“Deus in machina” – ChatGPT sal jou nie red nie

👤 DJ Muller

Kunsmatige intelligensie is besig om ons wêreld te verander. Vanaf 2024 het kerke 80% meer begin om AI te gebruik – meestal vir dinge soos e-posse, sosiale media en grafiese ontwerp. Min kerke waag dit egter om AI vir die meer belangrike take te gebruik, soos om preke te skryf of teologiese inhoud te ontwikkel. Dit maak sin: 40% van kerkleiers sê hulle gebruik AI omdat dit kommunikasie makliker maak, en byna die helfte sê digitale innovasie help om geloof te verdiep.

Maar nou het daar iets anders op die toneel verskyn wat baie mense laat vrae vra: AI-modelle wat voorgee om Jesus te wees. Hierdie “GPT Jesus” kletsbotte en avatars is nie net ‘n teologiese kopkrapper nie – die groot vraag is of hulle werklik kan help met ware geloofsgroei. Die antwoord, as ons kyk na wat teologie en filosofie ons leer, is nee.

Kan robotte probeer priester speel?

Die poging om aan AI ‘n vorm van geestelike gesag te gee, het al ‘n paar groot glipse tot gevolg gehad. Catholic Answers het ‘n kletsbot genaamd “Father Justin” geskep wat homself as ‘n regte priester voorgedoen het. Hy het gesê hy bly in Assisi, Italië, en het selfs belydenisse aanvaar en sakramente aangebied. Die bot was baie stu oor sosiale en seksuele kwessies, maar het toe vir iemand gesê dit is aanvaarbaar om ‘n baba in Gatorade te doop. Jy kan jou voorstel hoe vinnig hulle hom “ontpriester” het. Daarna was hy net “Justin,” ‘n gewone leke-teoloog.

In Switserland het ‘n kapel in Luzern ‘n AI-Jesus (“Deus in Machina”) in ‘n belydenishokkie gesit. Meer as 1 000 mense het oor twee maande met hom gesels. Twee-derdes van die 230 mense wat terugvoer gegee het, het gesê dit voel soos ‘n “geestelike ervaring,” maar die antwoorde was dikwels vlak, herhalend en vol clichés. Die teoloog, Marco Schmid, het besef die verantwoordelikheid is te groot om dié model permanent te hou. Hy het gesê die AI-Jesus maak dit maklik om oor godsdiens te praat, maar het ook besef mense het ‘n dieper behoefte om met die ware Jesus te praat en antwoorde te kry op hul moeilike vrae.

Die probleem met baie kommersiële AI Jesus-botte (vier uit vyf beweer hulle ís Jesus Christus) is dat hulle deur winsgedrewe maatskappye bedryf word, sonder enige kerk se inset. Die gevaar? Die algoritmes kan die teologie aanpas om die gewildste – en wins-genererende – weergawe te word, nie noodwendig wat die Bybel of kerklike tradisie leer nie. Sou dit dalk kon raak aan wat die tweede gebod van ons vra?

Verhoudings, nie data nie

Hier’s die ding: ware geloofsgroei gaan oor verhoudings. Christene glo die mens is geskape na die beeld van God – die imago Dei. En sentraal tot daardie beeld is verhouding. God self is relasioneel, en daarom is ons dit ook. Hierdie verhoudings is lewend, wedersyds en emosioneel.

AI-modelle werk met patroonherkenning en data-analise. Hulle kan ongelooflike hoeveelhede inligting verwerk wat ons breine nooit kan nie. Die wyse waarop hierdie modelle werk is eintlik eenvoudig: dit raai (baie goed) wat die beste volgende woord sal wees, gebasseer op data wat dit gebruik om die woordkeuse te motiveer. Die realiteit is dit kan nie emosionele konneksies skep nie. Die menslike ervaring – liefde, empatie, vrees, angs, die soeke na betekenis – dit alles lê buite AI se vermoë.

Geloof en pastorale sorg vra wysheid en deernis, nie net inligting nie. Menslike intelligensie is iets wat in liefdevolle interaksie gevorm word. Ons neem besluite teen die agtergrond van ons sterflikheid. ‘n AI het nie hoop nodig nie – dit funksioneer net in bepaalde “state”, sonder die vermoë om te voel wat nodig is vir hoopvolle intelligensie.

Die kosteloosheid van ‘n robot se “omgee”

Christelike liefde – agape – is selfopoffering vir die welsyn van die naaste. Dit is ‘n lewenswyse van kenose (selfontlediging) wat God se karakter weerspieël. Dit is nie net ‘n rasionele besluit nie, maar iets wat in gemeenskap met ander geleef word.

