Tiaan Botha: Van drummer tot skriba by Bellville-Vallei

Wilmi Wheeler

’n Skriba, ’n drummer en ’n elektriese ingenieur stap in ’n kamer in en hy sê: “Hallo, my naam is Tiaan!”

Tiaan Botha is 26 en, as ’n mens sy pad by NG Kerk Bellville-Vallei probeer opsom, klink dit op papier na ’n vreemde kombinasie. Maar vir Tiaan is die kerk nie iets wat hy eers later in sy lewe ontdek het nie. As hy ’n kerk in sy kop moet picture, sien hy die buitelyne van Bellville-Vallei.

Hoe dan anders? Hy het basies oorkant die kerk grootgeword en dis die gemeente waarheen sy familie al vir jare heen gaan. Die gebou is deel van die scenery van sy kinderdae; iets bekends aan die ander kant van die pad. Dis die soort plek wat so lank daar is dat jy dit amper nie meer bewustelik raaksien nie. Jy weet net dis daar.

Wanneer hy probeer verduidelik wat die gemeente vir hom besonders maak, kom hy terug na gasvryheid, al sê hy self dis moeilik om mooi in woorde vas te vang. Vir hom is dit minder iets wat ’n gemeente oor homself kan sê en meer iets wat jy ervaar wanneer jy by die deure instap. “Dis iets wat jy aan jou lyf voel.”

Tiaan Botha, drummer en skriba

Van die huis oorkant die kerk tot agter die dromme

Dat die kerk nog altyd deel van sy wêreld was, beteken egter nie dat Tiaan nog altyd diep betrokke was by alles wat daar gebeur nie. Daardie deel van die storie het baie meer toevallig begin. ’n Paar jaar gelede bel oudpredikant Kobus Swarts hom en sê hy wil iets kom vra.

Omdat ds. Kobus destyds nog om die draai van Tiaan gewoon het, stap hy sommer oor die parkie na sy huis toe, besig om druiwe te eet. Hy bied vir Tiaan ook aan, gaan sit op die bank en kyk vir ’n ruk vloer toe terwyl hy verder aan die druiwe eet.

Tiaan probeer intussen uitfigure waarvoor die dominee hom nodig het. “Ek het gedink hy gaan my vra om iets te help dra. Stoele by die kerk of so iets.”

Die versoek was toe heel anders. Ds. Kobus het gehoor hy speel dromme en wou hom nooi om deel van die kerk se band te word. Daar was net een voorwaarde…

“Hy sê toe hy wil nie hê ek moet die dromme moer nie.” Tiaan lag wanneer hy dit vertel. “Toe sê ek, dis reg, ek sal nie die dromme moer nie.”

En so begin sy loopbaan as Bellville-Vallei se baie gedissiplineerde, rustige drummer.

Tiaan Botha, NG Kerk Bellville-Vallei

Volgens Tiaan is dromme in elk geval ’n goeie keuse as jy nie lus is om jouself met te veel musiekteorie te stres nie. Ritme kry jou glo redelik ver en die res figure jy uit soos dit kom.

Sy gunstelingliedjie in die erediens nie een wat hom tegnies op die proef stel nie. God is liefde het mettertyd iets van die band se eie liedjie geword. Wanneer hulle dit klaar gespeel het, deel die lede ’n kyk met mekaar. Niemand hoef te verduidelik wat dit beteken nie. Hulle weet. Dis ’n klein oomblik wat waarskynlik niemand in die kerkbanke raaksien nie. Maar die band weet. Mettertyd het die liedjie iets geword wat aan hulle behoort.

“Ek moes Google wat ’n skriba is”

Die dromme het hom nader in die gemeente se lewe getrek, maar die kerkkantoor het hom agter die skerms geneem.

Ds. Chris Wheeler vra later of Tiaan nie ’n paar uur in die week in die kerkkantoor kon help nie. Die gemeente se skriba van etlike dekades het aanbeweeg en hulle was in ’n tussenperiode.

Tiaan was op daardie stadium nog besig met sy studies in elektriese ingenieurswese en sy rooster het dit toegelaat.

Daar was vir hom nie ’n groot innerlike worsteling oor of hy moes ja sê nie. Die kerk het hulp nodig gehad en hy het tyd gehad. Die enigste probleem was dat hy geen idee gehad het wat sy nuwe titel beteken nie.

“Ek het gedink ’n skriba is iemand wat die Bybel vertaal,” vertel hy. “Ek moes Google wat dit is.” Google het die Bybelvertaling-misverstand vinnig uitgesorteer, maar die idee dat hy hoofsaaklik ’n telefoon gaan antwoord, het ook nie lank gehou nie.

