Gaan leef wat jy bely

👤 Wilmi Wheeler

Wanneer ons saam in die kerk staan en die Apostoliese Geloofsbelydenis saam opsê, gee ons woorde aan ons geloof en oortuigings. Dit is nie net ‘n ritueel wat ons uit gewoonte sê nie of net ‘n herhaling van wat ons van kleins af geleer het nie. Dit is die grondslag van ons geloof. Maar, hoe gereeld neem ons die woorde wat ons in die kerk bely en leef dit werklik in ons daaglikse lewens uit?

Die ware toets van ons geloof lê immers nie in die gerief van die kerkbanke nie; dit lê buite die kerk se mure, in die wêreld waar ons geroep word om die lig van Christus te wees. Ons belydenis moet nie slegs op ons lippe bly nie, maar moet ‘n lewende getuienis word in ons daaglikse lewe.

Om te lewe wat jy bely, beteken om jou geloof in aksie te omskep. Dit beteken om nie net te glo nie, maar om daardie geloof te laat lei hoe jy jou lewe bestuur. Dit is maklik om te sê dat jy in God glo, maar dit is heeltemal iets anders om daardie geloof te wys deur jou optrede.

So, wanneer jy volgende keer die Apostoliese Geloofsbelydenis opsê, dink daaraan as ‘n oproep tot aksie. Laat dit nie net woorde wees wat jy herhaal nie, maar ‘n lewensmissie wat jy uitleef.

Apostoliese geloofsbelydenis - gaan leef wat jy bely

Gaan leef nou wat jy bely…

Gaan leef jou geloof in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde

Om hierdie geloof uit te leef, vereis dat ons ‘n lewe lei van onverdeelde lojaliteit en gehoorsaamheid aan God. Dit beteken om Hom as die enigste ware God te erken en niks of niemand anders in sy plek te stel nie. Ons moet sy Naam met eerbied en respek gebruik, nie ligtelik of oneerbiedig nie. Ons lewens moet getuig van ‘n diep respek vir sy gesag en ons moet streef om in elke aspek van ons lewe sy wil te volg.

Verder moet ons sy skepping met respek en waardigheid behandel. Dit vra van ons om omgewingsbewus te wees, om die natuur te bewaar en om ons medemens met liefde en respek te behandel. Deur te erken dat God die bron van alles is, leef ons met dankbaarheid en verantwoordelikheid, wetende dat ons deel is van sy grootse skeppingsplan.

Gaan leef jou geloof in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here

Volg Jesus se leringe en voorbeeld. Dit roep jou op tot ‘n lewe van liefde, nederigheid en diens aan ander. Jy erken met hierdie sin in die belydenis immers dat Jesus die middelpunt van jou geloof is. Daar moet jy streef daarna om sy karakter en optrede in jou eie lewens na te boots, wat insluit om ander onvoorwaardelik te dien en te lief te hê soos Hy gedoen het.

Weet Hy is ontvang van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria…

Die geloof in Jesus se maagdelike geboorte deur die krag van die Heilige Gees versterk ons vertroue in die bonatuurlike werking van God. Dit herinner ons aan die wonderwerk van ons verlossing en die unieke rol van Jesus in God se verlossingsplan.

Leef elke dag met die wete dat Jesus waarlik die beloofde Messias en die Seun van God is, soos eeue tevore uitgespreek in Bybelboeke soos Jesaja. Hy is ons Verlosser, gebore om uiteindelik vir ons te sterf.

Onthou dat Hy gely het onder Pontius Pilates, gekruisig is, gesterf het en ter helle neergedaal het…

Jesus se lewe op aarde nie sonder lyding was nie. Ons erken dat Hy wat sonder sonde was willend en wetend die pad van lyding aanvaar het om die prys van ons sonde te betaal; neergedaal tot die hel en die magte van die dood oorwin het om ons te verlos. Dit vra dat jy jou eie lyding en opofferings in die lig van Christus se offer sien en dit met geduld en geloof aanvaar. Jy moet ook bereid wees om vir ander op te offer, selfs wanneer dit moeilik is.

Vier fees omdat Hy op die derde dag weer opgestaan het uit die dode…

Die opstanding is wat die evangelie “goeie nuus” maak. Dit is die kern wat alles in die Christelike geloof bymekaar hou. Soos Paulus in 1 Korintiërs 15:14 sê: “En as Christus nie opgestaan het nie, is ons prediking sonder inhoud en is julle geloof ook sonder inhoud.”

Mag jy elke dag opstaan met die wete dat die dood geen mag oor jou het nie. Die opstanding bevestig die waarheid van Jesus se leringe, die doeltreffendheid van sy dood, en die realiteit van ons hoop in Hom. Dit toon sy uiteindelike oorwinning oor die dood en verseker ons dat die dood nie die laaste woord het nie.

