Little Seeds verbind die kolletjies tussen kerke en kinders
Wilmi Wheeler
Die koffie is lekker by Little Seeds Eenheid vir VKO se kantore in Bellville. Ek sit saam met Melanie Thirion en Erika Hougaard om ’n eetkamertafel en gesels oor die werk van hierdie eenheid vir vroeëkindontwikkeling (VKO).
’n Paar weke gelede het dit in ’n ander vertrek in dieselfde gebou heel anders geruik. Nie na koffie nie, maar na springmielies.
Little Seeds het hulle algemene jaarvergadering gehou. Pleks van die gewone vergaderingsatmosfeer het mense met springmielies in die hand gesit en geluister na stories van die afgelope jaar.


Dit het amper gevoel soos om ‘n fliek te kyk.
Die soort fliek waarin daar genoeg struikelblokke is om jou aan die punt van jou stoel te hou. Maar ook genoeg mense wat aanhou opdaag om jou te laat glo dat hierdie storie anders kan eindig.
Die tema van die jaarvergadering was Connecting the dots.
En hoe langer ons om die tafel gesels, hoe meer besef ek dat hierdie drie woorde oor veel meer gaan as ’n slim tema. Dit vertel iets van hoe Little Seeds werk. Maar miskien ook iets van hoe ons as kerk geroep is om in die wêreld te wees.
Die kolletjies is reeds daar
Melanie vertel van ’n groep vroue van die NG Gemeente Worcester-Brandwag. Sommige is onlangs afgetree, ander is al diep in hulle tagtigs. Hulle gemeente word ouer en daar is nie meer so baie kinders in die kerkbanke nie. Maar hulle wil graag iets beteken vir kinders.
Hulle nooi toe vir Little Seeds vir koffie.
Melanie vra waar die gemeente reeds by kinders betrokke is. Dit blyk dat hulle maandeliks ’n finansiële bydrae maak aan ’n skooltjie net twee kilometer van die kerk af.
Haar raad is eenvoudig: “Trek julle tekkies aan, stap na die skool toe en kyk wat gaan daar aan!”
En so ontdek die vroue die voorskoolse klassies. Vandag lees hulle elke Vrydag vir die kinders stories. Intussen het hulle ook met die plaaslike biblioteek hande gevat, wat hoop om hierdie inisiatief na ander skole uit te brei.
Dink net daaraan.
Die gemeente het nie ’n nuwe gebou nodig gehad nie. Nie ’n groot begroting of indrukwekkende strategiese plan nie. Hulle moes bloot ontdek wat reeds binne twee kilometer van hulle kerktoring gebeur.
Hulle moes net die kolletjies verbind.
Dit is presies wat Little Seeds probeer doen.

Erika verduidelik dit aan die hand van voëls wat in formasie vlieg. Elke voël het sy eie plek, maar saam kom hulle verder as wat hulle alleen sou kon. Dit vra dat hulle van mekaar bewus moet wees, hulle plek in die groter geheel moet verstaan en in dieselfde rigting moet beweeg. En dis eintlik wat connecting the dots beteken. Om uit ons eie silo’s te klim, mekaar raak te sien en te vra: Wat doen julle reeds? Waar kan ons hande vat? Hoe kan ons mekaar versterk? “Dit gaan nie meer oor my projek of jou program nie, maar oor die kinders vir wie ons almal ’n beter toekoms wil help skep.”
Want net soos die voëls nie op hulle eie dieselfde afstand kan aflê nie, kan niemand alleen vir ’n kind alles gee wat nodig is om te groei en te floreer nie.
’n Kind het veel meer as kos en ’n dak nodig. Ook veiligheid, geborgenheid, gesonde verhoudings en stimulering. Iemand wat stories lees, vrae beantwoord en raaksien wanneer iets verkeerd is.
Hoe gaan daai gesegde? It takes a village to raise a child.
En hier lê iets bevrydends vir gemeentes: Ons hoef nie alles te wees of alles self te doen nie. Maar ons kan deel wees van iets veel groter as onsself. Ons kan een van die kolletjies wees.



Die belofte strek verder as die kerkbanke
Terwyl Melanie en Erika verder vertel, kom ons gesprek by die teologiese hart van Little Seeds se werk uit. Oor waarom die kerk hoegenaamd by vroeëkinderontwikkeling behoort betrokke te wees.
Natuurlik, omdat die eerste duisend (en nog ’n duisend daarna) lewensdae so belangrik is. Omdat ’n kind se brein teen ’n verstommende tempo ontwikkel. Omdat vroeë ervarings, liefde, taal, veiligheid en selfs trauma ’n diep invloed op die res van ’n kind se ontwikkeling en lewe kan hê.
Maar vir Little Seeds begin die antwoord by die Bybel. “Die Woord het ’n klomp dinge te sê oor kinders,” vertel Melanie. “Hoe Little Seeds oor kinders dink, is gebaseerd op hoe die Here oor kinders dink.”
Kinders is nie bloot die kerk van môre nie. Hulle is vandag reeds mense wat na die beeld van God geskep is. Jesus het hulle raakgesien, verwelkom en ernstig opgeneem, selfs wanneer grootmense hulle wou wegwys.
En dan herinner Melanie ons aan iets wat ons dalk te maklik vergeet as dit by VKO kom. Die doop.
Daardie oomblik wanneer ouers met hulle baba voor in die kerk staan. Wanneer die water oor ’n klein voorkoppie vloei. Wanneer ons hoor van God se genade en sy trou.
En wanneer die gemeente ook saam met die ouers ’n belofte maak.
Ons belowe om hierdie kinders en hulle ouers te ondersteun. Om saam verantwoordelikheid te aanvaar vir die geloofsgemeenskap waarin hulle grootword.
Kan dit wees dat ons by die doopvont reeds ja sê vir ’n roeping wat veel verder as ons eie kerkbanke strek?
Dat ons verantwoordelikheid teenoor kinders nie ophou by dié wat Sondae in ons kategeselokale sit nie? Dat die kinders in die skooltjie om die draai, die kinders wat honger gaan slaap en dié wat nie ’n veilige plek het om te speel nie, ook ons aandag verdien?
Miskien is vroeëkinderontwikkeling dus nie nóg ’n projek wat die kerk by ’n reeds vol program moet probeer inpas nie. Miskien is dit een van die maniere waarop ons ’n belofte uitleef wat ons lankal gemaak het.
En as ons wonder waar om met daardie roeping te begin, herinner Melanie ons dat die kerk eintlik reeds ’n groot voorsprong het.

Daar staan reeds ’n kerktoring
Melanie sê iets wat my laat glimlag. “Ek sê altyd vir mense, die Here het geweet wat Hy gedoen het toe Hy die kerk in Suid-Afrika gevestig het, want in elke liewe gemeenskap in Suid-Afrika is daar PEP stores wat klere gee, ’n drankwinkel wat probleme gee en dan ’n kerktoring (of sewe…).”
Agter die humor lê ’n merkwaardige waarheid.
Die kerk is reeds daar.
In groot stede en klein dorpies. In gevestigde woonbuurte en gemeenskappe waar mense elke dag moet baklei om kop bo water te hou. Selfs op plekke waar ander organisasies moeilik ’n voet in die deur kry, staan daar dikwels reeds ’n kerk.

Ons praat gereeld oor alles wat die kerk nié meer het nie. Minder lidmate. Minder geld. Minder jongmense. Minder kapasiteit.
Maar wat van dit wat ons steeds het?
Ons het mense. Verhoudings. Geboue en kombuise en sale. Oumas en oupas met tyd en stories. Onderwysers, ouers, studente en mense met vaardighede waarvan hulle dalk self nie eens bewus is nie.
En ons het iets wat nie maklik op ’n begrotingstaat verskyn nie: Teenwoordigheid.
Melanie en Erika vertel dat VKO-programme dikwels meer volhoubaar is wanneer gemeentes betrokke raak. Nie noodwendig omdat die kerk die meeste geld bydra nie, maar omdat daar mense is wat omgee. Wat vra hoe dit gaan. Wat luister wanneer dinge moeilik raak. Wat saam met ander ’n pad stap.
Dalk onderskat ons soms hoe kragtig dit is om eenvoudig te bly opdaag en mense raak te sien.
Erika vertel van hoe meer as twintig vroue in Atlantis spontaan begin saamkom het om vir kinders te lees. Elders ondersteun gemeentes VKO met iets so eenvoudig soos ’n noodhulpsakkie. Ander help met kos. Party bied ’n veilige ruimte waar kinders kan leer en speel binne bendegeteisterde gebiede.
Nie elke gemeente doen dieselfde nie. En dit is juis die punt. Elke gemeenskap het sy eie behoeftes. Elke gemeente sy eie gawes.
Jy is reeds gekwalifiseerd vir VKO
Teen die einde van ons gesprek kom Erika terug na iets wat sy graag wil hê gemeentes moet hoor. “Almal is gekwalifiseerd vir vroeëkindontwikkeling.”
’n Hoërskoolleerder kan vir jonger kinders stories lees. ’n Ma kan ’n bord kos voorsit. ’n Tannie kan luister.
Natuurlik vra kwaliteit-vroeëkindontwikkeling ook kundigheid en professionele ondersteuning. Maar nie almal hoef die kundige te wees nie. Sommige van ons moet bloot bereid wees om langs die kundiges te kom staan.
Daarom begin Little Seeds se uitnodiging aan gemeentes nie met groot planne of begrotings nie, maar met ’n koppie koffie en ’n gesprek. Hulle luister na ’n gemeente se konteks, drome en moontlikhede. En dan onderskei hulle saam oor hoe daardie gemeente deel kan word van die groter prentjie.

Ek dink weer aan die Worcester Brandwag-tannies en hulle tekkies. Aan die vroue in Atlantis met hulle storieboeke. Aan die VKO-vrywilligers en praktisyns wat, ondanks bitter min hulpbronne, elke oggend hulle deure oopsluit omdat daar kinders is wat op hulle wag.
En aan die springmielies by Little Seeds se jaarvergadering.
Miskien was die fliekbeeld tog heel gepas.
Want hierdie is ’n storie met baie karakters. Party speel groot rolle. Ander verskyn net vir ’n oomblik, maar verander daarmee iemand anders se hele verhaal.
En die mooiste is dat die storie nog lank nie klaar is nie.
Die goeie einde waarna ons uitsien, gaan nie vanself gebeur nie. Dit vra gemeentes wat verder as hulle eie kerkbanke kyk. Mense wat bereid is om verhoudings te bou, hande te vat en verantwoordelikheid te aanvaar vir kinders wat nie noodwendig hulle eie is nie.
Ons het immers reeds by die doopvont ja gesê.
Die kerktoring staan reeds daar.
En jy is dalk reeds gekwalifiseerd om die volgende kolletjie te verbind.
Ek sluit daarom hierdie rubriek doelbewus met drie kolletjies af. ’n Ellips. Nie omdat die verhaal hier ophou nie, maar omdat daar nog kolletjies is wat verbind moet word. En dalk is die volgende een joune …


