Isibindi: Waar liefde ‘n adres het

👤 Wilmi Wheeler

Wat beteken ‘n huis vir jou? Is dit net ‘n plek met vier mure en ‘n dak? Of is dit waar jy geliefd voel, waar jy veilig is, waar jy weet jy hoort? Vir baie jongmense is daardie sekuriteit net ‘n droom – totdat hulle by Isibindi kom.

Hier leer hulle wat dit beteken om deel van ‘n familie te wees. Nie net in woorde nie, maar in daad. Hier ontdek hulle dat hulle nie net oorleef nie, maar mag lééf. Soms is dit in ‘n warm bord kos of ‘n knus bed. Soms in ‘n gesprek met iemand wat regtig luister. En soms is dit in ‘n spesiale oomblik van saamwees waar hulle ‘n kans kry om iets nuuts te beleef en saam herinneringe te bou.

Soos op 29 Januarie. Op hierdie dag het 15 jongmense van Isibindi iets beleef wat hulle nie maklik sal vergeet nie – ‘n krieketwedstryd in ‘n stadion. MI Cape Town teen EC Sunrisers. Dit was meeste van hulle se eerste keer in ‘n stadion. Die skare het gejuig, die energie was tasbaar en die gees aansteeklik. Almal het dalk nie al die reëls van die spel verstaan nie, maar dit het glad nie hulle pret gekelder nie. Vir ‘n paar uur lank kon hulle saam as jongmense ontspan, lag en deel wees van ‘n opwindende ervaring.

Op die bus terug huis toe het hulle steeds gelag, steeds oor die wedstryd gepraat. Tussen die opgewondenheid deur, het een van die jongmense vertel: “It was my first time watching a cricket match and entering a stadium. I really really enjoyed the experience and I would love to do it again.”

En dit is Isibindi. Hulle bied vir jongmense ‘n veilige ruimte waar hulle voel: Ek behoort. Ek is waardevol. Ek is méér as my omstandighede.

Isibindi
Isibindi

Isibindi = ‘n Xhosa-woord wat moed beteken

Om dapper te wees. Om met oorgawe in te gaan, selfs al is die storm om jou hewig.

Isibindi is nie ‘n projek nie – dit is ‘n familie. “By Isibindi probeer ons elke dag om dapper te wees – vir onsself, vir mekaar en vir die jongmense wat hier ‘n tuiste vind. Ons moedig hulle ook aan om met moed te leef, al was hulle paaie moeilik.”

Hierdie missie is gebaseer op Matteus 14, waar ons lees hoe Petrus, te midde van ‘n storm, op die water geloop het. Hy het sy vrees getrotseer en die eerste tree in geloof gegee. “Die lewe hou storms in, maar ons hoef dit nie alleen te trotseer nie. Soms is die grootste moed net om ‘n tree vorentoe te gee.”

Hierdie jongmense weet van storms. Hulle het al uitdagings beleef wat ‘n mens kan breek. Maar by Isibindi leer hulle om, nes Petrus op die water, die eerste tree te gee, selfs in die middel van ‘n storm.

Hoop het hande en voete – en jy kan deel wees daarvan

Hierdie stories van hoop is wonderlik, maar dit gebeur nie vanself nie. Isibindi kan net voortgaan met hulle werk as mense soos ek en jy bereid is om ‘n verskil te maak.

Hoe kan jy help?

“Hierdie jongmense inspireer ons om aan te hou om Jesus se liefde prakties sigbaar te maak,” vertel Niel Steyn. “As jy saam met ons mooier prentjies van die wereld vir jongmense wil wys, kontak ons gerus by info@isibindi.org.za. Of gaan loer op ons Facebook of Instagram blaaie wat ons als aanvang.”

Deel hierdie inhoud met jou mense!
Lees ook: