Leiers, sien eerder die eikeboom as die akker raak
Wilmi Wheeler
Ek het eintlik gedink ek weet min of meer wat om van ’n leierskapaand te verwag. Daar sou seker ’n goeie spreker wees, ’n paar idees wat mens huis toe kan neem, dalk ’n gesprek oor hoe ons beter kan lei. Die soort aand waar jy met ’n paar notas op jou foon en minstens een nuwe gedagte by die deur uitstap.
Maar by Parow-Welgelegen se eerste leierskapnetwerkgeleentheid het iets anders my eerste getref: Ons het gesing. Lank. Nie net twee liedjies om die program behoorlik aan die gang te kry voordat ons by die “regte inhoud” uitkom nie. Lofprysing en aanbidding was ’n groot deel van die aand.



Hoe langer ons daar gestaan en sing het, hoe meer het dit vir my gevoel asof dit dalk presies die regte plek is om ’n gesprek oor leierskap te begin. Voordat ons mense is wat leiding neem, besluite maak, spanne bestuur, idees uitdink of probeer om ’n verskil te maak, is ons mense wat self ontvang. Mense wat moet onthou dat alles nie op ons skouers rus nie.
Ds. Divan Vrey vertel dat die gedagte vir die leierskapnetwerk uit Hebreërs 3:13 gegroei het. “Maar solank daar nog ’n ‘vandag’ is, moet julle mekaar elke dag aanspoor.” Hy sê daar is soveel mense in hulle gemeenskap wat reeds goeie werk doen en dat hulle as kerk ’n plek wil wees waar dié mense geïnspireer en toegerus word om daarmee voort te gaan.
Dit is vir my ’n mooi manier om na die kerk se rol in ’n gemeenskap te kyk. Nie noodwendig as die plek wat altyd met die antwoorde aankom nie, maar as ’n plek waar mense wat reeds op verskillende terreine dra, lei en dien, vir ’n oomblik kan kom ontvang.
Parow-Welgelegen en hul buurgemeente, Parow-Panorama, het oor die jare baie waarde uit die Global Leadership Summit se materiaal geput en daaruit het die idee ontstaan om leiers uit die gemeenskap saam te bring vir ’n aand van ontmoeting, aanbidding en toerusting. “Natuurlik as kerk is ons eerste ingesteldheid om eer te bring aan God, so nadat mense mekaar leer ken het, het ons eers lofsang en aanbidding gebring en daarna na ‘n video gekyk.”

Die tema van die aand was A Legacy of Leadership en later het ons saam na Dan Owolabi se praatjie oor goeie leierskap gekyk. In die video moedig hy leiers spesifiek aan: “See oak trees where others see acorns.” Die beeld is eenvoudig genoeg: Waar een mens net ’n akker sien, sien iemand anders reeds die moontlikheid van ’n eikeboom.
Dan praat ook oor ons begeerte dat ons werk moet saak maak: “We all want our work to matter, to have impact, to leave a legacy.” En dit is seker waar. Ons wil graag glo dat iets van wat ons doen, sal bly staan. Dat ons werk, ons bediening, ons organisasie of ons invloed nie net verdwyn wanneer ons eendag uit die prentjie tree nie. Maar dan skuif hy die vraag. Nie: Wat is my nalatenskap? nie, maar eerder: Wie is my nalatenskap?
Daardie klein woordjie verander nogal baie. Want skielik gaan nalatenskap nie meer hoofsaaklik oor wat ek gebou, bereik of agtergelaat het nie. Dit gaan oor mense. Wie het sterker geword omdat ek hulle raakgesien het? Wie het ’n kans gekry omdat iemand bereid was om potensiaal raak te sien voordat dit vir almal anders sigbaar was?

’n Eikeboom lyk immers nie indrukwekkend wanneer dit nog ’n akker is nie. Jy moet ’n bietjie verbeelding hê. En geduld. En dalk is dit een van die belangrikste dinge wat ’n goeie leier kan doen. Om nie net raak te sien wat iemand nou is nie, maar ook iets te vermoed van wat hulle nog kan word.
“Na die tyd kom vertel ‘n lidmaat in ons kerk hoe ‘n soortgelyke scenario uitgespeel het in hul lewe,” vertel Divan. Hy is bewus van Iemand in die kerk aan wie ‘n kans en ’n geleentheid gegee is en wat vandag in ‘n posisie gegroei het waar sy ‘n groot seën vir ander is.
En skielik was die beeld van die akker en die eikeboom nie meer net ’n slim metafoor op ’n skerm nie. Dit het ’n naam en ’n gesig gekry. Divan vertel dat dié oomblik hom weer laat besef het hoe ryk ons kerke eintlik aan sulke stories is. Oral is daar mense wat kan terugkyk en sê: Iemand het my raakgesien. Iemand het my aangespoor. Iemand het vir my ’n deur oopgemaak. Iemand het my gehelp om raak te sien wat ek self nog nie kon sien nie.

Miskien is dit juis waar iets besonders in hierdie leierskapnetwerk lê. Nie bloot nog ’n geleentheid waar mense geleer word hoe om meer suksesvol, produktief of invloedryk te wees nie, maar ’n ruimte waar leiers self eers herinner word aan Wie hulle dien en dan uitgestuur word om met ander oë na die mense rondom hulle te kyk. Om potensiaal raak te sien. Om mekaar aan te spoor solank dit nog “vandag” is. Om mense te help groei sonder dat daardie groei ooit aan jou naam hoef vas te sit.
“Ons wil graag as kerk en buurgemeentes ‘n rol speel in die gemeenskap en ‘n plek wees waar mense toegerus en geïnspireer word so ons beplan ‘n opvolg geleentheid,” sê Divan.
En dalk is dit hoekom die lofprysing vir my uiteindelik die aand se belangrikste beginpunt geword het. Want ’n nalatenskap begin miskien nie wanneer ons harder probeer om iets indrukwekkends agter te laat nie.
Dit begin wanneer ons vir ’n oomblik ophou om onsself in die middel van die verhaal te plaas. Wanneer ons ontvang. Wanneer ons kyk. En wanneer ons in iemand wat nog soos ’n akker lyk, reeds die moontlikheid van ’n eikeboom begin raaksien.


