Dit was vroegoggend toe Francois Terblanche, ‘n lidmaat by NG Kerk Bellville-Vallei, besluit het om die kruise op die heuwel na die afdraai van die R60 tussen Robertson en Ashton af te neem.
Daar is ‘n Chinese spreekwoord wat lui: “Een foto spreek meer as ‘n duisend woorde.” Dit het Francois beleef toe hy besluit het om die kruise op drie tye van die dag af te neem: sonsopkoms, sonsondergang en selfs in die donker nag. “Ek het nie ‘n professionele kamera nie, net my selfoon, maar ek het geweet ek moes hierdie oomblikke vasvang. Ek het geweet die foto’s sou iets sou vertel wat ek nooit in woorde sou kon uitdruk nie – iets oor God se teenwoordigheid dwarsdeur elkeen van ons lewens.”
Die kruise tydens sonop
Die Saterdagoggend het Francois baie vroeg opgestaan om die foto te gaan neem. Hy vertel dat daar iets besonders was aan die stilte van daardie oomblik, asof die hele skepping in afwagting was vir wat sou kom. Die lig het stadig oor die landskap begin vloei en die kruis het in daardie eerste goue strale gestaan as ‘n teken van nuwe lewe, nuwe hoop. “Dit het my laat dink aan my eie lewe, aan God se teenwoordigheid toe ek gebore is. Net soos die kruis wat daar gestaan het in die eerste lig van die dag, so was God al van my eerste asemteug by my. Hy het oor my gewaak, my geroep om sy kind te wees.”
Die kruise wanneer die son sak
Later die middag, terwyl baie mense rugby gekyk het, het Francois weer sy selfoon opgetel en besluit om die kruis gedurende die sonsondergang af te neem. Die atmosfeer was anders – waar die oggend vars en nuut gevoel het, was daar nou ’n rustigheid. Die lig het sag oor die berge geval en soos die son se laaste strale op die kruis land, het Francois besef dat daar ‘n dag sal kom wanneer sy lewe ook tot ‘n einde sal kom. “Maar in daardie oomblik was daar geen vrees nie, net ‘n vrede in die wete dat die dieselfde God wat my aan die begin van my lewe geroep het, my ook aan die einde sal roep.”
Die kruise in die donker nag
Toe die nag swaar oor die kamp neergesak het, met die maan wat net so flou oor die horison gehang het, het Francois die kruise vir ‘n laaste keer gaan afneem – in die donkerte. Die kontras tussen die helder daglig en die donker nag was opvallend, maar dit was steeds dieselfde kruise. “Toe ek die foto’s neem, het ek besef dat dit presies dieselfde kruis is wat ek die oggend en middag afgeneem het. Die agtergrond het verander, maar die kruis het dieselfde gebly. En skielik het ek besef, dit is hoe God ook is.”
Die kruise bly dieselfde, dit is net die agtergrond wat verander
Soos Francois deur die loop van die dag die foto’s geneem het, het hy tot ‘n belangrike besef gekom: Die kruis bly dieselfde, of dit in die oggend of die aand is, dit is net die agtergrond wat verander. So bly God getrou en onveranderlik, maak nie saak wat die fase van ons lewe is nie.
In die helder lig van vreugdevolle tye, in die laaste oomblikke soos die sonsondergang en selfs in die donkerste ure van ons lewens, bly God presies dieselfde. Sy liefde verander nie met ons omstandighede nie. Of ons nou deur ‘n seisoen van vreugde gaan of deur ‘n tyd van hartseer, Hy bly getrou, Hy bly ons rots. Hy was by jou geboorte, Hy sal by jou wees wanneer jy jou laaste asem uitblaas en Hy is daar in elke donker uur tussenin.
“Dit het my hart warm gemaak om te weet dat, ongeag wat in my lewe gebeur, of hoe die agtergrond van my bestaan verander, God altyd daar sal wees. Die lig mag verander, die omstandighede mag rondskuif, maar die God wat ek dien, bly onveranderlik.”
Hierdie getuienis is deur Francois gedeel na sy ervaring by die Mighty Men Wes-Kaap-konferensie 2024.