Mag ons vroue raaksien soos Jesus gedoen het
👤 Wilmi Wheeler
Jesus het ’n ongewone manier gehad om vroue raak te sien.
Nie net hulle gesigte of hul status nie, maar húlle.
Die vrou wat lankal uit die kring gedruk is. Die een wat nie meer ’n naam gehad het in mense se oë nie, maar net ’n beskrywing: “Die een met die bloedvloeiing.”
Jesus sien haar raak. Nie as ‘n mediese probleem nie, nie as ’n skande nie, maar as sy dogter.
“Dogter, jou geloof het jou gered.”
Hy sien die weduwee wat by die tempel se skatkis in haar beursie grawe. Twee klein muntstukke. Niemand anders gee regtig om nie. Maar Jesus hou sy oë op haar – sy gee nie uit oorskot nie, maar uit oorgawe.
Hy sien die Samaritaanse vrou by die put. Nie net haar geskiedenis nie, maar haar potensiaal. Die wêreld het haar al afgeskryf – vyf mans later, en nou ’n sesde. Maar Jesus maak haar een van die eerste evangeliste van sy bediening.
Dis ’n patroon deur die Evangelies. Jesus kyk nie weg van vroue se stories nie. Hy draai nie die geselskap vinnig terug na die manne toe nie. Hy maak plek. Hy breek strukture oop. Hy gee ’n stem terug aan vroue wat lankal tot stilte gedwing is.
En dan kyk ons na 2025.
Waar vroue ‘n Bybelstudie lei met ’n verskonende glimlag.
Waar hulle harder moet werk om dieselfde gesag te kry.
Waar die kerk makliker is met “vrouens wat dien” as met “vrouens wat lei”.
Vrouedag is nie net ’n dag vir pienk tees en spogontbytte nie. Dis ’n herinnering dat ons nog nie klaar is nie. Dis ’n uitnodiging om soos Jesus te kyk; met ’n onwilligheid om weg te kyk.
Wie is die vroue in ons gemeenskappe wat deur die krake val?
Die enkelma wat stil-stil met drie kinders kerk toe kom en nooit regtig inskakel nie.
Die jong vrou wat vrae vra oor haar plek in die bediening en net stil glimlaggies kry.
Die ouer tannie wie se kennis en geloof jare diep loop, maar wie se stem lanklaas gevra is.
Ons vier vandag nie net vroue se deernis of hul dienende harte nie,al is dit kosbaar.
Ons vier hul insig. Hul vernuf. Hul stemme.
En ons erken: die kerk het nog werk om te doen.
Jesus het vroue in hulle volheid gesien. Nie as projekte nie, nie as dekor nie, nie as helpers van ander se roeping nie. As deel van die Koninkryk se kernverhaal.
Mag ons dieselfde leer doen.
Gebed vir vroue
Here,
Dankie vir die vroue in ons lewens,
vir hulle lag wat lig bring,
vir hulle trane wat ruimte maak vir ander se pyn,
vir hulle hande wat werk en dra en troos.
Seën elke vrou wat vandag moeg is.
Elke vrou wat wonder of sy genoeg is.
Elke vrou wat glo, al voel sy soms vergete.
Gee haar rus waar sy oorlaai is,
vreugde waar sy leeg is
en vlerke waar sy net wil vlug.
Leer ons om soos U te kyk.
Nie net met waardering nie, maar met insig.
Nie net met lof nie, maar met plekmaak.
Dankie vir elke vrou
wat vasbyt sonder erkenning,
wat vra sonder om stilgemaak te word,
wat dien én droom.
Vergewe ons wanneer ons net fees hou,
maar nie vra hoekom daar nog ’n stryd is nie.
Vergewe ons as ons vroue se stemme romantiseer,
maar nie ernstig neem nie.
Heilig u kerk,
sodat dit ’n ruimte sal wees waar vroue nie net hoorbaar nie,
maar ook vormend is.
Amen.


