La Rochelle: “Wanneer die kerk leeg loop…”
Ria Strydom
’n NG La Rochelle tradisie wat die toets van tyd deurstaan, is ons jaarlikse besoeke aan tien organisasies, naamlik Welverdiend Aftreeoord, Alta du Toit Nasorg, Kerk vir Haweloses, die Lucky Lucy Stigting, ons plaaslike brandweer en petroljoggies, Miles Bowker (Stikland) en MES.
Vir die afgelope 20 jaar, op ’n Sondag in Augustus, verskuif die gemeente na die gemeenskap. Dié wat na die uitstuurmoment agterbly, smeer broodjies wat ook in die gemeenskap uitgedeel word.
Mens sou kon vra wat presies hierdie jaarlikse uitreike so suksesvol maak, met groot getalle gemeentelede wat jaarliks weer en weer entoesiasties deelneem. Ons het oor die jare geleer dat ons tyd, omgee en deernis meer werd is as dit wat ons kan gee. Verder word kontinuïteit bereik met dieselfde koördineerders wat jaarliks dieselfde organisasies verteenwoordig – toegewyde gemeentelede wat deur die jaar ook betrokkenheid verseker.




Ons tema vanjaar, “Word deel van die netwerk”, is gebaseer op Lukas 5, die roeping van die eerste dissipels. Soos Simon Petrus “stom verbaas” was oor die groot klomp visse wat hulle gevang het, was ons vanjaar ook stom verbaas oor die groot getalle lidmate wat deelneem.
Elke jaar na die uitreike gons die whatsapp groepe soos gemeentelede hul ervarings deel: “Ek het gesels met een van die werkers (by Lucky Lucy) wie se seun onlangs gebore is, maar hy het die geboorte gemis omdat sy vrou noodgedwonge in Durban moet werk. Hy het nie gekla daaroor nie, inteendeel, hy was die vrolikheid self en het opgewonde vir my foto’s en videos van sy vrou en seun gewys.”

By Miles Bowker tref dit iemand hoe dankbaar die weerlose mense is vir ietsie kleins soos ’n koekie en ’n drukkie. Tieners hoor stories van ouer persone by Welverdiend Aftreeoord en Huis Redelinghuys en besef die realiteit van bejaardes in ouetehuise wie se kinders hul vergeet het. Die kinders wat Alta du Toit besoek het, het die voorreg gehad om plantjies te plant vir die tuin.
Wanneer die kerk leeg loop by La Rochelle, word die nette wyer gegooi, en leer ons wat kerkwees werklik beteken.


