Foto’s: Durbanville-gemeente vier 200 jaar
👤 Wilmi Wheeler
As ’n fotograaf by ‘n funksie leer jy vinnig om te kyk op ’n manier wat anders is as luister. Jy vang nie sinne nie, jy vang oomblikke. Nie wat mense sê nie, maar hoe hulle reageer. Nie idees nie, maar lig wat op gesigte val. By Durbanville-gemeente se 200-jaarvieringe om ‘n langtafel was dit juis hierdie kyk wat my getref het: hoe iets so eenvoudig soos ’n tafel in ’n straat ’n storie van twee eeue kon dra.



Die straat oorkant die kerk was opgemaak vir herinneringe. Stoele het uitnodigend in rye gestaan, tafels was lank genoeg om generasies te huisves en mense het aangekom met die gemak van mense wat weet: ek hoort hier. Die geselligheid het nie eers stadig opgebou nie; dit was onmiddellik daar. Gesprekke het bo-oor borde gebons, lag het oor glase gespoel en vreemdelinge het mekaar aangespreek soos ou kennisse. Dit het gevoel asof die gemeente nie net 200 jaar oud is nie, maar 200 jaar lank geoefen het om mense te verwelkom.





Terwyl ek tussen die tafels beweeg het, kamera gereed, het ek gesien hoe stories mekaar kruis. Ouer lidmate wat met sagte hande brood breek. Jong verliefdes wat die aand se herinneringe wil vasvang in ’n paar selfies. Vriende wat lanklaas mekaar gesien het, maar gesels asof daar geen tyd verbygegaan het nie. Deur my lens sien ek ’n fees van teenwoordigheid.





En toe ry die burgemeester van Kaapstad op ’n koets die toneel binne. Sy teenwoordigheid het iets bevestig wat reeds sigbaar was: dat ’n gemeente soos Durbanville se betekenis nie binne die mure van ’n kerkgebou vasgevang is nie. Sy woorde oor die belangrikheid van gemeentes in die samelewing het aangesluit by wat reeds gebeur het rondom die tafel. By hierdie gemeente word sosiale weefsel gebou, nie net geestelike tradisie onderhou nie.





Een van die oomblikke wat ek so half gehoor het en eers later beter verstaan het, was Tinus van Zyl, een van die predikante van die gemeente, se toespraak. Soos met baie goeie gevleuelde woorde, het dit eers ná die tyd begin eggo in wat ek gesien het. Hy het gepraat oor hoe die wêreld se fokus oor die afgelope dekades geskuif het van ’n dromerige toekomsgerigtheid na ’n nuwe waardering vir die verlede. Oor hoe “sedert” nou weer ’n kenteken van trots geword het. Maar hy het ook gewaarsku dat ons nie die verlede moet onthou omdat dit volmaak was nie, maar omdat dit ons kan help om die toekoms wys te benader.
Dit het sin gemaak. Want hierdie langtafel het nie gevoel soos mense wat terugverlang nie. Dit het gevoel soos mense wat onthou om vorentoe te kan leef.







Die tema van die feesjaar, Fontein van Lewe, het soos ’n onderstroom deur die aand geloop. ’n Fontein is immers nie iets wat net een keer borrel en dan stilraak nie. Dit hou aan, dikwels onsigbaar onder die oppervlakte, soms oor eeue heen. Tinus se verwysing na Genesis 2, waar water uit die aarde opborrel en droë grond lewendig maak, het ’n dieper laag aan die viering gegee. Dit het die gemeente se geskiedenis geplaas binne God se groter storie van skepping, sorg en roeping.
Hy het gepraat oor bewerkers en bewaarders. Mense wat vooruitstoot en mense wat vashou. En hoe Genesis sê ons het albei nodig.
As ek terugdink aan die gesigte wat ek daardie aand afgeneem het, was albei daar. Die bewaarders, wat met dankbaarheid terugkyk na wat gebou is. En die bewerkers, wat reeds besig is om te droom oor wat nog kan wees. Die langtafel was die plek waar hulle mekaar ontmoet het.
Dalk is dit juis só dat ’n gemeente vir 200 jaar volhou. Nie deur altyd groot te wees nie, maar deur getrou te wees.





Teen die einde van die aand, toe die lig sagter word en mense nog steeds nie regtig wou huis toe gaan nie, was dit duidelik dat hierdie aand nie net ’n opening van ’n feesjaar was nie. Dit was ’n getuienis dat God se seëninge oor geslagte heen kan vloei, mits dit bewaar én bewerk word. Dat ’n gemeente se roeping nie eindig by sy eie lede nie, maar uitkring na ’n dorp, ’n stad, ’n samelewing.
As Durbanville-gemeente se eerste 200 jaar soos ’n fontein was wat lewe gebring het, dan het hierdie langtafel gewys dat die stroom nog sterk is. En die tafel is lank genoeg vir nog baie wat moet aansit.



