Getuienis uit Laaiplek: Skoene raak sonstraal vir skole

👤 Ronelda Visser

Hoeveel waarde sit werklik in ’n paar skoene? Vir sommige is dit net iets om soggens vinnig aan te trek. Maar vir ’n kind wat kaalvoet skool toe loop, is dit ’n teken van hoop, beskerming en waardigheid. Só het die Laaiplek-gemeente ontdek dat God selfs deur iets so eenvoudig soos skoene kan werk – om lig te bring in kinders se lewens.

Charl van Rensburg van Laaiplek vertel van ’n besondere projek wat hulle saam met die plaaslike Netcare Mediclinic aangepak het. Die MyWalk-inisiatief is ’n vennootskap tussen Netcare en Adcock Ingram om veilige mediese afval soos dripsakkies en buise te verwerk in duursame skoolskoene vir kinders in minderbevoorregte areas.

Die storie van hierdie skoene begin lank voordat dit by ’n kind se voete beland. Die proses begin wanneer gebruikte dripsakke en buise deeglik gesteriliseer word. Daarna word dit versamel, verwerk en gevorm in ’n fabriek tot ’n sterk plastiekmateriaal. Uit hierdie materiaal word die sole gemaak, lig, maar taai genoeg om harde grond te trotseer. Met net soveel sorg word die boonste deel saamgestel, sodat die skoen gemaklik en duursaam is. Elke paar is dus nie net ’n produk nie, maar ’n simbool van hoe gebrokenheid weer heel gemaak kan word.

Hierdie skoene is dan teen R35 per paar te koop. Laaiplek-gemeente het onlangs vir elke skool in die dorp ’n skoen in elke grootte gekoop en gaan dit aflewer. “Ons vertrou dat ons dit gaan moontlik maak dat elke kind ‘n ordentlike paar skoolskoene kan besit.”

Mervyn Ruiter, skoolhoof van Noordhoek Primêre Skool, het sy groot waardering uitgespreek. “Ons is diep dankbaar dat ds. Charl klokslag en gelei deur die genade en insig van die Heilige Gees, telkens op die regte tyd opdaag met ’n voorstel en plan wat presies in die kol is.

Hierdie skoene maak ’n werklike verskil in die lewens van ons kinders – veral vir dié wat glad nie het nie. Dit herstel nie net hul waardigheid nie, maar beskerm hulle ook teen die wrede spot van sekere maats. U geskenk is meer as net ’n paar skoene; dit is ’n daad van liefde en medemenslikheid wat die harte van ons kinders aanraak.

Ons sal altyd skenkings soos skoene, kouse en skoolklere waardeer, want dit herstel waardigheid binne die portuurgroep. Mag God u ryklik seën en versterk in u bediening, en mag u altyd weet dat u ’n pragtige sonstraal is in die storm van morele uitdagings wat ons daagliks by Noordhoek Primêre Skool trotseer.”

En so word afval in hoop omskep, en gewone skoene word ’n sonstraal wat kinders se voete, én hul harte, warm hou.

laaiplek, skoene
Deel hierdie inhoud met jou mense!
Lees ook: