Jesus kon rus in ’n storm… Hoekom kan ek nie?

👤 Wilmi Wheeler

Jou “out of office” is aan, maar dan antwoord jy nog skelm e-posse. Jou gedagtes wandel dalk na werk wat nog moet klaarkom.

Jy smag eintlik na die soort rus waarvan mense praat op Instagram: Voete in die lug, boek op die skoot, “selfcare” in die onderskrif. Maar daar’s net iets in jou wat nie afskakel nie. Jy probeer rus… en faal. Klink dit bekend? Jou liggaam is dalk in vakansie-mode, maar jou binneste werk nog oortyd. Jy lê, maar jy rus nie. Jy’s af, maar ook aan. Jy’s moeg, maar voel skuldig oor die feit dat jy moeg is.

Dit is ’n baie spesifieke soort uitputting. Nie net fisies nie, dit is sielmoeg. Die soort moegheid wat saamgaan na plekke toe. Wat nie verdwyn as jy net die pas van die lewe bietjie afdraai nie.

En dis regtig nie net jy nie.

‘n “Out of office” is nie net vir jou e-posse nie

Jou verlof is goedgekeur en elke persoon wat vir jou ‘n e-pos stuur, gaan ’n vrolike out-of-office antwoord kry. Jou kalender sê “afwesig.” Jou voete is dalk in die sand, of op jou bed, voor die TV of in ’n inkopiesentrum sonder ’n doel.

Maar jou kop?

Jou kop is dalk nog op kantoor. Of in Excel. Of by iets wat jy “moes klaarmaak” voor jy “mag rus”.

Hoekom sukkel ons so om af te skakel?

Om out-of-office te wees op papier beteken min as jy innerlik nog in vyfde rat is.

Maar onthou: Rus is nie ’n beloning vir harde werk nie. Dis ’n geloofsdaad.

Wanneer jy rus, verklaar jy:

  • Ek is nie God nie.
  • Die wêreld sal nie uitmekaar val sonder my nie.
  • Ek is nie net waardevol as ek produktief is nie.

Dis teologie, nie tydsbestuur nie.

Jesus het geslaap. In ’n storm

Hierdie toneel uit Markus 4 is een wat onmoontlik voel vir moderne mense om hulle in te leef: ’n storm woed, die boot slaan rond, maar Jesus is vas aan die slaap. Nie omdat Hy nie omgee nie. Juis omdat Hy rus in ‘n dieper vrede wat nie verdwyn as die omstandighede verander nie.

Dis vreemd, maar vertroostend. Want daardie storie sê: rus is moontlik… selfs in storms. Maar nie sonder vertroue nie.

Dis dalk waarom rus vir baie mense voel soos ’n bedreiging. Want om stil te raak, is om beheer prys te gee. Om eers regtig rus te kan ervaar, moet ’n mens leer sê: Ek is nie in beheer nie en dis okay.

Rus is nie ‘n beloning vir volhoubare uitbranding nie

In ’n wêreld wat mense leer om hul waarde te koppel aan produktiwiteit, word rus al hoe meer ’n bedreiging eerder as ’n beloning. ’n Mens hoor dit dikwels in gesprekke tussen vriende: “Ek wens ek kon net een dag niks doen nie, maar ek voel skuldig as ek stil sit.” Of: “Om net rond te sit en niks doen nie is slegteheid.” Hierdie ongemak met niksdoen is nie sinoniem aan luiheid nie. Dis ’n innerlike weerstand wat voortspruit uit die idee dat “om te bestaan” nie genoeg is nie. Ons moet kamma “verdien om te rus.”

Sielkundiges bevestig hierdie spanning. Volgens ’n 2022-studie deur dr. Devon Price (sielkundige en dosent aan Loyola University Chicago), sukkel mense met chroniese selfkritiek dikwels om rus te vertrou. Hulle glo, selfs onbewustelik, dat hulle eers moeg genoeg of “goed genoeg” moet wees om te mag ontspan.

Rus word dan iets wat verdien moet word. En as daardie innerlike “toestemming” nie kom nie, bly selfs vakansie onrusbarend.

Dan sien ons rus as is ’n beloning vir harde werk. Nie ’n reg nie. Nie ’n geskenk nie. Jy mag ontspan ná die werk. Ná jy gewys het jy’s toegewyd. Ná jy produktief was. Ná jy nie meer nuttig is vir ander nie.

Maar die Bybel bied ’n radikaal ander prentjie: “Kom na My toe, almal wat moeg en belas is, en Ek sal julle rus gee.” (Matt. 11:28)

Nie: “Kom as jy alles reggedoen het.”
Nie: “Kom as jy klaar deur jou inbox gewerk het nie.”
Net: “Kom.” Soos jy is. Moeg. Belas. En ontdek dat rus nie ’n beloning is vir goeie gedrag nie, maar ’n uitnodiging is tot herstel.

Nie almal kan op ’n strand lê met ’n kokosneut wat ’n strooitjie inhet nie. Maar gelukkig het rus nie ’n eksotiese ligging nodig nie. Dit begin binne. Dit begin by oorgawe. By erkenning: Ek is moeg. Ek kort rus, nie net slaap nie. Ek wil nie aanhou hardloop net omdat ek nie weet hoe om stil te wees nie.

Rus is nie ’n eenmalige oomblik nie, dis ’n leefwyse. Dis om elke dag klein stukkies terug te vat van wat uit jou gevat is. Dis stilte in jou oggend. ’n Nee wat jy sê sonder skuld. ’n Middernag-gebed wat nie iets vra nie, net asemhaal.

Dis om jou selfoon af te sit sonder om eers vir almal te verduidelik hoekom. Dis om jou eie menswees te eer, nie as iets wat eers verdien moet word nie, maar as iets wat God reeds liefhet.

En dalk, hierdie vakansie, is die beste ding wat jy vir jou siel kan doen nie nog ’n “to-do list” nie, maar ’n “to-rest list”:

  • Sit jou foon neer
  • Gaan sit êrens sonder doel
  • Asem in, asem uit
  • Herinner jouself: Jy is nie jou werk nie. Jou identiteit is in Christus.
  • Onthou: Jy is geliefd

Jesus se uitnodiging aan jou

Gaan lees weer Matteus 11:28 en weet dat daardie woorde ook op jou van toepassing is.

Hy nooi ons nie net na ’n strand of ’n gemaklike plek om jou kop neer te lê nie, maar na ’n plek waar ons nie ons waarde hoef te bewys nie.

Nie: “Kom as jy klaar is met alles.”

Nie: “Kom as jy dit verdien het.”

Net: kom. Moeg. Onvoltooid. Onrustig.

Rus, in God se wêreld, is nie onaktiwiteit nie. Dis heraansluiting. Dis identiteit sonder prestasie. Dis “Ek is geliefd” sonder “want ek het iets gedoen.”

Lekker rus.

Deel hierdie inhoud met jou mense!
Lees ook: