Jako Visser vertel oor sy pad van Ottery na Strand-Noord
👤 Kaapkerk Kommunikasie
Wanneer ’n nuwe roeping op jou wag, is dit dikwels gelyktydig met afskeid neem van mense en plekke wat jou diep geraak het. Só ervaar ds. Jako Visser tans die skuif van NG Ottery en NG Zwaanswyk na NG Strand-Noord.
“My ma het onlangs gesê: ‘Jy is presies waar die Here jou nou wil gebruik. Hy sal jou skuif wanneer jy uiteindelik daarvoor reg is.’” Hierdie woorde dien as ’n anker vir hom in ’n tyd van verandering.
Jako se bediening het die afgelope jare oor verskeie ruimtes gestrek. “Vir die afgelope paar jaar het ek by HospiVision (sedert Mei 2021) en daarna NG Ottery en NG Zwaanswyk (sedert Januarie 2023) bedien.”
By HospiVision het hy iets van die breër kerk se hart ontdek: “By HospiVision kon ek met mense uit elke denkbare denominasie saamwerk. Mens kon tot die besef kom dat almal in hulle harte net die Here tot die beste van hulle vermoë wil dien. Dat dit vir hulle beteken om die kwesbare naaste in staatshospitale by te staan en ‘n oor te wees wanneer geliefdes vêr is.
Die gawe van diversiteit, nie net in terme van verskillende denominasies nie, maar ook in terme van ouderdom, ras, kultuur en agtergrond is iets wat my altyd sal bybly. Dit is ‘n getuienis, ook vir die kerk, dat wanneer ons bereid is om oor grense te beweeg en ons broers en susters wat dalk bietjie anders as ons oor die evangelie dink te omhels, daar ‘n ware impak en verskil gemaak kan word.”

Hierna het die fokus verskuif na plaaslike bediening. “Weens die deeltydse aard van die posisie by HospiVision kon ek ook die geleentheid hê om my roeping verder in die kerk uit te leef waar ek twee klein gemeentes kon bedien. Die mooi van kleiner gemeentes is dat mens werklik die gevoel van familie ervaar. Almal ken almal. Almal ken mekaar se stories en wanneer iemand die Sondag nie in die kerk opdaag nie, word daar uitgereik na die persoon omdat almal vir mekaar ook omgee.”
Klein beteken egter nie gering nie. Jako vertel: “Ek het gesien dat net omdat mens ‘n klein gemeente is, beteken dit nie dat mens nie ‘n groot impak kan maak nie. Ek kon uit ‘n gekombineerde groep lidmate van 51 mense sien hoe die Here hierdie groepie mense gebruik om ‘n Laerskool van oor die 500 kinders bederf met paaseiers een jaar met Paasfees. Nog een van my hoogtepunte was hoe ons een aand kon uitreik, na ons net vir een week afgekondig het dat ons kos benodig, en ons vir hawelose mense 104 maaltye kon besorg.”
Hierdie belewenisse het sy vertroue in God se voorsiening verdiep. “Al is die gemeentes klein, is hulle harte groot. God sorg vir Sy kerk. God onderhou Sy kerk. God gebruik Sy kinders en vra net dat hulle bring wat hulle het.”
Die afskeid van Ottery en Zwaanswyk is daarom nie maklik nie. “Ek en Johannie asook Japie en Carien gaan die gemeentes wat ons deel van hulle familie gemaak het baie mis. Ons is egter opgewonde oor die nuwe avontuur wat voorlê by NG Strand-Noord en kan getuig dat hulle ons ook alreeds soos familie laat voel met hulle behulpsaamheid.”
Hierdie nuwe hoofstuk bring vir die Vissers ook vreugde op gesinsvlak. Hulle het onlangs dogtertjie Carien, nou sewe weke oud, verwelkom. Met sy vrou Johannie en seuntjie Japie vorm hulle saam ’n gesin wat, soos Jako sê, net kan getuig van God se trou en voorsiening. Hulle sien uit daarna om deel van Strand-Noord se gemeente-familie te word en saam nuwe stories van geloof en diens te skryf.




