Hoeveel gemeentes kan spog met ‘n 87-jarige koster?
👤 Wilmi Wheeler
In die hart van die pragtige Klein-Karoo lê Ladismith, ’n dorpie waar almal mekaar ken en waar gasvryheid nie net ’n mooi woord is nie, maar ’n manier van leef. En as daar een persoon is wat hierdie gees van samehorigheid en diensbaarheid beliggaam, is dit die gemeenskap se eie oom Piet – ’n man wat op 87-jarige ouderdom steeds getrou sy rol as koster van NG Kerk Ladismith vervul.
Vir sommige mense mag 87 jaar beteken om agteroor te leun en die lewe rustig te geniet, maar nie vir Oom Piet nie. Of dit nou grassny, tuinmaak of algemene instandhouding is, oom Piet en sy span sorg dat alles in en rondom die kerkgronde tip-top is. Vakansies en verlof? Nie vir hierdie toegewyde man nie! Selfs gedurende die grendeltyd het niks hom gekeer om steeds na sy geliefde kerk se terrein om te sien nie.
Oom Piet is ’n ware dorpslegende
In ’n klein dorpie soos Ladismith is dit maklik om mekaar te ken, maar sommige mense maak ’n onuitwisbare indruk. Oom Piet is een van daardie mense. Wanneer nuwe intrekkers hul tasse neersit in Ladismith, is hy een van die eerste gesigte wat hulle ontmoet. Sy vriendelikheid en opregte belangstelling in ander maak dat mense gou tuis voel.

Die gemeente vertel dat Oom Piet se onwrikbare toewyding herinner hulle aan Brother Lawrence, die bekende 17de-eeuse kloosterbroeder wat geglo het dat elke eenvoudige taak, wanneer met liefde gedoen, ’n daad van aanbidding is. Of hy nou blare ophark of nuwe gesigte met ’n warm glimlag verwelkom, oom Piet dien die Here met sy hande, sy hart en sy nederige gesindheid. Hy wys vir ons dat diensbaarheid nie net oor groot gebare gaan nie, maar ook oor die klein, alledaagse dinge wat met liefde en sorg gedoen word.
NG Kerk Ladismith is nie net trots op hul kerkgronde wat altyd skoon en netjies is nie, maar veral op die man wat dit moontlik maak. Oom Piet is ’n lewende bewys dat ouderdom nie ’n beperking hoef te wees nie. Sy werksetiek, lojaliteit en liefde vir sy kerk en gemeenskap is ’n inspirasie vir almal.
So, watter ander gemeente kan spog met ’n koster soos oom Piet? Ons weet nie, maar een ding is seker – Ladismith is verryk as gevolg van hierdie besondere man!