Jacques Strydom se blik op gemeenskappe wat saamwerk
👤 Jacques Strydom
“Celebrating is great, but next time we must also have an evening of dialogue,” vertel die tienermeisie van God’s Merciful Hands wat langs my aan tafel sit en eet. Sy glimlag terwyl sy praat, en jy kan sien hoe passievol sy voel oor die moontlikhede van gesprekke wat jongmense kan hê. Sy is saam met klomp ander tieners in ‘n dansgroep wat gereeld by hul gemeente oefen. Hul pastoor, Khawulezile Msele, vertel dat hul gemeente bewustelik ‘n veilige ruimte vir kinders wou skep, en die dansgroep het hieruit ontstaan. Dit is een van die vele stories van hoop wat ons op hierdie aand kon vier. Elke kind wat hier deelneem, ervaar nie net vreugde nie, maar ook ‘n gevoel van behoort en waardering.
Op 21 Augustus het 6 gemeentes saam aan tafel kom sit om stories van hoop, samewerking en ook van swaarkry te deel. Hierdie gemeentes is deel van die Great Commission-NG Kerk vennootskap, ’n unieke inisiatief wat gemeentes verbind en hul samewerking bevorder, wat in tweeling-pare opgedeel is waarin hulle deur die loop van die jaar saamwerk. Hierdie tweeling-pare, wat elkeen bestaan uit een Khayelitsha-gemeente en een voorstedelike NG Gemeente, ondersteun mekaar op verskillende maniere — soos deur jeug (vervoer en al) te borg om #Imagine by te woon; deur skenkings van basiese benodigdhede, klere en speelgoed vir minderbevoorregte kinders; en deur kanselruilings. Hierdie aksies toon hoe deernis en praktiese betrokkenheid in aksie lyk.
Vir die eerste keer is daar ook hierdie jaar ‘n Jeugdag-uitstappie gehou. 90 jeug en 30 volwassenes het saam in ‘n propvol bus en string voertuie na Tygerberg Natuurreservaat vertrek vir ‘n kort staptog, middagete en ‘n insiggewende praatjie oor natuurbewaring. Die dag het nie net geleer oor die belangrikheid van omgewingsbewaring nie, maar ook die band tussen jeug en volwassenes versterk. Met die vieringsaand is al hierdie stories gedeel en gevier, waardeur elke deelnemer se inspirasie en betrokkenheid sigbaar geword het.
Braam Hannekom was die gasspreker en het terugvoer gegee oor die 100 Dorpe Dialoog waarvan hy deel was. By meer as honderd dorpe het hulle twee vrae gevra: Wat is hier fout? en Wat moet hier gebeur? Hy deel van die wantroue en trauma wat in gemeenskappe leef en die uitdagings van armoede en misdaad. Tog, sê hy, is daar ’n visie en hoop wat ontstaan wanneer mense saam gesels en saam droom oor hul gemeenskappe. Met die oog op die onlangse Nasionale Dialoog sê hy die kerk nie anders kan as om met hierdie tipe dialoog voort te gaan nie – hierdie is die ruimtes waar betekenisvolle verandering begin.
Een van Braam se temas wat uit die 100 Dorpe Dialoog ontstaan het, is die fokus wat jeug behoort te kry — die feit dat dit so wonderlik is dat jeug telkens die fokus binne hierdie vennootskap is en dat die gemeentes in Khayelitsha so ‘n groot rol in hul jeug se lewens speel. Van voedingskemas tot vroeë-kinderontwikkeling sentrums, en natuurlik net ruimte om te dans, te kuier en kind te wees, dra dit by tot die vorming van gesonde, hoopvolle gemeenskappe. Hierdie aand het alles saamgekom: dans, gesprekke, viering, hoop en die deurlopende toewyding van gemeentes om jongmense te ondersteun. Dis ‘n herinnering dat wanneer gemeentes, leiers en jeug hand aan hand werk, wonderlike dinge kan gebeur.