Weet dat Hy opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van God…

Hiermee erken jy dat Hy die finale oorwinning oor sonde, dood en die magte van die bose behaal het. Deur sy dood en opstanding het Hy die mag van sonde en dood vernietig. Na sy opstanding het Jesus na die hemel opgevaar en sit nou in die hoogste posisie van eer en gesag. Jesus is nou in die hemel, besig om ‘n plek vir jou voor te berei (Johannes 14:2-3). Aan die regterhand van God tree Jesus ook vir jou in as ons groot Hoëpriester. Hy bemiddel vir jou en pleit jou saak voor die Vader (Hebreërs 7:25).

Van waar Hy sal kom om te oordeel, die wat nog lewe en die wat reeds gesterf het…

As Christene, glo ons dat ons lewe deur God se geregtigheid en liefde gerig word. Ons aksies en besluite het ewige gevolge en ons is verantwoording verskuldig aan God, ons Skepper en Regter.

Mag jy dus jou lewe leef met ‘n dieper besef van God se geregtigheid en liefde, gereed vir die dag wanneer Hy jou sal oordeel. Mag jou geloof jou lewe rig en jou hoop versterk in Jesus Christus, ons Verlosser en Regverdige Regter.

Gaan leef jou geloof in die Heilige Gees…

Om in die Heilige Gees te glo beteken om te weet dat ons nooit alleen is nie. Hy is God se teenwoordigheid in ons, wat ons deur die lewe lei en ons herinner aan sy liefde en beloftes. Die Heilige Gees help ons om God se wil te onderskei en lei ons na ‘n lewe wat Hom eer. Hy transformeer ons harte en gedagtes en stel ons in staat om die vrugte van die Gees te dra: liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, sagmoedigheid en selfbeheersing.

So, stel jou lewe oop vir sy leiding en krag. Dit vra van jou om geestelike groei na te streef en om die vrugte van die Gees in jou lewe sigbaar uit te leef.

Gaan leef saam met ‘n heilige, algemene Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges…

Om te bely dat ons aan ʼn heilige kerk glo, beteken dat ons erken ons is geroep om in heiligheid te leef en om ʼn lig vir die wêreld te wees. Ons is deel van ‘n groter liggaam van Christus, saamgebind deur ons gemeenskaplike geloof. Die kerk is nie beperk tot een land, kultuur of taal nie.

Jy is deel van ‘n geestelike familie, verbind deur ons geloof in Jesus Christus. Deel in mekaar se vreugdes en swaarkry, ondersteun mekaar en bid vir mekaar. Hierdie gemeenskap is ‘n voorsmakie van die ewige gemeenskap wat ons eendag saam met God sal hê.

Gaan leef met vergifnis…

Vergifnis is een van die mees kragtige en bevrydende geskenke wat ons van God ontvang. Die geloof in die vergewing van sondes moedig ons aan om die genade wat ons ontvang het, aan ander uit te deel. Ons word opgeroep om vergifnis te skenk, soos God ons vergewe het, en om herstel en vernuwing in ons verhoudings na te streef. Dit herinner ons aan die bevryding en vernuwing wat vergifnis bring, en moedig ons aan om ‘n lewe van genade en barmhartigheid te lei. Hierdie vergifnis is nie iets wat ons verdien nie, maar ‘n teken van God se groot genade en liefde vir ons.

Maar ons moet nie God se genade misbruik nie. Sy vergifnis is nie ‘n lisensie om aan te hou sondig nie. Dit is ‘n oproep om ons lewens te verander, om ons te bekeer en om elke dag met nuwe ywer aan te hou om nader aan God bring en verder weg van die sonde.

Onthou die opstanding van die vlees…

Die geloof in die opstanding van die liggaam gee ons hoop vir die toekoms en herinner ons dat ons liggaamlike lewe nie die einde is nie. Deur in die opstanding van die vlees te glo, vier ons nie net die oorwinning van Jesus oor die dood nie, maar ook die belofte dat ons, as sy volgelinge, dieselfde opstanding sal ervaar. Hierdie hoop vul ons met vreugde en moed, om te lewe in die lig van sy oorwinning en om te getuig van die krag van die opgestane Christus.

Hou vas aan die ewige lewe…

Die ewige lewe wat ons bely, gaan verder as net ‘n verlenging van ons bestaan; dit is ‘n lewe van volmaakte gemeenskap met God, gevul met sy liefde, vrede, en vreugde. Dit is ‘n lewe sonder pyn, verdriet of enige vorm van gebrokenheid. Dit is die uiteindelike vervulling van ons diepste verlange en die ware tuiste van ons siele.

Amen

Laat dit so wees… Die kerk is nie net die plek waar ons hierdie geloofsbelydenis uitspreek nie; dit is die plek waar ons toegerus word om dit te gaan uitleef. Wanneer ons die kerk se deure uitstap, neem ons die geloofsbelydenis saam met ons. Dit moet ons lewensriglyn wees, ‘n kompas wat ons lei in elke situasie wat ons in die wêreld tegemoet gaan.

Maar hierdie geloofsbelydenis is meer as net ‘n stel dogmatiese uitsprake; dit is ‘n roepstem tot aksie. Dit wat ons bely, moet ons ook gaan leef.

Geseënd is dié wat die Woord hoor en dit uitleef. Amen.

Deel hierdie inhoud met jou mense!
Lees ook: