Eko-brokkie: Watter wêreld laat jy agter?

👤 Rudolph Scharneck

Met oorloë wat wêreldwyd woed dink ek die laaste tyd baie aan die wêreld wat ons vir ons kinders nalaat. Wysheid is om te doen wat nie noodwendig vir jou in hierdie oomblik die meeste voordeel inhou nie, maar wat die meeste voordelig is vir jou groter doel. Dit werk in alle aspekte van die lewe so: met ons gesondheid, hoe ons met ons geld werk, in ons beroepe, in ons kinders se opvoeding ensovoorts. Ons moet altyd die oog op die groter prentjie hou.

In ons menslike dwaasheid is ons fokus egter baiekeer net op onsself en op die huidige oomblik. Ons dink nie eers aan die implikasies van ons huidige aksies op die groter prentjie nie. Solank ons nou net gemaklik is.

Dit geld ook vir ons omgang met die natuur. Is ons doelwit regtig om net in die kort termyn so gemaklik as moontlik te wees of is ons doelwit dan nie om ‘n wêreld te skep waarin toekomstige generasies nog meer voorspoedig as ons kan wees nie? As ons doelwit is om net vir ons eie leeftyd die lekkerste lewe te hê sal ons nie omgee as ons al die water opgebruik of toelaat dat al die berge oorgeneem word deur indringers nie. Dan sal ons met gemak alle insekspesies, slange en wilde diere uitwis en ons gemors in riviere afspoel.

Maar as ons oog op die groter prentjie is, as besef ons het ook ‘n verantwoordelikheid teenoor generasies wat kom, dan sal ons die skepping bewaar, sorg dat ons volhoubaar omgaan met dit wat God ons gegee het. Luister vandag na hierdie ou bekende treffer en dink na oor watter wêreld jy vir jou kinders en kleinkinders en agterkleinkinders nalaat.

Deel hierdie inhoud met jou mense!
Lees ook: