Danelle Jordaan was meer as haar posbeskrywing

👤 Wilmi Wheeler

Daar is mense wat by ’n kantoor instap, hulle werk doen, e-posse antwoord, hul koffiebeker uitspoel en weer huis toe gaan.

En dan is daar mense soos Danelle Jordaan.

Mense wat nie net ’n pos vul nie, maar ’n atmosfeer skep. Mense wat jou laat weet wanneer jy nonsens praat, maar op so ’n manier dat jy steeds voel jy’s geliefd. Mense wat jou laat snorklag wanneer die dag lank raak, wysheid deel wanneer almal effens rigtingloos begin lyk en reguit praat wanneer die olifant in die vertrek al amper sy eie personeelkaartjie verdien.

Ná 10 jaar groet Danelle die sinode. Maar om dit net só te sê, voel bietjie flou. Want Danelle het nie bloot “by die sinode gewerk” nie. Sy het hier geleef. Sy het hier gegroei. Sy het hier verskillende rolle aangepak, mense help dra en waarskynlik meer kantoorstories versamel as wat enige amptelike notule ooit sal kan bevat.

Sy beskryf dit self só: “Ek het in ’n mate eintlik grootgeword by die sinode.”

So, die sinode was vir Danelle nie net ’n werkplek met mooi kantore, sinvolle vergaderings en mense wat soms heeltemal te veel reply-all gebruik nie. Dit was ’n plek wat haar gevorm het. ’n Plek waar ’n jong, pasgetroude vrou kon leer, val, opstaan, groei, ma word, nuwe vaardighede aanleer en iemand wees by wie ander kon kom sit.

Want Danelle het mense ontvang lank nadat sy fisies by ontvangs weg is.

Danelle Jordaan se 10 jaar by die sinode

Danelle het in 2016 voor by ontvangs begin. In haar eie woorde was sy toe ’n “vars, vars, vars getroude jong meisie.” Sy het waarskynlik nie toe al geweet hoeveel van haar lewe tussen hierdie mure sou gebeur nie. Dat sy hier drie kinders sou hê. Dat sy deur verskillende rolle sou groei. Dat kollegas later nie net oor haar werk sou praat nie, maar oor haar wysheid, haar integriteit en haar vermoë om mense raak te sien.

Miskien was ontvangs ’n goeie plek vir Danelle om te begin, want oor die volgende tien jaar sou “ontvang” amper ’n tema in haar lewe by die sinode word.

In 2017 skuif sy na dr. Braam Hanekom (Sentrum vir Publieke Getuienis) se kantoor as sekretaresse. In 2019 beweeg sy finansies toe. Aan die begin van 2023 is sy weer terug by dr. Braam en ná sy aftrede in 2025 beland sy by die mediese fondse en eiendomme se administrasie.

“Ek is so dankbaar vir al die geleenthede wat die sinode vir my gegee het,” sê sy. “Die sinode was baie-baie goed vir my. Ek het oor die jare ongelooflike ondersteuning gekry by ongelooflike kollegas. Ek het regtig net rede vir dankbaarheid.”

En dit sê dalk iets belangriks oor wat dit beteken om vir die kerk te werk.

Want wanneer iemand vir die kerk werk, is die werk selde net die werk. Onder die lêers, vorms, vergaderings en administrasie lê mense. Mense wat saam werk, saam lag, saam moeg raak en saam die klein en groot dinge dra wat bediening moontlik maak.

Miskien is daar iets mooi simbolies daarin dat Danelle se pad by ontvangs begin het. Want op ’n manier het sy nooit regtig opgehou om mense te ontvang nie. Nie net met ’n glimlag by ’n voordeur of ’n opgewekte telefoonoproep nie, maar met haar menswees.

En nou, ná 10 jaar, groet sy ’n plek wat vir haar veel meer as net ’n werkplek was.

“Ek is regtig hartseer om te gaan,” sê Danelle. “Die sinode is regtig ’n bitter lekker plek en ek is spyt ek kan nie langer in daardie mooi kantore werk nie.”

Danelle Jordaan

Kollegas onthou Danelle se warmte, wysheid en integriteit

Vir Lisa Human, eiendomsbestuurder, is Danelle ’n vuurvreter. “As personeellid was sy soveel meer as net haar posbeskrywing,” sê Lisa. “Sy was die sonskyn en die dryfkrag agter soveel van ons daaglikse glimlagte en sukses.”

Sy vertel verder dat Danelle ’n rare talent gehad het om dinge met styl, deeglikheid en sprankel aan te pak. “Sy het altyd ’n tikkie kreatiewe magic na die tafel gebring.” Met ander woorde: Die werk is gedoen, maar dit het nie nodig gehad om soos ’n strafkamp te voel nie.

“Sy het vir ons span gewys wat dit beteken om met jou hele hart te dien,” skryf Lisa. “Danelle, jy laat ‘n groot leemte agter, maar ons seën jou vir jou volgende groot avontuur. Mag hierdie nuwe seisoen op jou pad vir jou net soveel vreugde, opwindende uitdaging en kleur bring as wat jy vir ons gebring het. Jy is vir altyd deel van ons storie!”

Vir Annerina Viljoen, finansiesbestuurder, was Danelle ’n steunpilaar. “Sommige mense begin op ’n nuwe plek wanneer alles rustig, stil en amper vervelig is,” sê Annerina. “Danelle, daarteenoor, het by ons span aangesluit op die heel moeilikste tyd denkbaar en in plaas daarvan om iets te sê soos: ‘Ek dink ek het die verkeerde span gekies,’ het sy ons gedra.”

Annerina beskryf Danelle as iemand wat woorde kon gee aan dit wat almal gevoel het, maar nie self kon verwoord nie. “Sy het ’n vars perspektief gebring en het nooit teruggedeins om haar sê te sê nie. Altyd reguit, altyd met respek en altyd met mooi en suiwer bedoelings.”

Nog Iets wat vir Annerina opvallend is, is Danelle se wysheid wat ver bo haar jare strek. “Die soort insig en kalmte wat ’n mens gewoonlik verwag van mense veel ouer.”

Vir Annerina was Danelle ook iemand op wie ’n mens kon staatmaak. Maar die kern lê dalk in hierdie sin: “Bo alles het Danelle haar Christelike waardes nie net gepraat nie, sy het dit gelééf.”

Dr. Braam Hanekom onthou Danelle juis só. “Danelle, as ek aan jou dink, kom daar ’n paar woorde onmiddellik by my op,” sê hy. “Absolute integriteit, absolute betroubaarheid, hardwerkendheid, etiek, diepe geloof, maar daarmee ook ’n bereidwilligheid om op te staan vir wat reg is.”

Braam onthou ook dat mense maklik na haar toe gekom het. Dat hulle met haar gepraat het en dat hulle hul harte by haar oopgemaak het.

“Alhoewel sy nog bitter jonk was, was sy op ’n vreemde manier ook ’n moederfiguur in die gebou,” sê Braam. “Ek kan uit my hart sê dat ek haar menswees ontsettend waardeer.”

En miskien is dit waarom haar afskeid nie net soos ’n personeel-aankondiging voel nie. Dit voel soos die einde van ’n era in die klein, menslike sin van die woord. Die soort era wat nie in amptelike dokumente opgeteken word nie, maar wat mense onthou wanneer hulle by die kombuis verbyloop en dink: Danelle sou nou iets baie skerp kwytgeraak het.

Ná 10 jaar neem Danelle nie net ervaring saam nie. Sy neem goeie herinneringe saam, inside jokes, groei, moederskap, kollegas wat familie geword het. ’n Dekade se werk wat op papier beskryf kan word, maar in mense se harte eintlik beter opgesom word.

Danelle, jy was nie net ’n kollega nie. Jy was ’n hele kantoorklimaat. Soms sonskyn. Soms donderweer as dit nodig was. Dikwels ’n vars briesie. Altyd eg.

Jy laat nie net ’n oop stoel of ’n stiller kantoor agter nie, maar ’n spoor van hoe dit lyk wanneer iemand haar werk met haar hele menswees doen. Wanneer geloof nie net mooi klink nie, maar voete kry in e-posse, gesprekke en moeilike tye.

Mag hierdie volgende seisoen vir jou net soveel kleur, vreugde en genade bring as wat jy oor die afgelope tien jaar vir die sinode gebring het.

Deel hierdie inhoud met jou mense!
Lees ook: