Here, ons bid vir ons ma’s, dogters en sussies
👤 Wilmi Wheeler
Wanneer die kerk vir vroue bid, doen ons meer as om mooi woorde hemel toe te stuur. Ons erken hulle waardigheid (want hulle is geskape na God se beeld), hulle stryd (want die lewe is nie altyd regverdig nie) en hulle potensiaal (want hulle het ‘n stem en ‘n roeping). Ons bid nie net vir beskerming nie. Ons bid vir dogtertjies om groot te word in ‘n wêreld waar hulle weet hulle is kosbaar. Waar ma’s ondersteuning het. Waar oumas se wysheid waardeer word. Waar vroue se invloed erken word, in die kerk en daarbuite.
Ons volg die voorbeeld van Jesus, wat nie net met vroue gepraat het nie, maar hulle bemagtig het.
Dink aan die Samaritaanse vrou by die put (Joh. 4). Sy was ‘n buitestaander, ‘n naamlose figuur in die oë van die samelewing. Maar vir Jesus was sy ‘n draer van waarheid, ‘n getuie wat ‘n hele dorpie na Hom toe gelei het. Dink aan Maria, wat aan Jesus se voete gesit en geluister het (Luk. 10:39). Sy het gekies om ‘n dissipel te wees, al het die mense om haar geglo dit is nie haar plek nie. Dink aan die vrou met die bloedvloeiing (Mark. 5:25-34). Vir twaalf jaar was sy geïsoleer, maar toe sy in geloof na Jesus reik, het Hy haar nie net gesond gemaak nie – Hy het haar ook aangespreek as “dogter,” haar ‘n identiteit van liefde en aanvaarding gegee.
Jesus het vroue gesien. Hy het hulle stories ernstig opgeneem. Hy het hulle bemagtig. Wanneer ons vir vroue bid, volg ons in sy voetspore.
Ons bid en dan maak ons ons hande oop om te help bou.
‘n Gebed vir vroue
Here,
Dankie vir die vroue in ons lewens.
Seën die dogtertjies wat nog leer wie hulle is.
Seën die vrou wat twyfel of sy genoeg is.
Seën die ma wat nie altyd die antwoorde het nie.
Seën die ouma wat vir almal bid behalwe vir haarself.
Mag hulle weet:
Hulle is nie net gesien nie, maar gekies.
Word nie net geduld nie, maar is geliefd.
Nie net geskape nie, maar geroep.
Vir die vrou wat moed verloor – Here, wees haar anker.
Vir die vrou wat verwerp is – Here, wees haar toevlug.
Vir die vrou wat vrees – Here, wees haar beskerming.
Mag ons as kerk nie net vir hulle bid nie,
maar sáám met hulle staan,
sáám met hulle bou
en sáám met hulle glo.
Dankie vir die vroue in ons midde.
Mag elke vrou weet dat sy kosbaar is in u oë.
Mag sy die vrymoedigheid hê om haar plek in te neem,
in u koninkryk en haar lig te laat skyn.
Amen.