Delft? Kan daar iets goed uit Delft kom?

Ria Strydom

As gemeentelid van NG La Rochelle was ek een van die gaste by ds. Pieter Grove se afskeidpreek in VGK Delft. Op pad kerk toe, verdwaal ons tussen maer honde en koeie langs die pad, rommel in strome vuil water tussen eenvoudige huise. Alles tekens van swaarkry wat my eerste indruk van Delft kleur. Ek besef later hoe vinnig ’n mens uit dit wat jy langs die pad sien, ’n hele storie oor ’n plek in jou kop begin skryf.

Maar met my eerste tree in die kerkgebou met mentgroen binnemure, kom die woord “pristine” in my gedagtes. Die kontras tref my. Nog meer die besef dat my eerste indruk van Delft maar ’n baie klein deel van die storie vertel het. Die kerkgangers kan een en almal deur ’n ring getrek word. Deftige baadjiepakkies vir die vroue en mans in kerkpakke met skitterwit hemde en dasse met die VGK-logo. Ek sien blinkgeskropte dogtertjies in regte kerkrokkies en jongmense wat modern en gepas vir kerk aangetrek is. Die koor, professioneel in koordrag geklee, sing hemelsmooi ou liedere in nootvaste sterk stemme.

Delft, Pieter Grove

Ds. Grove met sy toga loop verby die kateder tot bo-op die preekstoel. Hell and brimstone-kleintydherinneringe laat sak my outomaties bietjie laer af in my stoel. Dit word egter gou duidelik dat die Woord vandag formeel, maar in liefde en met persoonlike kontak met sy gehoor, bedien gaan word. Alhoewel ons vandag in ‘n statige kerkborrel in Delft na die Woord luister, is dit duidelik nie hoe ds. Grove voel ons die pad moet loop nie: “Ons kan nie ons kinders agter hoë heinings hou en voel hulle is veilig daar nie. Ons kan nie nét vir die kerk werk nie. Die challenge is daar buite, dis waar ons werk is.”

Na afloop van die preek kry elke bediening die kans om ‘n persoonlike afskeidwoord vir ds. Grove te gee. Die Kinderbond, Sondagskool, Dissipelskapgroep, die Brigade, die mannebediening, die vrouebediening, die Kerkraad, ons as gaste – streng onder Broer Hennie Adonis se wakende oog, niks langer as twee minute nie, hy tel af. Maxine van die Dissipelskapgroep is duidelik bewoë, maar sy sluk dapper haar trane en vertel vir ds. Grove hy was soos haar pa. Dankie vir die uitstappies, dankie dat hulle met hom kon deel wat hulle nie eens met hul eie ouers kon deel nie. Ds. Grove leun vooroor op sy stoel en skryf elke afskeidwoord sorgvuldig neer en staan op vir handdrukke wat spontaan in drukkies oorgaan.

Die seremonie is verby, maar ons groet nog nie. Die kostafels word eers in gereedheid gebring. Opdienbakke loop oor van skywe skaapboud, gebraaide hoender, goudbruin braai-aartappels, geelrys, soetpatats en groente in witsous. ‘n Feesmaal. Die gaste word eerste bedien en kry ‘n ereplekkie aan ds. Grove se tafel. Ek skuif reg, want ek het vrae.

Ds. Grove het in Worcester grootgeword as een van agt kinders van ‘n meesterbouer-pa en tuisblyma, aan wie hy baie geheg was. In die geskiedkundige jaar van die Soweto-opstande, 1976, matrikuleer hy. As leier van die CSV het verhale oor die opstande en die dood van Hector Peterson hom in so ‘n mate ontroer, dat hy ‘n CSV gebedsbyeenkoms byeengeroep het. Die veiligheidspolisie het opgedaag en hom in hegtenis geneem. Vir ‘n volle maand lank was hy in aanhouding tussen geharde misdadigers. Hy vertel oor hierdie onreg sonder enige bitterheid, inteendeel, hy glo dit het hom gevorm tot die mens wat hy vandag is.

Sy loopbaan as predikant begin in Kommagas naby Springbok, waar sy drie kinders grootgeword het. Daarvandaan is hy na VGK Sarepta en hy het sy bediening vir die laaste agt jaar as emiritusleraar by VGK Delft voltooi. Dis egter nie die einde van sy roeping nie. Hy beplan ‘n doktorale tesis oor die etiek van die ekonomie.

Natanael het in Johannes 1:46 gevra of daar iets goed uit Nasaret kan kom. “Kom kyk,” het Filippus hom geantwoord. Jy sal met ope arms verwelkom word. Broer Hennie sal vir jou die hek oopmaak, Lene sal vir jou ’n innige drukkie gee en die kostannies sal seker maak dat jy van buite ook verkwik sal word na die diens. Jy sal as ’n ander mens daar uitstap en weer wil kom kuier.

Ds. Pieter Grove was ook ‘n rolspeler by die Belydende Kring.

For over half a century, the story of the Belydende Kring lived scattered across South Africa… in garages, boxes and memories. The Confessing Circle of the Dutch Reformed Churches in South Africa was born out of conviction in a time of injustice.

They sought to proclaim the Kingship of Christ over every corner of church and state – and to stand against the machinery of apartheid. But, this legacy was in danger of disappearing.

Now, for the first time, their story is being preserved, told and remembered.

Deel hierdie inhoud met jou mense!
Lees ook: