NG Kerk Goudini sê: Dankie, Theresa – Welkom, Jonette!

👤 NG Kerk Goudini

Goudini-gemeente in Rawsonville staan aan die begin van ‘n nuwe era vir hul jeugwerk met die aankoms van Jonette Cronje, maar neem ook met dankbaarheid afskeid van Theresa Appel wat vir ‘n merkwaardige 21 jaar aan die stuur van die jeugbediening was. Theresa se lang en toegewyde diens het ‘n onuitwisbare merk op die gemeente gelaat; die kleuters wat onder haar leiding begin het, is vandag self mammas. Haar kreatiewe bydrae, diepgaande kennis van gemeentelede en die kerk se geskiedenis sal gemis word in die span.

Jonette, NG Kerk Goudini

Gelukkig vir die gemeente, verlaat Theresa nie die dorp nie en sal sy steeds ‘n aktiewe deel van die gemeenskap bly. Sy gaan nou haar fokus en energie toespits op gesinsbediening, ouerskap-opleiding en lewensafrigting vir individue. Die gemeente is saam met haar gesin dankbaar vir hierdie nuwe seisoen in haar lewe en veral dankbaar dat sy en haar gesin steeds deel van die Goudini-gemeente sal wees.

Met hierdie oorgang verwelkom die gemeente vir Jonette Cronje as die nuwe jeugwerker. Op 38-jarige ouderdom bring Jonette ‘n rykdom van ervaring en ‘n passie vir die ontwikkeling van jongmense en gesinne na die gemeenskap.

Jonette, ‘n ma van twee seuns, het haar studies in jeugwerk aan die Hugenote Kollege in Wellington voltooi en is reeds meer as 19 jaar in die jeugbediening werksaam. Sy het die afgelope 13 jaar in Jeffreysbaai gewoon en was ‘n integrale deel van daardie gemeenskap.

Voor haar skuif na Rawsonville was Jonette vir agt jaar deel van Global Leadership Academy (GLA), ‘n hoërskool in Jeffreysbaai. By GLA het sy ‘n sleutelrol gespeel waar die fokus was om dissipels te maak en leiers te vorm. Haar verantwoordelikhede het die emosionele gesondheid van leerders en personeel ingesluit, asook die emosionele ontwikkeling van tieners in ‘n voortdurend veranderende wêreld.

Haar eerste indrukke van die Rawsonville gemeenskap is oorweldigend positief. “Tot dusver is my ervaring in Rawsonville gemeenskap warm en positief,” sê Jonette. “Ek het ingevlieg gekom soos ‘n vreemdeling, en nog voor mense geweet het wie ek is, en die rol wat ek in die gemeenskap gaan speel, is ek met soveel gasvryheid ontvang.” Sy voeg by dat die Goudini-gemeente bekend staan as een wat “strek is, weet hoe om ‘n basaar te reel en goed saam doen.”

Jonette sien met verwagting uit na haar tyd in Rawsonville. “Ek sien uit na my seisoen hier, in die gemeente, ‘n seisoen waar Rawsonville huis kan word,” deel sy. Haar benadering tot jeugwerk is kreatief en gefokus op groei. “Dit is vir my lekker dat ons skep, van ‘n geleentheid tot ‘n ervaring, want dit is in die skeppings oomblik wat daar lewe, groei en verandering kan kom.”

Met Jonette Cronje aan die spits van die jeugwerk, kan die NGK Goudini Gemeente uitsien na ‘n opwindende nuwe hoofstuk, voortbouend op ‘n sterk fondament, en gevul met geleenthede vir jongmense om te groei in hul geloof en as individue.

Deel hierdie inhoud met jou mense!
Lees ook: