Gun jouself gereeld ‘n “doodgaan-oefening” of twee

👤 Marina de Wet

Gisteraand was een van my dogtertjies baie hartseer. Sy lê in ’n bondeltjie op die vloer, en toe ek vra wat fout is, stroom die trane oor haar wange. Sy sê: “My verbeelding is weg!” Ek verstaan nie mooi nie, en sy verduidelik: “Die idees in my kop is weg. My lag is weg, en ek kan nie meer die woord sê wat die teenoorgestelde is van ‘nee’ nie.”

Ek is verstom oor dié reuse stuk selfinsig van so ’n klein dogtertjie—hoe sy in haar eie taal probeer verwoord wat in haar emosionele wêreld aangaan.

Natuurlik hou ek haar vas en omring haar met liefde totdat ek voel haar hartjie klop weer rustiger. Ek weet al vir ’n geruime tyd sy is besig om iets uit haar sisteem te werk, en ek is kalm, want ek weet sy het alles in haar wat sy nodig het om deur te breek na ’n nuwe, vryer weergawe van haarself.

Ons ken hierdie ervaring van doodsheid—tye wanneer dit onmoontlik voel om te lag. Wanneer jou lyf en jou gedagtes swaar is, die inspirasie verdwyn het, en jy net ’n groot nee binne-in jou voel.

En miskien, in plaas daarvan om hiermee te baklei of dit te probeer ignoreer, kan ons onsself toelaat om deur hierdie doodgaan-oefening te gaan. Kan ons toelaat dat alles wat ons opgebou het, afgebreek word. Kan ons ons hande oopmaak en ophou om krampagtig vas te hou aan alles wat ons gedink het ons is. Kan ons ons lywe toelaat om afskeid te neem van die ou weergawes van onsself.

Want diep binne-in weet ons: elke sterwenservaring is ook ’n geboorte-ervaring. En as jy kan oorgee aan die proses, sal die lig weer deurbreek. Sal jy ophou weerstand bied teen die nuwe wat wil invloei, en die vermoë in jouself vind om ja te sê. Ja vir meer liefde. Ja vir meer vryheid. Ja vir meer vloei.

En dan… dan is daar niks wat sal keer dat jou verbeelding weer vlieg met nuwe en groter vlerke nie.

Marina de Wet beskryf haarself as ’n storieverteller, rympiemaker, liedjieskrywer en ma van vier. Op haar Facebook-blad, Woorde soos water, deel sy eerlike vertellings oor die lewe se sagtheid en skerpte.

Deel hierdie inhoud met jou mense!
Lees ook: