In Memoriam: Prof. Pieter Coertzen

👤 Lisel Joubert

Prof. Pieter Coertzen, ʼn voorste kerkregkenner en bekende in kerklike en akademiese kringe het op 11 Maart op die ouderdom van 82 jaar afgesterf. Vir baie leraars van ʼn sekere generasie is hy die welbekende skrywer van “Gepas en Ordelik”, ʼn voorgeskrewe werk wat vele studente mee bekend was. Die leser kan hom of haarself indink dat die naam van die publikasie tot vele grappies onder die studente gelei het. Daar is iets waardevol aan so ʼn nagedagtenis wat ook anekdoties is. ʼn Nagedagtenis wat ʼn mens se lewe gedenk deur die vertel van ʼn verskeidenheid verhale, grappe en ontmoetings en in die geval van prof. Coertzen aangevul kan word deur menige leraar.

Prof. Coertzen het sy universiteitsopleiding aan die destydse Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys en die Universiteit van Stellenbosch ontvang. In 1977 word hy dosent in ekklesiologie aan die Universiteit Stellenbosch, waar hy in 1988 bevorder is tot professor en ook ʼn termyn as dekaan gedien het. Hy was ook internasionaal erken en was buitengewone hoogleraar nie slegs aan die Universiteit van Stellenbosch nie, maar ook Buitengewone Hoogleraar in Vergelykende Kerkreg aan KU Leuven in België.

Hy was nie net op akademies gebied, nie maar ook op kerklike gebied betrokke, waar hy leraar was in Dundee, Potchefstroom-Wes en later gekoppel was aan die NG Gemeente Franschhoek. Op Sinodale gebied het hy gedien as aktuaris van die Algemene Sinode van die NG Kerk (1994-2004) en die Sinode van die Wes-en-Suid Kaapland (1991-1999). As mens, navorser en kerklike bedienaar was hy bekend as hardwerkend, noukeurig en gedissiplineerd.

Sy eie Gereformeerde Kerk en geloofsverstaan het in sy werk deurgeskemer. Hy was baie positief oor ʼn Grondwet wat godsdiensvryheid verseker, en het deelgeneem aan die gesprekke wat daartoe gelei het. Vir Coertzen was gewaarborgde godsdiensvryheid ‘n geleentheid tot roepingsvervulling vir alle kerke.

Buiteom sy akademiese en kerklike werk het prof. Coertzen homself ook uitgeleef in die Hugenotegeskiedenis van Suid-Afrika. As Hugenote nasaat het publikasies uit sy pen gevloei en het hy hom beywer vir die bewaring van hierdie erfenis. Een so voorbeeld is die publikasie ““Die Hugenote van Suid-Afrika 1688-1988” en die reël van ʼn groot Hugenote konferensie.  ʼn Ander publikasie waarvan hy die eindredakteur was die vieringsbundel Teologie, Stellenbosch 150 +.

Miskien is die beste manier om iemand te onthou, en sin te maak van daardie persoon se lewe, om na hulle eie stem te luister, soos hy in ʼn onderhoud in 2006 sy verstaan van die waarde van die kerkorde uitgebeeld het. Vir hom was die kernoortuiging dat Christus die Hoof van sy Kerk is. Prof. Coertzen was oortuig: “Uit God se orde vir sy kerk groei die tydgebonde orde in die kerk, word dit verwoord in kerkordes en word dit toegepas in kerkregering. Die kerk moet altyd daarteen waak om nie te dink dat die geformuleerde orde in ʼn kerkorde nie gelyk is aan God se orde vir sy kerk nie.”

pieter coertzen
Deel hierdie inhoud met jou mense!
Lees ook: