Is jy optimisties? Of het jy hoop?
👤 Tinus van Zyl
Die teoloog Jürgen Moltmann skryf in 1965 in sy boek, Theology of Hope, dat daar ‘n verskil is tussen optimisme en hoop. Optimisme is om te verwag dat daar goeie dinge in die toekoms sal gebeur, op grond van die moontlikhede wat nog sluimerend is in die verlede en hede. ‘n Optimis is iemand wat verwag dat daar vanuit die verlede en hede mooi dinge sal ontvou in die toekoms. Hierdie toekoms noem Moltmann futurum.
Hoop, daarenteen, is om te verwag dat daar goeie dinge in die toekoms sal gebeur, omdat daar iets onverwags – selfs ondenkbaar of onmoontlik! – vanuit die toekoms aan ons gegee sal word. Die verwagting van hoop kom nie vanuit die moontlikhede van die verlede of hede nie, maar vanuit die getrouheid van God wat uit liefde ‘n onverdiende geskenk aan ons sal gee in die toekoms. Hierdie toekoms noem Moltmann adventus.
Dit is hierdie hoop wat ons koester en inoefen in die tyd van Advent – die vier Sondae voor Kersfees. In Advent oefen ons om te wag op ‘n mooi toekoms, al sien ons geen moontlikhede van daardie toekoms in die verlede of in die hede nie.
Hierdie mooi toekoms waarop ons wag, is nie ‘n groter huis of ‘n blinker motor nie, ook nie eers die gesondheid en welsyn van ons geliefdes nie. Dit is nie minder korrupte en meer effektiewe regerings, of selfs ‘n skietstilstand tussen oorlogvoerende nasies nie. Die mooier toekoms waarop ons wag mag dalk al hierdie dinge insluit, maar dit is iets veel, veel groter as dit. Die mooier toekoms waarop ons wag, is niks minder nie as God se nuwe wêreld, waarin vrede oor alle nasies sal heers, geregtigheid vir alle onderdruktes sal seëvier en die hele skepping sal floreer.
Terwyl ons wag vir daardie nuwe wêreld met hoop, sien ons klein tekens daarvan raak in die wêreld om ons: in ‘n vriendelike gebaar van iemand op straat, in die gasvryheid van ‘n vreemdeling, in die behulpsaamheid van ‘n kollega, in die vergifnis van ‘n ou grief, in die versoening van ‘n gebroke familieverhouding.
Mag jy in hierdie Kersseisoen gevul word met ‘n onverwagse, onverklaarbare hoop, en mag jy tekens van daardie hoop oral rondom jou waarneem.
Tinus van Zyl is ‘n predikant by Durbanville-gemeente.