Weet jy wat is jou kind se liefdestaal?

👤 Wilmi Wheeler

In ons pogings om ons kinders lief te hê en te koester, is dit belangrik om te besef dat elke kind uniek is in hoe hulle liefde ervaar en uitdruk. Jou kind se liefdestaal is eie aan hom/haar. Gary Chapman se boeke oor “The 5 Love Languages” help ons om te verstaan dat elke mens ‘n unieke “taal” het waarmee hy/sy liefde ontvang en graag gee. Die 5 tale wat hy identifiseer is:

  1. Woorde van bemoediging – komplimente, waardering, vriendelikheid ens.
  2. Kwaliteit tyd – tye van onverdeelde aandag, kwaliteit gesprekke en aktiwiteite
  3. Ontvang/gee van presente – enige visuele simbole van liefde gekoop, gevind of gemaak
  4. Dade van diensbaarheid – hulp of waardevolle dade, fokus op fisiese behoeftes
  5. Fisiese aanraking – gebare, drukkies, lyftaal en gepaste aanraking

Hierdie vyf liefdestale bied ‘n waardevolle raamwerk om beter te verstaan hoe om liefde aan ons kinders oor te dra op ‘n manier wat hulle die meeste waardeer. Deur jou kind se spesifieke liefdestaal te identifiseer, kan jy effektief kommunikeer en ‘n sterker, meer vervullende verhouding bou.

Identifiseer jou kind se liefdestaal

Dis somtyds makliker om by kinders hul liefdestaal te identifiseer.

’n Kind wat blom as jy ’n kompliment gee of maklik “ek is lief vir jou” sê, hou van opbouende woorde. ’n Kind wat elke dag saam met jou wil krieket speel op die gras of wil vertel hoe hulle dag was, blom as jy kwaliteit tyd met hulle spandeer. ’n Kind wat vir jou klippies of kaartjies aandra is visueel ingestel en sal klein geskenkies waardeer. ’n Kind wat graag wil help skoonmaak, dra aan iets of ’n koppie tee vir jou wil maak sal ook positief reageer op diensbare dade. En ’n kind wat op jou skoot sit of hou van stoei of kielie sal fisiese aanraking soos drukkies baie positief ervaar.

Vir nadenke of gesprek in julle gesin:

  1. Ouers – dink terug aan jou kinderdae – in watter mate het jy ervaar jou ouers het jou lief? Hoe het jou ouers hulle liefde aan jou uitgedruk? Hoe beïnvloed dit die manier waarop jy vandag jou omgee kommunikeer?
  2. Watter taal spreek jou die meeste aan? Watter taal het jy die nodigste? Lys dan die ander 4 in volgorde van belangrikheid.
  3. Kan jy jou lewensmaat en kinders se liefdestale identifiseer? Gesels saam daaroor – dis pret om elkeen se “taal” te ontdek!
  4. Hoe kan julle as gesin mekaar se “tale” aanleer en mekaar meer waardeer?

Sodra jy jou kind se liefdestaal geïdentifiseer het, kan jy jou uitdrukkings van liefde daaraan aanpas. As jou kind fisieke aanraking waardeer, maak ‘n punt daarvan om gereeld drukkies en soentjies te gee. Vir ‘n kind wat woorde van bevestiging liefhe, bied gereeld aanmoediging en vertel hulle hoe trots jy op hulle is. As kwaliteit tyd belangrik is, beplan gereeld spesiale oomblikke saam. Vir diensbaarheid, doen klein dinge wat hul lewe makliker maak en as geskenke hul liefdestaal is, verras hulle met iets kleins en betekenisvol.

Elke kind het ‘n diep behoefte om geliefd te voel en verstaan te word. Deur die vyf liefdestale te gebruik as ‘n hulpmiddel, kan ons hierdie behoefte aanspreek en ‘n dieper, meer betekenisvolle verhouding met ons kinders bou. Weet jy wat is jou kind se liefdestaal? Neem die tyd om dit uit te vind en sien hoe dit nie net jou verhouding met hulle versterk nie, maar ook hoe dit hulle help om die liefde van God beter te verstaan en te waardeer.

Lees gerus meer aanlyn of doen ‘n kort vraelys soos hierdie by: http://www.selectsmart.com/FREE/select.php?client=5lovelanguages

En nou: geloof, hoop en liefde bly, hierdie drie. En die grootste hiervan is die liefde! 1 Kor 13: 13

Artikel aangepas vanaf Tale van die liefde op DinkJeug, wat geskryf is deur Anriëtte de Ridder.

Deel hierdie inhoud met jou mense!
Lees ook: