#Imagine: Meer as ’n vibe – dis ’n ontmoeting

👤 Ria Strydom

#Imagine 2025 was my derde #Imagine-ervaring en ek is absoluut oortuig dat die #Imagine resep ’n wenresep is.

Maar dis belangrik dat mense verstaan – #Imagine is nie net ’n kombinasie van hoë energie, praise & worship en helder ligte nie. Dis nie net balle wat val van die dak af nie. Dis ’n resep vir ontmoeting. Ontmoeting met jouself. Met ander. Met God.

#imagine

Die kamp is gestruktureer rondom een Bybelverhaal wat behandel word in grootgroepsessies en meer intiem in kleingroepe. Video’s word op die grootskerm gewys wat byvoorbeeld ’n moderne Saggeus of die Samaritaanse vrou by die put, voorstel – nie net om te kyk nie, maar om in te klim en jouself daarin te ontdek. Sodat die Bybelverhale vlees en bloed word in tieners se alledaagse leefwêreld.

Teen die kante van die saal is gebedstasies, wat met groot moeite kreatief ingerig word volgens verskillende temas wat regtig sin maak vir tieners.

Byvoorbeeld, by die gebedstasie “God is Healer”, is groot harte geplant, waarop die tieners kan skryf wat hulle pla. Tydens ’n volgende sessie kry die tieners geleentheid om een hart te kies en ’n pleister oor die seer te plak en vir daardie tiener te bid. Hier leer tieners nie net van gebed nie – hulle DOEN dit. Hulle dra mekaar se seer. Hulle oefen wat dit beteken om draers van hoop te wees.

En dit hou nie daar op nie. Buiten groot- en kleingroepsessies, is daar ook ’n lys van werkswinkels wat voor die kamp aan die tieners gestuur word, waaruit hulle drie werkswinkels kies, een uur per sessie. Temas wat gedek word, is onder andere lesings deur kundiges (Johan Laten, byvoorbeeld) oor hoe om ’n depressievegter te wees of ander te help daarmee, hoe om die Bybel te lees, boelies te hanteer, hoe om self in jou gemeenskap gebedstasies te bou, selfwaarde, ens. So, dit gaan nie net oor wat jy hoor nie, maar wat jy huis toe vat. Wat jy word.

My ondervinding as groepleier, is dat die tieners by Imagine meer weerloos en openlik is tydens groepsessies, wat die ideale omstandighede bied om vir ’n tiener ’n verskil te maak. Dis in daardie oomblikke wat ons as volwassenes besef: Hier word grond bewerk. Hier gebeur iets wat jy nie kan namaak of force nie. Dis eg. Dis helend. Dis heilig.

Hierdie jaar het dit my ook getref hoe verskillende kulture tieners soomloos verbind en vriende maak. “Tannie, ons sien nie kleur nie, ons sien mense,” het een van my groeplede aan my verduidelik. En ek het dit geglo.

In my geestesoog het ek my verbeel BJ Vorster sit saam met my oupa op die stoep in die hemel en pyp rook, koppie en piering met tee op die tafel voor hulle (dalk iets sterker). Oupa kyk die storie op Bredasdorp so en sy oë blink. “Nou ja…” sal hy sê, niks meer nie. Maar hulle sal sien dit is soos God dit wil hê en daar is liefde soos die grootste gebod ons leer.

Deel hierdie inhoud met jou mense!
Lees ook: