Ek’s moeg om te lewe van dashboard na dashboard

DJ Muller

Ek kyk deesdae byna met angs en bewing na my motor se paneelbord. Daardie A.F.C.-syfertjie… Ek kry dié getal net nie beter nie, al probeer ek hoe hard.

Dan is daar iewers ’n Vitality-sensor wat my óók dophou. Rem ek te hard? Versnel ek te vinnig? Vat ek die draai egalig genoeg? Nóg ’n dashboard!

Ek sit by die verkeerslig en wag dat die lig groen slaan … bzzz … bzzz teen my arm: “It’s time to stand up.” Volgens my horlosie het ek, van my mikpunt om gedurende 12 ure elke uur op te staan, nog net vier keer opgestaan. Dan vang my oog my “activity rings”. Hulle is nog ver van vol. Nóg ’n dashboard!

Ek stop by die vulstasie en gooi brandstof in. “Môre styg die prys; ek moet liewer volmaak,” dink ek. Nadat ek betaal het, kry ek ’n boodskap: “Well done for achieving your spend goal.” Regtig? Nóg ’n dashboard!

Ek proe sommer ’n bitter smaak in my mond. Is dit die petrolprys? O, nee, wag! Ek het vergeet om vroeg vanoggend tande te borsel. Nadat ek die kinders by die skool afgelaai het en by die huis gekom het, haas ek my na die wasbak in die badkamer. Ná 120 sekondes met die tandeborsel in my mond vibreer dit. Nou kan ek maar ophou borsel. Selfs my tandeborsel stel doelwitte vir my.

Iewers kom ’n D6 deur (as jy kinders op skool het, sal jy verstaan). Facebook beloon my vir ’n goeie post. Google laat weet dat my reviews hierdie maand 1 200 meer mense as verlede maand gehelp het om goeie keuses oor pizza-eetplekke te maak. Die kerkkantoor stuur die opgedateerde koorspenprentjie van die fondsinsameling.

Nóg ’n dashboard.

Skielik voel ek moeg, sielsmoeg! Ek het só min motivering vir die dag dat ek op die stoep gaan sit en my frustrasie in ’n koppie rooibostee verdrink. Miskien bring dit kalmte, want tee kan nie meet nie. Dit praat wel soms tee!

In my binneste skree alles net: “STOP!”

Hou op om my lewe op ’n dashboard aan my terug te kaats. Hou op om my te meet!

Metings is natuurlik nie verkeerd nie. Sonder maatstawwe sou vliegtuie nie veilig kon vlieg nie, hospitale nie hul gehalte kon verbeter nie en sport geen rekordboeke gehad het nie. Die probleem ontstaan wanneer die instrument, die dashboard, ons identiteit word.

Edward Deci en Richard Ryan se Self-Determination Theory toon dat mense floreer wanneer drie basiese behoeftes gevoed word: outonomie, bekwaamheid en verbondenheid. Wanneer ek egter voortdurend deur eksterne tellings, punte en ranglyste aangespoor word, begin my innerlike motivering kwyn. Ek doen dinge nie meer omdat dit betekenisvol is nie, maar omdat dit gemeet word.

Nog ontstellender is wat navorsing oor sosiale vergelyking al dekades lank toon. Leon Festinger het reeds in die 1950’s beskryf hoe mense hulself voortdurend aan ander meet. Vandag maak tegnologie dit nie net makliker nie; dit doen dit onophoudelik. Elke toepassing dra subtiel dieselfde boodskap oor: “Jy kan nóg beter.”

Ons het ’n samelewing geword waarin “goed genoeg” amper soos mislukking voel.

Daar is selfs ’n naam hiervoor. Sielkundiges praat van die “quantified self”, die neiging om ons lewens met behulp van data te verstaan en te bestuur. Dit kan gesond wees, maar dit hou ook ’n gevaar in: dat ons begin glo ons ís die grafiek; dat ons waarde gelyk is aan ons telling.

Die ironie is dat baie van die belangrikste dinge in die lewe nie gemeet kan word nie…

Hoe meet jy die pa wat vanaand sy selfoon neersit en net na sy kind luister? Hoe bereken jy die waarde van ’n vriend wat in ’n tyd van verlies stil langs jou sit? Watter algoritme bepaal die sukses van ’n onderwyser wat een leerder laat glo dat sy wel iets werd is?

Geen slimhorlosie het nog ’n ring vir deernis nie.

Geen toepassing gee punte vir geduld nie.

Geen prestasieverslag meet nederigheid, wysheid of genade nie.

En tog is dit juis hierdie dinge wat uiteindelik betekenis aan ’n mens se lewe gee.

Die gevaar van ’n prestasiegeoriënteerde kultuur is nie net dat ons moeg raak nie. Dit is dat ons vergeet hoe om sommer net te wees: om ’n gewone werknemer te wees wat eerlik werk; ’n gewone ouer wat sy kinders liefhet; ’n gewone lidmaat wat getrou dien sonder die behoefte aan ‘n applous.

Gewoonheid het byna taboe geword, asof elke lewe uitsonderlik, elke kind buitengewoon en elke dag optimaal moet wees.

Maar miskien lê die grootste vryheid juis daarin om te ontdek dat ons nie in alles hoef uit te blink nie.

Die Bybel beskryf God selde as iemand wat mense volgens prestasietabelle beoordeel. Hy sien die weduwee se twee muntstukke raak. Hy kies vissers bo bekendes. Hy noem Dawid “’n man na my hart” lank voordat Dawid se CV indrukwekkend was. Jesus nooi vermoeides na Hom toe, nie omdat hulle hul teikens bereik het nie, maar juis omdat hulle moeg geword het onder die las om hulself te bewys.

Miskien behoort ons onsself elke nou en dan af te vra: As al my tellings môre verdwyn, my Vitality-punte, my “step counter”, my prestasiegradering, my volgelinge op sosiale media en selfs my motor se brandstofverbruiksyfer, wie sal ek dan wees?

Wie sal JY wees?

Deel hierdie inhoud met jou mense!
Lees ook: