Iran: Bid vir Lig in die skadu van vrees

👤 Daniël de Wet

In ’n wêreld waar die nuus gevul is met oorlog, lyding en onsekerheid, is dit nodig dat ons mekaar daaraan herinner dat God ons roep om mense van gebed te wees.

Oor die volgende paar weke bid ons saam vir gemeenskappe regoor die wêreld wat onder groot druk leef. Terwyl ons bewus bly van die omvangryke nood in die wêreld op baie ander plekke ook, kies ons om vir hierdie tyd op spesifieke lande te fokus. Ons doen dit as deel van die liggaam van Christus waar ons te midde van lyding, bly vashou aan die waarheid: Christus leef en Hy bring hoop.

Week 1: Bid vir Iran

Iran, vroeër jare bekend as Persië, het ’n ryk geskiedenis en kultuur. Vandag leef miljoene mense egter onder die gewig van politieke spanning, ekonomiese druk en die werklikheid van konflik. Vir baie gewone Iraniërs beteken dit onsekerheid oor die toekoms, finansiële swaarkry en ’n daaglikse stryd om hoop te behou.

Selfs in hierdie moeilike omstandighede groei die kerk in Iran. Mense kom tot geloof in Christus, ten spyte van vervolging en beperking. Die kerk leef dikwels ondergronds, ’n stil gemeenskap wat in huise saamkom, saam bid en hoop bring in donker tye.

Hierdie gelowiges in Iran leef met risiko, maar ook met ’n diep oortuiging dat Christus sterker is as vrees. Hulle getuig van God se trou selfs wanneer hulle geliefdes verloor en wanneer hulle vervolg word.

Ons bid vir Iran – vir die mense, vir die land, en vir die ondergrondse kerk wat daar soos sout en lig leef.

Voorbidding:

  • Dat die ondergrondse kerk die hoop van Christus met vrymoedigheid sal verkondig te midde van oorlog, vrees en onsekerheid
  • Vir moed, vrede en volharding vir gelowiges wat onder druk leef, veral dié in aanhouding
  • Vir genesing en herstel vir almal wat fisies en emosioneel deur geweld en trauma geraak is
  • Vir vertroosting vir families wat geliefdes verloor het
  • Vir ekonomiese verligting vir gesinne wat onder swaar druk leef weens inflasie en armoede
  • Vir Iraniërs in die diaspora wat met angs en hartseer oor hul families leef
  • Vir internasionale studente uit Iran, ook in Suid-Afrika, wat onsekerheid en kommunikasie-uitdagings ervaar
  • Vir wysheid en sensitiwiteit om hierdie studente en gemeenskappe prakties en geestelik te ondersteun
  • Dat die lig van Christus deur die duisternis sal breek en ware hoop en transformasie sal bring
  • Vir leierskap wêreldwyd, dat internasionale reg gerespekteer sal word en dat diplomatieke oplossings eerder as militêre konflik gesoek sal word
Deel hierdie inhoud met jou mense!
Lees ook:
  • Skeppingsorg: Spaar water by kerkgeboue en huise

  • Bid vir Oekraïne: Hoop ten spyte van oorlog

  • Gebed vir Soedan: God sien die vergete raak