Gansbaai gee om met rooibeksoentjies
👤 DJ Muller
Wanneer Godsmense Godsdinge doen, is hulle besig om hul roepings uit te leef. Wanneer ons vertel van hoe mense hul roepings uitleef, spog ons nie met hulle nie. Ons gebruik hul verhale as ‘n bron van inspirasie vir ‘n groot netwerk van gelowiges wat elkeen op hul beurt vra “hoe kan ék ‘n verskil maak?”. Die verhaal van ‘n groep mense in Gansbaai getuig van hoe daar hande gevat kan word ter wille van kwesbares in ‘n gemeenskap.
Vir die afgelope 29 jaar werk Goue Hande Vrywilligers Diensgroep onverpoosd om die inwoners van Herberg-aan-See se lewens te verryk. Gestig op 18 Mei 1995, bied hierdie toegewyde groep van ongeveer 40 vroue ‘n reeks van vrywillige dienste aan by die plaaslike tehuis vir bejaardes op Gansbaai. Hul werk om die druk op die verpleegpersoneel te verlig en die lewensgehalte van die inwoners te verbeter.
Dié vrywilligers is elke dag besig met ‘n verskeidenheid take wat wissel van die bedryf van ‘n haarsalon tot inkopies doen. Hulle spreek nie net die fisiese behoeftes aan nie, maar sien ook om na die emosionele welstand van mense. Hul bediening sluit ook die versorging van voete en hande, die kook van konfyt vir die tehuis, die herstel van klere, en die reël van bederffunksies soos dié op Valentynsdag in. Hierdie take dra by tot die skep van ‘n omgewing waarin elke inwoner gekoester voel.
‘n Spesiale gebeurtenis is die jaarlikse Rolstoelstap, wat vanjaar op 21 Februarie plaasgevind het. Die strate van Gansbaai was gevul met inwoners in rolstoele begelei deur vrywilligers. Die oggend was afgesluit met ‘n bederf vir die inwoners, soos ‘n verfrissende sappie, gevolg deur ‘n heerlike feesmaal en vermaak by die tehuis.
‘n Beduidende aspek van die Rolstoelstap is die interaksie met ander rolspelers soos die speelskooltjie naby die tehuis. Die kleintjies bring ‘n geskenkie vir elke inwoner – hierdie keer ‘n inkleurprent met rooibeksoentjies wat die kinders self gedruk het. Hierdie ontmoeting bring ‘n glimlag op die gesigte van beide die inwoners en die kinders.
Dit is in die klein dingetjies wat ons baie keer die grootheid van God se liefde en genade ervaar. Iets soos ‘n rooibeksoentjie word ‘n verklaring dat iemand jou raaksien en jou liefhet.