Kerk + VKO = ‘n Sterker gemeenskap
👤 Wilmi Wheeler
Wanneer ons dink aan gemeentes se rol in die gemeenskap, kom eredienste en geestelike begeleiding dikwels eerste in gedagte. Maar daar is ‘n dimensie van bediening wat dikwels onderskat word: vroeë kindontwikkeling (VKO). Melanie Thirion van Little Seeds Eenheid vir VKO sê dat kwaliteit VKO-dienste die vermoë het om nie net die toekoms van kinders te verander nie, maar ook die hart van ‘n gemeenskap te versterk en transformeer. “Wanneer gemeentes deel raak van hierdie ontwikkelingsproses, versterk en verdiep dit die potensiaal van die gemeenskap se ontwikkeling. Little Seeds Eenheid vir VKO staan juis gemeentes by om plaaslike oplossings en geleenthede vir plaaslike ontwikkeling te identifiseer en te inisieer.”
Twee gemeentes wat hierdie roeping aangeneem het, is Uniondale en Worcester-Vallei. Hul verhale is nie net inspirerend nie, maar ook ‘n bewys van hoe gemeentes se betrokkenheid by VKO ‘n verskil kan maak in die lewe van kinders en hul gemeenskappe.


Gemeente 1: Uniondale
In Uniondale het die gemeente die geleentheid gesien om VKO-dienste direk na verskillende huishoudings te neem. Dit het begin met ‘n intergenerasionele erediens, genaamd Tafelkerk. Ds. Melanie Thirion het saam met ds. Petrus Carstens die erediens op 9 Februarie gelei waar drie generasies saam om tafels die Here aanbid het. Dit het ‘n belangrike boodskap gestuur: VKO is nie net ‘n opvoedkundige inisiatief nie, maar ‘n geloofsreis waarin elke generasie ‘n rol speel.
Op die volgende dag het die gemeente lidmate van verskillende denominasies genooi vir VKO-opleiding deur Little Seeds Eenheid se opleier, Nicola Vermeulen. Dit is ‘n mooi voorbeeld van hoe gemeentes hande vat oor grense heen om ‘n gedeelde visie van gemeenskapsontwikkeling te bevorder.
Nog ‘n besondere aspek van Uniondale se betrokkenheid was hul insiatief om VKO-dienste te neem na huise waar grootouers, dikwels sieklik en weerloos, die verantwoordelikheid vir kleinkinders moes dra. Deur samewerking met Bethesda, ‘n plaaslike NRO, is tuisversorgers opgelei in VKO sodat hulle nie net fisiese sorg kan bied nie, maar ook emosionele en kognitiewe ontwikkeling in hierdie huishoudings kan aanmoedig. Dit is gemeenskapsgesentreerde ontwikkeling op sy beste.



Gemeente 2: Worcester-Vallei
Worcester-Vallei se betrokkenheid by VKO is ‘n bewys van hoe ‘n gemeente ‘n langtermyn-verbintenis tot gemeenskapsontwikkeling kan maak. Hierdie gemeente was een van die eerstes wat by Diaconia en die SmartStart-program aangesluit het en hul betrokkenheid het oor die jare net gegroei.
Wat Worcester-Vallei se betrokkenheid so besonders maak, is die manier waarop hulle die SmartStarters – vroue wat die program implementeer – geestelik ondersteun. Hulle word nie net as opvoeders beskou nie, maar as deel van die geloofsgemeenskap. Deur hulle gereeld na eredienste te nooi, vir hulle te bid en hulle op verskeie maniere te bederf, stuur die gemeente ‘n duidelike boodskap: julle werk is waardevol en julle is geliefd.
Verder maak die gemeente hul fasiliteite beskikbaar vir VKO-forums sodat daar ‘n sterk netwerk van ondersteuning en samewerking tussen verskeie VKO-rolspelers in die gemeenskap gebou kan word. Hierdie volgehoue betrokkenheid en ondersteuning het gehelp om VKO in die gemeenskap te vestig as ‘n belangrike en gewaardeerde diens.

Die waarde van VKO in geloofsgemeenskappe
Die stories van Uniondale en Worcester-Vallei wys dat VKO nie net oor vroeë leerervarings gaan nie, maar oor gemeenskapsbou, geloofsvorming en sistemiese verandering. Wanneer ‘n gemeente die potensiaal van VKO raaksien en daarin belê, gebeur daar iets merkwaardigs: kinders kry ‘n sterker fondament vir hul toekoms, gesinne word versterk en die gemeenskap as geheel groei in liefde en sorg vir mekaar.
Little Seeds Eenheid vir VKO speel ‘n onskatbare rol deur gemeentes by te staan in hierdie roeping. Elke gemeenskap het unieke uitdagings, maar ook unieke sterkpunte. Die vraag is: Hoe kan jou gemeente deel word van hierdie beweging?
Die oproep is duidelik – VKO is nie net ‘n onderwysprojek nie; dit is ‘n geleentheid vir die kerk om sy roeping as ‘n ligdraer en bouer van hoop en toekoms te vervul. Mag ons, soos Uniondale en Worcester-Vallei, bereid wees om deel te neem aan hierdie lewensveranderende reis.