Een van sy eerste amptelike take as skriba was om ‘n gemeentelid se e-posrekening uit te druk omdat sy nie geweet het waar om haar e-posse op haar foon te check nie. Dit is juis dié gewone take wat Tiaan se verhouding met die gemeente begin verander het.

Tot op daardie stadium was baie mense vir hom bekende gesigte en hy vir hulle. Jy sien mekaar op ’n Sondag, groet dalk, maar weet nie noodwendig veel meer van mekaar se lewe nie. In die kerkkantoor het daardie afstand baie kleiner geword.

Bellville-Vallei

“Skielik ken almal my naam en groet vir my,” sê hy. Hy lag voordat hy byvoeg dat hy nie wil sê hy het belangrik begin voel nie, “maar dit het so gevoel”. Dis dalk nie soseer belangrikheid wat hy beskryf nie, as die vreemde verskil tussen bloot êrens teenwoordig wees en werklik deur mense geken word.

Vandag is Tiaan ’n gekwalifiseerde elektriese ingenieur en werk hy in die veld waarvoor hy studeer het. Maar sy tyd as skriba by Bellville-Vallei bly op sy CV. Dit was immers sy eerste amptelike werk en, vir hom, ’n belangriker deel van sy storie as wat die posbenaming dalk laat vermoed.

Die verskriklike kerkraadsvergadering wat toe nie so verskriklik was nie

Die volgende verrassing het in die kerkraad gewag. Want dit is nou mos deel van sy posbeskrywing om notule te hou.

Tiaan het ’n baie spesifieke prentjie van ’n kerkraadsvergadering in sy kop gehad. “Ek het gedink die kerkraad gaan hierdie verskriklike vergadering wees. Baie formeel, natuurlik. En dat ek nie uit my beurt mag praat nie en al daardie tipe goed.”

Toe stap hy in en dit was glad nie wat hy verwag het nie.

“Ons het ons goed gehad om te doen en ons het nie tyd gemors nie, maar dit was baie meer welcoming.”

Die beste beeld wat hy daarvoor het, is nie dié van ’n raadsaal nie.

“Dit het meer gevoel soos ’n familie wat om die etenstafel sit en planne maak vir die week.”

Kerk is meer as net wat op ’n Sondag gebeur

Dit was ook in hierdie tyd dat Tiaan begin agterkom het hoe beperk sy eie prentjie van die kerk eintlik was. “Ek het gedink die kerk is net belangrik vir die mense wat kerk toe gaan,” sê hy. Toe hy nader aan die werk van die gemeente beweeg, begin hy die ander konneksies sien. Soos die verhouding met die buurtwag, barmhartigheid in die gemeenskap, mense wat gehelp word en al die klein maniere waarop ’n gemeente deel word van die omgewing waarin dit staan.

Daar is iets ironies daaraan dat iemand wat letterlik oorkant die kerk grootgeword het, eers later ontdek hoeveel van ’n gemeente se lewe van die ander kant van die straat af onsigbaar bly.

Tiaan het altyd geweet hoe die gebou lyk. Hy het geweet wie op ’n Sondag daar bymekaarkom. Maar om agter die skerms deel te word van die gemeente se werk, het vir hom ’n groter prentjie oopgemaak van wat ’n kerk binne ’n gemeenskap kan wees.

Dit is waarskynlik ook waarom hy sterk voel oor mense wat hulself uit kerklike betrokkenheid praat voordat hulle ooit probeer het. “Baie mense is bang om betrokke te raak by die kerk, want hulle voel hulle is nie goed genoeg nie. Dat die werk so belangrik is dat net iemand met jare se ervaring dit moet doen. Of dat jy verskriklik gelowig moet wees of goeie vriende met die dominee om betrokke te wees by die kerk.”

Maar volgens hom werk dit nie regtig so nie.

“As jy ownership vat van die werk en jy gee om oor die bydrae wat jy maak, dan is dit eintlik maar al wat saak maak.”

Tiaan se eie pad is dalk die beste bewys daarvan. Daar was nooit ’n groot plan dat hy eendag dromme sou speel, as skriba sou werk en notule van kerkraadsvergaderings sou neem in die gemeente oorkant sy kinderhuis nie.

Dit het eenvoudig begin met iemand wat hom vra om dromme te speel. Iemand anders wat vra of hy ’n paar uur per week in die kerkkantoor kan help. Elke keer het hy ‘ja’ gesê en elke keer leer hy die plek wat hy gedink het hy reeds ken ’n bietjie beter.

Die buitelyne van Bellville-Vallei het nog altyd vir hom soos kerk gelyk. Wat binne daardie buitelyne gebeur, het hy eers later begin ontdek.

Deel hierdie inhoud met jou mense!
Lees ook: