Leonard Cohen se Hallelujah vir ’n gebroke wêreld
👤 Wilmi Wheeler
Musiek het ’n manier om sonder toestemming in jou lewe in te stap. Dit loop deur die gange van jou herinneringe, sluip in jou drome in en verskyn onverwags in ’n winkel of op die radio terwyl jy werk toe ry. Party liedjies leef lig op die oppervlak, ander sink bietjie dieper en dan kry jy dié wat nes maak in die skeure van jou hart, waar hulle vir jare lank bly.
Leonard Cohen se musiek is een van daardie blywende dinge. Iemand by die konferensie beskryf sy stem as ‘n growwe lap oor ’n wond, soms skuur dit, maar dit beskerm ook. Sy lirieke weef hulself in die groot en klein stories van ons lewens: die liefde, die verliese, die oomblikke van hoop en die tye van swaarkry. Dis musiek wat weet hoe om in jou te bly, selfs lank nadat die laaste noot stil geword het.
Dit is presies hoe almal se stories oor hulle herinneringe van Cohen se musiek bymekaar gekom het. Elke persoon dra hulle eie vers, hul eie Hallelujah.





Leonard Cohen se liedjies in ons lewens
Mense se stories oor hulle herinneringe van Leonard Cohen se liedjies vul die vertrek by die Andrew Murray Sentrum in Wellington.
Iemand onthou die donker ligte van ’n kroeg. Hy het jare gelede daar gestaan, as uitsmyter (bouncer) by die deur, toe ’n stem oor die luidspreker begin sing het: “Suzanne takes you down to her place, near the river…”
’n Vrou sing saam en sy ken al die woorde van die liedjie, selfs hierdie deel: “And Jesus was a sailor when he walked upon the water. And He spent a long time watching from His lonely wooden tower. And when He knew for certain only drowning men could see Him. He said all men will be sailors then until the sea shall free them.”
Hy lag en sê hy was nog jonk en braaf en vra vir haar of sy weet wat sy sing. Sy trek haar skouers op en hy vertel toe dat die lirieke gaan oor die kruis, oor Jesus se onvoorwaardelike liefde vir ons.
Hulle gesels, min wetend dat hulle paaie kort voor lank weer sal kruis en dat sy die Man op die kruis waarvan sy gesing het, ook dan sal aanbid. Die liedjie het ruimte gegee vir hierdie gesprek, net daar en dan, binne ’n plek wat vir baie niks met geloof of kerk te doen het nie.
Vir iemand anders het Leonard Cohen se musiek ’n brug geword tussen generasies. As jongmens het sy gesien hoe haar ouma nie “tannie-musiek” luister nie, maar na Cohen en dit het haar laat dink: my ouma is so cool! Cohen se lirieke het haar gewys dat musiek tydloos kan wees en saam met jou kan groei.
“And I choose the rooms that I live in with care.
The windows are small and the walls almost bare.
There’s only one bed and there’s only one prayer.
I listen all night for your step on the stair.”







Leonard Cohen se musiek oortref tyd
’n Ander stem vertel van ‘n ander tyd. Sewe-en-twintig jaar terug, om presies te wees. Die liedjie wat sy gekies het om oor te praat, is Dance me to the end of love. Sy maak haar oë toe vir ‘n oomblik terwyl sy haar storie vertel. Asof sy die oomblik weer deurleef soveel jaar later. Haar storie begin by twee mense wat dans op hierdie lied in ‘n restaurant, een van hulle is 9 maande swanger. Sy en haar man. Hierdie was twee dae voor haar dogter se geboorte.
Sy vertel van hierdie laaste dae voor die geboorte, ’n kind vir wie hulle lank gewag het, deur jare van seer en teleurstelling.
Daardie oomblik is nou vir altyd vasgevang in hierdie spesifieke liedjie, onuitwisbaar.
Later, lank ná haar dogter se geboorte, het sy eers regtig gehoor wat een van die lirieke sê: “Dance me to the children who are asking to be born.” Skielik was dit meer as net ’n mooi en romantiese liedjie, dit was ’n tipe profesie wat sy sonder om te weet, gedans het. En selfs vandag, as die eerste note van Dance me to the end of love begin speel, word sy teruggedra na daardie oomblik toe liefde en verlange, wag en vervulling, in enkele danspassies saamgevat was.



Leonard Cohen herinner aan wyle familielede
Daar is ook die storie van ’n pa wat Cohen liefgehad het. Sy vertel dit eers laggend, oor hoe Leonard Cohen se musiek in hulle huis net vir een persoon sin gemaak het. Haar pa. Die res van die gesin het dit beleefd verduur, maar nooit verstaan nie. Cohen was vir hulle te stadig, te swaar, te vol raaisels. Maar haar pa het hierdie musiek aan gehad terwyl hy koffie gemaak het of koerant gelees het.
Nou, vier jaar na sy dood, luister sy weer. Maar sy luister anders. Sy sê dit met ’n sagte glimlag wat skielik breek in ’n sug. Sy hoor die liedjies en sien sy gesig, nie in foto’s nie, maar in die klein maniere waarop hy die wêreld betree het.
Sy beskryf Cohen se musiek nou as ‘n draad wat haar nog met haar pa verbind. Die kitaar, die growwe rand van Cohen se stem, die lirieke wat half gefluister, half gebid is… dit is soos om saam met haar pa in ’n kamer te sit sonder om ’n woord te sê.
En miskien, sê sy, is dit die gawe van musiek: dat dit mense kan terugbring, al is hulle al lankal weg. Dat dit jou kan laat onthou met jou ore, totdat die herinnering so duidelik word dat jy sweer jy kan jou hand uitstrek en weer syne vat.







Leonard Cohen en die Shrek-generasie
En dan is daar die ligter stories ook, dié van mense wat vir die eerste keer Cohen se Hallelujah gehoor het terwyl ’n groen ogre in ’n moeras sy hart verloor het. Dis Shrek se skuld, sê hulle laggend. Hulle was nog kinders toe die fliek uitkom, onbewus van Leonard Cohen, maar heel bewus van die liedjie wat in daardie roerende toneel gespeel het.
Jare later, toe hulle die oorspronklike weergawe ontdek, het dit gevoel soos ’n geheime deur terug na hul kinderdae. Skielik het hulle besef hierdie lied is groter as die fliek, dat dit ’n hele wêreld van verhale en emosies oopsluit.
Vir hulle is Hallelujah dus dubbel gelaai: dit dra die speelsheid en nostalgie van ’n animasiefliek, maar ook die swaar en diepte van Cohen se pen. Dis soos ’n lied wat jou op die speelgrond ontmoet, maar jou later hand aan hand deur die storm lei.




Leonard Cohen se musiek ‘n baken in ‘n onseker Suid-Afrika
Ons kyk toe ook na Cohen se albums wat in die jare tussen 1989 en 1992 uitgekom het, ’n donker tyd in Suid-Afrika se geskiedenis. Hierdie jaar was geken vir onsekerheid en geweld. Iemand onthou hoe Cohen se liedjie Anthem soos ’n baken gekom het:
“Ring the bells that still can ring. Forget your perfect offering. There is a crack in everything. That’s how the light gets in.”
Vir hom was dit nie net ’n lied nie, maar ’n opdrag: gaan voort, doen die goeie, getuig dat ons nog hier is. En hy sien dit as ‘n relevante boodskap wat die kerk in Suid-Afrika vandag nog na aan die hart moet dra.
Leonard Cohen se Hallelujah in elke fase van ons lewe
Iemand anders hoor in Hallelujah ’n vers vir elke fase van die lewe. Daar’s ’n deel vir eerste liefde, ’n deel vir twyfel, ’n deel vir rou en ’n deel vir vrede. Die lied word ’n padkaart vir menswees: die lewe is soms bitter, soms soet, maar altyd eerlik.
En miskien is dit hoekom soveel mense hul eie stuk daarin vind, juis omdat dit nie probeer voorgee dat die lewe net mooi is nie, maar omdat dit sê: selfs in gebrokenheid kan daar ’n Hallelujah wees.
“You say I took the name in vain.
I don’t even know the name.
But if I did, well, really, what’s it to you?
There’s a blaze of light in every word.
It doesn’t matter which you heard.
The holy or the broken Hallelujah.”







Die goue draad wat Cohen se musiek verbind is dié gedagte: Selfs die donker stories het ’n plek. Iemand wat aanlyn ingeskakel het om sy sessie aan te bied, beaam hierdie feit. Hy vertel hoe Cohen geglo het dat sekere musiek nie ligsinnig geluister moet word nie. Hy het onthou hoe, tydens die Holocaust, sommige Jode gedwing was om viool te speel terwyl ander na die gaskamers gestuur is. Daar is musiek wat te heilig is om op te dans. Musiek wat ’n graf in sy melodie dra.
En tog is dit juis in hierdie spanning tussen lig en donker, heilig en gebroke, waar Cohen se liedjies floreer. Sy woorde dra die Bybel in hul sak. Hy sing van Dawid en Batseba, van die kruis en die opstanding, van beloftes en genade. Selfs in sy twyfel bly daar ’n deur na geloof oop: “And even though it all went wrong, I’ll stand before the Lord of Song, with nothing on my tongue but Hallelujah.”
Dis geloof wat nie voorgee om seker te wees nie, maar ten spyte daarvan steeds sing.
Alles wat ons by hierdie konferensie aangehoor het: Elke storie, elke herinnering, elke liriek, is soos ’n ligstraal deur ’n kraak. Hulle vorm saam ’n koor van stemme wat fluister en soms skree: ons leef steeds. Ons lief steeds. Ons glo steeds.
En dalk is dit presies wat Cohen se musiek doen. Dit herinner ons dat ’n Hallelujah nie perfek hoef te wees nie. Dat dit okay is as ons Hallejujahs maar koud en gebroke is en steeds geoffer word. Dat die wêreld se krake nie net tekens van skade is nie, maar van lig wat inkom.
Miskien is dit waarom ons steeds luister. Omdat in ’n gebroke wêreld, tussen die dans en die rou, tussen die kroeg en die kerk, tussen die geskiedenis en die hede, daar nog altyd ’n lied is wat bly. En êrens daarin, ’n Hallelujah wat vir jou en my bedoel is.



