Msinga: Wanneer gelowiges saamwerk, word God se koninkryk sigbaar

Marené Pretorius

Elke jaar, tydens die Junie/Julie-skoolvakansie, pak George-Bergsig-gemeente die lang pad na Ebusi, Msinga, in KwaZulu-Natal aan. Wat vir baie soos ‘n jaarlikse uitreik lyk, begin lank voor die eerste bus vertrek, in gebed.

Maande se beplanning en voorbereiding word voortdurend aan die Here opgedra. Reeds voordat die span vertrek, word God se voorsiening sigbaar: in elke reëling wat in plek val, elke persoon wat deel van die span word, en elke behoefte waarin Hy voorsien. Met 54 spanlede, die jongste net 9 maande oud en die oudste 76 jaar oud, vertrek ‘n span van kinders, tieners en volwassenes om God te dien.

Dit is op sulke oomblikke dat die liggaam van Christus op ‘n besondere manier sigbaar word. Halfpad, in Bloemfontein, word die span met ope arms deur Berg-en-Dal-gemeente ontvang. Warm sop, liefdevol gedekte tafels, hartlike gasvryheid en opregte gebede herinner ons dat ons nie alleen reis nie. Hulle voorsien nie net voedsel vir die liggaam nie, maar versterk ook ons geloof en word deel van die verhaal wat God in Msinga skryf.

Met ons aankoms in Ebusi word ons weer met groot vreugde deur die gemeente van die Uniting Reformed Church in South Africa ontvang. “Sanibona!” en “Unjani?” weerklink oral. Ná ‘n jaar is dit ‘n groot vreugde om weer die mense te sien wat oor die jare familie geword het.

Een van die kosbaarste oomblikke van die uitreik is die eerste Sondag se erediens. Mense uit verskillende kulture, tale en agtergronde kom bymekaar met een doel: om die Here te aanbid. Ds. Rudolph Grobler van George-Bergsig bedien die Woord, terwyl ds. Sithole vertaal. Ons sing saam. Al verstaan ons nie altyd elke woord nie, verstaan ons harte die taal van aanbidding.

msinga

Die week wat volg getuig telkens van God se genade. Verskillende bedieningspanne dien op uiteenlopende maniere, maar almal met dieselfde doel: om Christus se liefde sigbaar te maak.

Die bouspan werk ywerig om die kerkie se dak te vervang, ‘n watertenk te installeer en Jabulani, waar ons bly en waar kerk- en jeugkampe gereeld aangebied word, op te knap.

Die kinderbediening spandeer elke dag tyd saam met ongeveer 30 kinders. Deur Bybelverhale, sang, speletjies en kreatiewe aktiwiteite ontdek hulle die wonderwerke van Jesus en leer hulle wat dit beteken om aan Hom te behoort.

‘n Besonderse nuwe geleentheid was vanjaar die vroeë-kinderontwikkelingsprogram vir crèche-onderwysers, aangebied onder leiding van Sanet Grobler en Lindie Stander. Die program het onderwysers toegerus met praktiese vaardighede en eenvoudige hulpmiddels om kinders beter te ondersteun.

Dit was besonder om die vreugde te sien waarmee hulle ontdek het dat ‘n bereidwillige hart en alledaagse voorwerpe dikwels genoeg is om ‘n blywende verskil te maak.

Terwyl die kombuis- en gebedspan sorg dat daar elke oggend en aand ‘n warm maaltyd gereed is, voorsien NG Kerk Ladysmith met groot liefde middagetes vir die span. Ook hier word God se kerk sigbaar: in hande wat saam dien, mense wat saam skottelgoed was, en gemeentes wat mekaar ondersteun sodat die evangelie verkondig kan word.

Die hart van Msinga bly egter evangelisasie. Elke dag beweeg twee of drie spanne die gemeenskap in om die goeie nuus van Jesus Christus te deel. By baie huise ontmoet ons gelowiges wat reeds lank saam met die Here stap. Dit is ‘n voorreg om na hulle getuienisse te luister, saam te bid en mekaar in die geloof te bemoedig.

Hendrik Stander se getuienis

Ons het by die volgende huis ingegaan nadat ons pas klaargemaak het by die een langsaan. Die man wat ons ontvang het, was waarskynlik in sy laat dertigs. Hy was ‘n verkoopsman wat baie rondgetrek het op soek na werk.