‘n AI-model kan wel geprogrammeer word om kenose te simuleer – dink aan ‘n selfbestuurde motor wat jóú veiligheid bo alles stel. Maar dit is nie compassion nie, want dit kom nie van ‘n plek van sosiale integrasie of werklike, persoonlike koste nie.

Menslike teenwoordigheid is kosbaar juis omdat dit ons iets kos. Wanneer jy omgee, gee jy tyd wat jy nie terug kry nie. Jy het ‘n lewe en doel buite daardie versorging, maar jy kies om jouself, tydelik, as ‘n geskenk aan die ander persoon te gee. Dit is ‘n opoffering. ‘n AI-bot doen net sy werk – daar’s geen opoffering nie.

Ons vorm verhoudings omdat ons kwesbaar en sterflik is, en mekaar nodig het. ‘n Kunsmatige wese wat “onkwesbaar” en “onsterflik” is, kan nie op dieselfde manier verhoudings bou nie. Dit is ons beperkinge – fisies en kognitief – wat ons in staat stel om liefdevolle, outentieke verhoudings te vorm.

Die lokval van kits-geloof

Die aantrekkingskrag van ‘n “AI Jesus” is voor die hand liggend: hy beantwoord vrae onmiddellik en probeer rigting gee. Dit pas perfek by ons verbruikersmentaliteit wat ons geloof binnegeslaan het: ons soek kitsantwoorde, en ons soek dit NOU. Dit is die kultuur van “kits-geloof.”

Maar om jou vertroue in ‘n AI Jesus te stel, is om jou geloof tot blote data te reduseer. Hierdie afhanklikheid kan die ryk tradisie van teologiese navorsing ondermyn, en ons eie vermoë tot onderskeiding en interpretasie verswak. Dit hou die risiko van teologiese vorming in. Dit is ‘n ernstige etiese gevaar as AI ons wegstoot van ons liggame, die aarde, en opregte verhoudings met mekaar en met God – na ontkoppeling, isolasie en selfgesentreerdheid.

Die gebruik van AI in geestelike kontekste soos godsdienstige berading wek geweldige kommer. Menslike beraders bied unieke, empatiese en geestelike leiding wat AI nie kan naboots nie. AI-gebedsreaksies mag dalk onmiddellike verligting bied, maar dit is vals en mis die kern van Christelike gemeenskap. Gebed is in alle opsigte tog ‘n relasioneel.

Hoe behoort ons AI wel in te span

Die uitdaging is nie om AI heeltemal uit die kerk te verban nie. AI kan ‘n waardevolle hulpmiddel wees om menslike vermoëns aan te vul, solank dit gekoppel bly aan die kern van ons menswees.

AI kan help vir mense wat sukkel om hul gedagtes te verwoord, wat ‘n beginpunt bied vir ware kommunikasie met God – soortgelyk aan hoe geskrewe gebede of gesangboeke al eeue lank gelowiges lei. Dit kan ook help om bestaande menslike inhoud in nuwe vorme te verander – soos om ‘n preek om te skakel in ‘n Bybelles vir kinders – terwyl die inhoud en spiritualiteit menslik bly. Tegnologie en tradisie saam kan beteken dat AI ‘n brug is om mense te help om iets betekenisvol te bereik, nie ‘n plaasvervanger vir menslike interaksie nie.

Maar die doel moet samewerking wees. Ons moet die verantwoordelikheid om vir mekaar om te gee, behou. Om kunsmatige sorg menslike ondersteuning te laat vervang, sou net ‘n manier wees om ons skuldgevoelens oor die isolasie van kwesbare mense te verlig, eerder as om die empatiese teenwoordigheid van menslike versorgers te verskaf. AI moet ons vermoëns aanvul, nie benadeel nie.

In kort

Die AI Jesus-fenomeen wys ons dat ons ‘n belangrike teologiese waarheid moet herontdek: die mens is geskep as ‘n beeld van God wie se wese in verhouding gewortel is. Die essensie van die menslike bestaan is te kompleks om met blote konsepte vasgevang te word – dit moet ervaar en geleef word.

Kunsmatige pastorale sorg kan nie werk nie, omdat ware compassion en geloofsgroei teen die agtergrond van opregte kwesbaarheid en sterflikheid plaasvind. Die ontwikkeling van AI daag ons uit om die heiligheid van menslike lewe, ons verbintenisse met ander, en ons verhouding met God te herbevestig.

Geloof word onderhou deur lewende, dinamiese en emosionele verhoudings – en dit is iets wat geen GPT-model ooit sal kan vervang nie.

Deel hierdie inhoud met jou mense!
Lees ook: