Lees saam, leer saam, leef saam
👤 Wilmi Wheeler
Woensdag 5 Februarie is Wêreld Hardop-lees Dag en dit is nie net ‘n dag om boeke oop te maak nie, maar harte ook. Hierdie is ‘n gulde geleentheid vir gemeentes om kinders se lewens aan te raak, geloof te kweek en ‘n liefde vir lees aan te wakker. Lees saam, leer saam, leef saam – en maak ‘n blywende impak, een storie op ‘n slag. Little Seeds Eenheid vir Vroeëkindontwikkeling staan gereed met hulpmiddels en praktiese ondersteuning oor hoe hierdie dag as ‘n VKO-uitreikgeleentheid in gemeenskappe benut kan word. Hoe gaan julle gemeente hierdie dag aanpak?
Vraag #1: Waaroor presies gaan Wêreld Hardop-lees Dag?
Hierdie dag word jaarliks gevier om wêreldwye geletterdheid te bevorder, veral met kinders. Om hardop te lees help kinders om belangrike leesvaardighede te ontwikkel, soos om hul woordeskat uit te brei, woordherkenning te stimuleer en om luisterbegrip te bevorder. Om saam met iemand ‘n storie te lees skep ‘n veilige ruimte waarin kinders kan leer en floreer. Op die ou einde gaan dit nie oor die storie wat gelees word nie, maar oor wat tussen mense gebeur wanneer hulle ‘n storie saamlees.
Vraag #2: Hoe kan ‘n gemeente Wêreld Hardop-lees Dag as ‘n uitreikgeleentheid gebruik?
Hier is drie idees:
- Moedig gemeentelede aan om op Woensdag 5 Februarie ‘n storie saam met n kind te lees. Maak gemeentelede bewus van die dag tydens ‘n erediens en julle gemeente se aanlyn kommunikasie.
- Besoek vooraf julle naaste VKO-sentrum (dalk juis die een wat by julle geboue huur) of een in julle gemeenskap. Besoek die hoof en stel julleself voor. Vra of julle dat julle die oggend van die 5de Februarie ‘n storie kan kom lees. Maak gemeentelede bymekaar, spreek vooraf af watter stories julle saam met die kinders gaan lees en gaan hê groot pret saam met die kinders!
- Julle wil deelneem, maar kan nie gaan lees nie en het nie baie kinders in die gemeente nie. Hoe nou? Oorweeg dit om kinderboeke in te samel en vir Little Seeds Eenheid se leesinisiatiewe regoor die Wes- en Oos-Kaap te skenk. Hou ‘n spesiale kollekte ten bate van die leesinisiatiewe. Kontak gerus vir Ds. Melanie Thirion indien julle gemeente hierdie opsie oorweeg, by melanie@littleseeds.org.za.

Vraag #3: Waar kry ons lees-hulpmiddels?
- Kyk die volgende video vir baie praktiese wenke en idees vir saamlees: https://www.youtube.com/watch?v=vn_RgzkiifU&t=213s Stuur dit gerus vir ouers ook aan.
- Vir gratis aanlyn-storieboeke in verskillende Suid-Afrikaanse tale, besoek https://bookdash.org/books/
- Vir Little Seeds Eenheid se boekmerkie met leesriglyne op, besoek https://littleseeds.org.za/wp-content/uploads/2023/09/HoeLeesEk.jpg. Laai dit gratis af en versprei gerus na ouers, grootouers of enige iemand wat deur die week met kinders werkVraag #4: Lees ons net vir die een dag?
Beslis nie! Skep ‘n lees-kultuur in julle gemeente. Help ouers/grootouers om ‘n roetiene in die huis te vestig om Bybelstories saam te lees. Sodoende help hulle kinders se geloof vorm en tweedens kweek hulle‘n liefde vir lees by die kinders.
Indien julle met VKO sentrum kontak gemaak het, ondersoek die potensiaal om julle gemeente se verhouding met die Sentrum uit te brei. Gesels met die hoof oor die moontlikheid dat julle gereeld die VKO-sentrum kan besoek. Gesels oor wat die skool se vreugdes en behoeftes is. Bid saam dat die Here vir julle sal wys waar julle as gemeente hand kan bysit en op watter wyse julle ondersteuning kan bied.
Vraag #5: Ons gemeente wil graag verder en prosesmatig met VKO betrokke wees, waar kan ons aanklop vir hulp?
Gesels gerus met Little Seeds Eenheid vir VKO as julle gemeente bystand nodig het met enige iets VKO-verwant! Stuur gerus vir ons ‘n epos by info@littleseeds.org.za en ons span sal vinnig met julle kontak maak.