopers nie. Dit kom uit iemand se eie lyf, sweet en geloofspad.
Ja, die diens word vir hardlopers gehou. Ja, dit is gekoppel aan een van Suid-Afrika se grootste sportgebeurtenisse. Maar diep onder die tekkies, energiestafies en oefenskedules lê die menslike behoefte om herinner te word dat ons nie alleen op die pad is nie.

Theo Swart saam met Rooie Robbertse

Die storie agter die Comrades-eredienste
Die oorsprong van Parowvallei-Oos se Comrades-eredienste begin, ironies genoeg, nie in ‘n kerkgebou nie, maar tydens ‘n drafstappie. “Die idee is gebore tydens ‘n oefendraf vroeg in 2010,” vertel Theo. Hy en sy vriend, Wietse van der Westhuizen, het gehoor van ‘n kerkdiens vir atlete in Gauteng en het besluit om dieselfde in die Kaap te probeer. Wietse het saam met Theo in 1978 hul eerste Comrades gehardloop. “Hy is een van die mees ervare atlete en doen hierdie jaar sy 47ste Comrades sonder enige onderbreking!”
Theo was daai tyd nog leraar by Bellville-Uitsig, maar sou die Pinksterreeks by Parowvallei-Oos hanteer. Hy het nog vir ds. Leon Venter toestemming gevra om die diens aan die afsluiting van Pinkster te koppel en die gemeente het dadelik positief gereageer.
Wat begin het met ongeveer vyftien wit, Afrikaanse atlete uit een klub, het oor die jare gegroei tot ‘n byeenkoms waar meer as ‘n honderd hardlopers en meer as driehonderd mense saam aanbid. “Vanjaar se erediens is bygewoon deur atlete van meer as 20 klubs en was totaal inklusief en tweetalig, in lyn met Parowvallei-Oos se diens aan die gemeenskap.”
Vir Theo bevestig die groei iets belangriks. “Ek het dus min twyfel dat dit noodsaaklik, gewild, waardevol en nodig is.”

“Kom na My toe, almal wat moeg en oorlaai is”
Die teks vir vanjaar se diens kom uit Matteus 11:28, die alombekende: “Kom na My toe, almal wat moeg en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.”
Dit voel amper asof dié teks spesiaal vir die Comrades-marathon geskryf kon gewees het.
Toe ek vir Theo vra waarom hy juis dié gedeelte gekies het, lag hy amper oor die vanselfsprekendheid daarvan. “Die kans dat mens iewers op die roete van die Comrades moeg en oorlaai gaan wees, is baie goed!”
Maar hy wou hê die atlete moes hoor dat Jesus se uitnodiging verder strek as die kilometers tussen Durban en Pietermaritzburg. Theo wou ook die atlete herinner dat die wedloop net een voorbeeld is van die groter geloofsreis wat elke mens stap. Die uitdagings van die Comrades eindig by die wenstreep. Die uitdagings van die lewe doen nie altyd nie.

Daarom bly Jesus se uitnodiging relevant, lank nadat die medaljes uitgedeel is. “Die woorde van Jesus is elke dag waar en die uitnodiging bly altyd staan.”
Daar is iets treffend daaraan, veral wanneer ons dink in watter tyd ons leef. Ons leef in ‘n wêreld waar uitputting amper soos ‘n ereteken geword het. Mense is moeg. Fisiek. Emosioneel. Geestelik.
En tog is Jesus se eerste woord nie “probeer harder” nie. Dit is: “Kom na My toe.”
Die geestelike betekenis van oop hande
Die beeld van oop hande wat Theo in sy preek gebruik het, het nie by die Comrades ontstaan nie. Dit het gekom uit sy lees van Henri Nouwen se dagboekmeditasies. Terwyl hy voorberei het vir die diens, het hy telkens afgekom op Nouwen se klem op oop hande eerder as clenched fists.
“‘To pray means to open your hands before God,'” skryf Nouwen. “It means relaxing the tension that clenches your fingers together. Accept every moment – not as a possession, something to be defended or something to fight for – but received as a gift from God and to be shared. Live with open hands and celebrate the divine gift of being alive. Live with open hands to receive all His gifts and to be led by God. Do not try to hold and control everything in your own clenched hands. Live with open hands and with the trust that in the deepest of darkness God will be with you and give you peace.”
Dit het Theo teruggevat na sy eerste Comrades. Na daardie aand toe sy hande so seer was dat hy nie eers behoorlik kon eet nie. Na die besef dat ’n mens soms eers ná die wedloop agterkom hoe hard jy vasgeklou het.
Theo som die betekenis daarvan eenvoudig op: “Om met oop hande te leef, beteken om te verstaan dat alles genade is!”
Dit is waarskynlik een van die moeilikste geestelike lesse om te leer.
Ons wil beheer hê. Ons wil uitkomste bestuur. Ons wil weet hoe die storie eindig. Ons wil dinge vashou. Maar die evangelie leer ons om eerder te ontvang.
Daarom het elke atleet by die diens ‘n klein geskenkie ontvang om op sy of haar skoen vas te maak. Theo het hulle gevra om tydens die marathon elke 45 minute daarna te kyk, hul hande oop te maak en die woorde te herhaal: “Kom na My toe!”
Ek kan my amper die toneel voorstel. Tussen die sweet en die pyn. Tussen die skares en die stilte. Tussen die klim en die afdraandes. ‘n Atleet wat hul hande oopmaak en onthou dat hul nie alleen hardloop nie.

Theo sit ook een voet voor die ander
Daar is nog ‘n rede waarom Theo se woorde gewig dra. Hy praat nie vanuit die pawiljoen nie. Hy praat vanuit ervaring.
Na 24 agtereenvolgende Comrades-wedlope het hy met sy 25ste poging twaalf kilometer voor die eindstreep in ’n ambulans beland weens dehidrasie. “Dit was een van die grootste teleurstellings ooit!”
In 2003 het hy teruggekeer en sy 25ste Comrades voltooi. Hy het ook twee silwermedaljes agter sy naam, vir wedlope vinniger as sewe uur en dertig minute.
Maar daar was ook ’n ander, moeiliker pad. In 2004 het hy ’n ernstige rugoperasie ondergaan. Net voor die operasie was sy regterbeen heeltemal verlam en hy’t gedink hy sou nooit weer normaal kon loop nie.
Na die operasie het hy met ’n kierie weer begin loop.
En toe die lang pad terug. Stap vir stap. Kilometer vir kilometer. Deur baie genade, harde werk met rehabilitasie en van vooraf begin oefen, kon hy in 2005 en 2006 nóg twee Comrades-wedlope voltooi.
In 2007 het hy op 65 kilometer alle gevoel in sy bene verloor en moes hy ophou. Op mediese advies het hy daarna nooit weer verder as 21 kilometer gehardloop nie. Tog het dit hom nie van die pad af gehou nie. Hy het pas sy 17de Twee Oseane-halfmarathon en 20ste Rhodes-halfmarathon voltooi.
Selfs nou, op 70, hardloop hy nog vier keer per week en stap hy die ander drie dae. Vir 466 weke agtereenvolgens het hy reeds sy Vitality-fiksheidsdoelwit bereik!
Wanneer hy vandag oor hardloop praat, klink dit amper soos ’n geestelike dissipline.
“Ek het in 1977 begin hardloop en vir my is dit elke dag ’n geestelike oefening. Dit laat my elke dag my afhanklikheid van die Here besef en dat dit net genade is dat ek een voet voor die ander kan sit.”
Maar Theo se pad was nooit ’n alleenpad nie. Agter elke kilometer was daar ook mense wat saamgedraf, saamgedra en saam geglo het.
“Ek wil ook graag dankie sê vir al my hardloopmaats oor die jare,” sê Theo. “As dit nie vir hulle was nie, sou ek nie deur alles gekom het nie. Hulle het my nie net op die pad gehou nie, maar in baie gevalle ook op die regte pad. Daar is ’n klomp van hulle wat die afgelope tyd oorlede is en ek glo ek het ook die genade ontvang om hulle op die regte pad te help hou. Ook om saam met hulle op die pad te bly, tot aan die einde.”
Dit is dalk hoekom die Comrades-erediens so eg voel. Dit gaan nie net oor individuele uithouvermoë nie, maar oor mense wat mekaar langs die pad help aanhou.
Die Comrades is meer as net ‘n wedloop
Toe ek Theo vra wat hy hoop atlete hierdie jaar saam met hulle op die pad sal neem, was sy antwoord opvallend eenvoudig. “Ek hoop elke hardloper sit die spesiale geskenkie op hulle skoen en onthou dat alles net genade is!”
Dan voeg hy by: “Ook om te besef alles gaan nie net oor die Comrades nie, maar dat die hele lewe ‘n geskenk is wat mens met oop hande en dankbaarheid ontvang.”
Dalk is dit die mooiste beeld om saam te neem hierdie Comrades-naweek. Nie net duisende voete wat oor die teer beweeg nie. Maar hande wat stadig leer oopgaan.
Theo weet hoe dit voel om met gebalde vuiste te hardloop. Hy weet ook hoe lank dit soms vat om te leer dat geloof nie beteken jy moet harder vasklou nie, maar dat jy mag loslaat.
Daardie eerste Comrades het hom met hande gelaat wat nie ’n mes en vurk kon vashou nie. Byna vyftig jaar later stuur hy ander atlete die pad in met oop hande.
Oop genoeg om die lewe te ontvang. Oop genoeg om genade raak te sien. Oop genoeg om, selfs wanneer die lyf moeg en die pad lank raak, Christus se uitnodiging te hoor:
“Kom na My toe.”



