Los Angeles se brande en Galasiërs 6:7
👤 David Botha
Hoe moet ons oor die onlangse brande in Los Angeles dink?
Daar is ten minste 28 mense oorlede. Dit is volgens berigte die grootste natuurramp wat Californië nog getref het. Geweldige skade en verwoesting is aangerig.
Kom ons begin by hoe ons nie oor hierdie brande behoort te dink nie. Daar is mense in Amerika wat ‘n video die wêreld in gestuur het wat die brande sien as God se straf op hulle wat in Los Angeles disrespek vir God het – met spesifieke verwysing na ‘n feestelike byeenkoms in Los Angeles net vyf dae voor die brande uitgebreek het. In die video word Galasiërs 6:7 gebruik as regverdiging vir hierdie oortuiging.
In die 2020 vertaling klink dié teks so: Moet julle nie laat mislei nie – God laat Hom nie bespot nie! Wat die mens ook al saai, sal hy maai.
Die skeppers van die video trek ‘n direkte lyn tussen die brande en die byeenkoms vyf dae voor die brande uitgebreek het. Die brande is dus God se reaksie op die bespotting van God se naam. As mense God bespot gaan God hulle bykom, insinueer die video met Gal 6:7 as regverdiging. Dus: Los Angeles het vir meer as drie weke gebrand as God se straf en oordeel oor die mense wat vir God bespot het.
Redes waarom ons nie só oor die Los Angeles brande behoort te dink nie
Dit strook nie met die hart van die evangelie nie.
Jesus Christus is die hart van die evangelie. Een van die opvallende kenmerke van sy lewe is die wyse waarop Hy bespotting nie net verduur het nie, maar ook geabsorbeer het. Wanneer Hy as gekruisigde tot bespotting gemaak is en kaal en ontbloot voor hemel en aarde hang, reageer Hy op al die bespotting met hierdie gebed: “Vader, vergeef hulle – hulle weet nie wat hulle doen nie.” Hy vra vergifnis – nie vergelding nie! Lyk dit en klink dit na ‘n God wat mense wat Hom spot met vuur en bliksemstrale sal tref?
Dit is glad nie wat Galasiërs 6:7 probeer sê nie
Alle tekste in die Bybel staan in kontekste: Eerstens die konteks van die onmiddellike tekste voor en na die teks. Dan ook die groter perikoop en die hoofstuk waarin dit voorkom en dan die hele boek/brief waarvan dit deel is – en les bes die konteks van die hele Skrif. Wanneer ons ‘n teks in die Bybel losmaak van die konteks waarin dit voorkom – soos die video oor die Los Angeles-brande doen! – is die kans baie goed dat ons die teks iets laat sê wat dit glad nie bedoel om te sê nie.
Kom ons kyk na die onmiddelike konteks van Gal. 6:7. Hoofstuk 6 begin (verse 1-5) met die opdrag om mekaar se sondelaste te dra vanuit ‘n houding van nederige erkenning dat ek niks beter is as die een wie se las ek help dra nie. En dat ek self ook daartoe in staat is om te val. In vers 6 praat Paulus oor die verhouding tussen iemand “wat onderrig in die Woord ontvang” en “die een wat hom onderrig.” Dié verhouding moet gekenmerk word deur mededeelsaamheid. Die een wat onderrig ontvang, moet uit liefde “al die goeie dinge wat hy besit” met sy/haar leermeester deel. Die een wat onderrig gee, deel die Woord en die een wat onderrig ontvang, deel al die goeie dinge wat hy/sy besit. En dan volg die woorde van vers 7: Moet julle nie laat mislei nie – God laat Hom nie bespot nie! Wat die mens ook al saai, sal hy maai.
Daar is ‘n wet in die natuur ingebou: wat jy saai, sal jy maai. Dit is nie ‘n dreigement of waarskuwing nie. Dit is ‘n feit. As jy mielies saai, gaan jy mielies oes – nie iets anders nie. Om hierdie waarheid te ignoreer of te minag, is eintlik om jouself te mislei en vir God die Skepper te minag (bespot). God sal dié bespotting nie toelaat nie – nie deur die spotter met bliksemstrale of vuur te tref nie, maar deur die handhawing van die wetmatigheid: wat jy saai, sal jy maai. As jy uit jou sondige aard saai, sal jy vernietiging oes, maar as jy in die Gees (mededeelsaamheid) saai, sal jy die ewige lewe oes (vers 8). Daarom, sê Paulus, moedig ek julle aan om “goed te doen”. Wie “goed-doen” saai, sal “op die regte tyd” die goeie maai (vers 9). Gebruik daarom nou die kans wat julle het om “goed te doen” aan ALMAL – veral ook “aan ons geloofsgenote” (vers 10).
Die konteks waarin vers 7 voorkom word dus gekenmerk deur die volgende drie omgee-opdragte
- Dra mekaar se sondelaste,
- Leef mededeelsaam,
- Doen wat goed is.
En Paulus motiveer al drie met die onderstreping van die feitelike waarheid uit die natuur: “Wat die mens ook al saai, sal hy maai.” Om hierdie waarheid te misken, is om jouself te laat mislei en om God te bespot – jou tong as’t ware vir God uit te steek.
Gal. 6:7 help ons wel om op ‘n ander manier na die LA-brande te kyk. Die natuurwet: “Wat jy saai, sal jy maai”, is besig om duidelik sigbaar te word in die effek wat klimaatsverandering op die natuur het.
Sedert die industriële revolusie se begin in 1760 is die mens besig om toenemend kweekhuisgasse in die aarde se atmosfeer te “saai”. En wat ons “oes”, is verhoogde gemiddelde temperature dwarsoor die aarde. Hierdie verhoogde temperature (reeds 1.6 grade celcius sedert die industriële revolusie se begin!) verander die aarde se klimaat. Deel van hierdie verandering is die verhoging in die intensiteit van weerstelsels. Kalifornië is bekend vir sy droogtes en brande. Die intensiteit en krag van die stelsels wat egter die afgelope tyd vir Los Angeles getref het is ongekend. En klimatoloë stem saam dat dít die dryfveer was agter die mees verwoestende brande in Los Angeles se geskiedenis.
Nee, die Los Angeles-brande is nie die straf van ‘n woedende God omdat sommige mense in Los Angeles met God gespot het nie. Die LA-brande se ongekende intensiteit is die gevolg van die kweekhuisgasse wat die mens nou al vir meer as 300 jaar in die aarde se atmosfeer saai (pomp!). Ons maai wat ons saai! Ons pluk die vrugte van ons lewenswyse. En wat ons maai/pluk, bring geweldige skade en ellende en pyn.
Ons sal beter doen en beslis meer in lyn met die evangelie wees as ons Gal 6:7 gebruik om mense daartoe op te roep om “mekaar se laste te dra”, “mededeelsaam te wees” en “goed te doen”, eerder as om videos te maak wat vir Los Angeles se inwoners sê dat die verwoestende brande God se straf is op hulle bespotting van God.
Al die verwoestende brande en storms oor die aarde roep ons tot bekering van die lewenswyse waarin ons aanhou om kweekhuisgasse in die aarde se atmosfeer te saai. As ons dit nie doen nie, gaan ons al meer verwoestende brande en storms maai. Los Angeles se brande is nog ‘n “wake-up call” vir ons almal, maar dan ook veral vir die Amerikaners wat een van die grootste vrystellers is van kweekhuisgasse. En as ons dan saam ly aan die gevolge van hierdie sondige lewenswyse roep Gal 6 ons daartoe op om globaal/kollektief/saam die laste te dra wat dit veroorsaak. Dit beteken onder andere dat ons mededeelsaam sal wees teenoor mekaar (ook lande teenoor lande!) en dat ons goed sal doen oral waar ons kan.
‘n Goeie reaksie op die natuurrampe wat ons tref kan die volgende wees:
#maakjoukoolstofvoetspooraanhoudendkleiner
#weesgoedvirjounaaste – wat ook die aarde insluit met al haar inwoners (aldus Jurgen Moltmann).