Die Kellermanns groet Worcester-Audenberg
👤 Wilmi Wheeler
“Daar het heelwat water in die see geloop sedert ek in September 1980 bo in Ruacana (in ‘n ondergrondse koffiekroeg) gelees het: ‘You might be the only Bible someone will ever see’,” vertel G.P. Kellermann oor die oomblik wat sy lewe verander het. “Ek het opgehou teenskop: ‘Goed Here, ek sal ’n dominee word.’”
Met dié eenvoudige, eerlike erkenning begin die terugblik op meer as vier dekades van bediening; ’n pad wat oor drie gemeentes en baie roepingsmomente gestrek het. Tesame met sy vrou, Elizma, neem hy nou afskeid van NG Kerk Worcester-Audenberg, waar hy die afgelope jare as leraar gedien het.
“Sedertdien is ek geseën op onnoemlik baie gebiede,” sê hy. “Daaglikse voorsiening, ’n kerk en teologiese omgewing wat vreugde en hoop gee en veral die mense wat my, en ons, pad gekruis het.”
Van kamermaats en klasmaats tot dosente en spanmaats, het verhoudings ’n sleutelrol gespeel in sy vorming. Later het dit uitgebrei na gemeentes, kollegas, kerkrade, ringsvergaderings en die breër kerkfamilie. Die gemeentes van De Hoop, Parow-Welgelegen en uiteindelik Worcester-Audenberg het elk ’n unieke bydrae tot dié pad gemaak.
“Ek is ’n diep bevoorregte mens,” sê G.P. “Daar was soveel geleenthede tot blootstelling en verryking: kursusse, konferensies, kampe, uitreike, toere, studiegroepe, werkgroepe, siek-, hospitaal- en sterfbeddens, trou-venues…”
Tog is daar ook plek vir eerlike introspeksie. “By terugskoue is die (grootste?) spyt dat ons nie méér by die mense kon uitkom nie.”
Vir die Kellermanns was hul roeping altyd verweef met gesinslewe. “Ons gesin met drie kinders is uitgebrei met nog drie dierbare kinders en drie (stroopsoet) kleinkinders.” Nou sien hulle uit daarna om tyd saam met familie deur te bring. En ja, ook “bietjie te kuier – ook by daardie leeu en bromvoëls in die Kruger.”
Hulle gaan in Langebaan vestig en die planne vir die volgende seisoen is eenvoudig en opreg: “Dan wil ons goeie lidmate probeer wees, meer lees en studeer en aandag gee aan die kunste. En indien die Vader ons verder in daardie gemeenskap wil gebruik (miskien in geestelike begeleiding), sal dit ’n voorreg wees.”
Die afskeid in Worcester-Audenberg is vol herinnering en emosie. Sy laaste erediens sal op Sondag 27 Julie plaasvind, ’n afsluiting van ’n formele bediening, maar nie van die roeping nie.