Die gesprek het begin met alledaagse vrae oor sy lewe, sy werk en sy huis. Soos ons gesels het, het dit al hoe dieper gegaan en uiteindelik by geloof uitgekom. Ons het hom uitgevra oor ‘n hut waarby ons op pad na sy huis verbygeloop het. Hy het verduidelik dat dit vir voorvaderaanbidding gebruik word. Later in die gesprek het ons ook agtergekom dat hy vir Shembe as God beskou.

Ons het met hom oor die evangelie begin gesels en vir hom ‘n Bybel gegee. Johannes 14:6 het ‘n belangrike deel van die gesprek geword, maar aanvanklik het dit gelyk asof hy net beleefd luister sonder dat die woorde werklik insink. Dit het gevoel asof die gesprek nêrens heen gaan nie.

Toe word hy gekonfronteer met die waarheid dat ‘n mens nie twee gode tegelyk kan dien nie. Daardie eenvoudige stelling het iets in hom laat verander. Van daardie oomblik af het hy aandagtig begin luister. Die evangelie is weer aan hom verduidelik, en toe Johannes 14:6 weer ter sprake kom, het hy opreg begin vrae vra en belang gestel.

Die gesprek het al hoe dieper geword, totdat ons hom gevra het of hy nie wou wegdraai van die voorvaders en ander gode wat hom in vrees laat leef nie. Hy het gesê dat hy nie langer in vrees wil lewe nie, maar vir Jesus alleen wil volg. Dit was duidelik dat die Here besig was om in sy hart te werk.

Ná meer as 45 minute se gesprek het hy sy hart in gebed vir die Here gegee. Toe ons “Amen” sê, het hy opgekyk met die breedste glimlag op sy gesig. Hy het elkeen van ons vasgedruk en net aanhoudend “Dankie” gesê.

Ons het vir hom ‘n boekmerk by Johannes 14:6 ingesit, van hom afskeid geneem en verder gestap. Ons hele span was diep geraak deur wat gebeur het, maar ek dink nie een van ons het op daardie oomblik ten volle besef hoe groot die wonderwerk was wat ons pas aanskou het nie.

God het op besondere maniere gewerk. Mense het genesing van pyn ervaar, ander het hulle lewe aan Christus oorgegee, en ons het gesien hoe die Heilige Gees harte aanraak en verander.

Clarissa van Tonder, 18-jarige matriekdogter, deel haar getuienis oor hoe sy God se transformerende liefde ervaar het

“Ek het groot geword in ʼn wêreld waar ek die gewoonte aangeleer het dat liefde verdien word. Alhoewel dit nog altyd vir my maklik was om uit te deel, was dit altyd vir my moeilik om te ontvang en te aanvaar.

Een oggend in ons stiltyd-sirkel het ʼn Zulu-man vorentoe gekom om sy getuienis te deel. Ek onthou net ek het vreeslik angstig gevoel omdat ek geweet het ek verstaan nie die taal nie, maar wil so graag net weet wat hy sê. Ek bid toe net vir geduld en fokus om te luister na ons tolk en aandag te gee aan die getuienis.

Soos wat die man sy storie begin deel, kom ek agter dat ek meer luister na hom as na die tolk. Ek besef toe dat ek verstaan wat die man sê. Ek was bang, maar dankbaar en begin toe net huil.

Toe die man klaar sy getuienis gedeel het, kom daar ‘n dogter na my toe en sê: “Don’t cry, do you know Jesus? Jesus loves you.”

Ek antwoord haar toe terug en sê: “Yes, I know Jesus. Jesus loves you, too.”

Sy gee my ‘n drukkie en sê: “No, you don’t understand, Jesus just loves you.”

Dit is toe wat ek besef hoe wyd en diep die liefde van Jesus is en dat ons nie hoef te baklei of te kompeteer daarvoor nie. Hy ontmoet jou waar jy is en is lief vir jou vir wie jy is, nie wat jy het of wat jy bereik het nie, maar net vir wie jy is.”

Msinga 2026 getuig van God se werk

Verlede jaar het ons vertel van ‘n Gogo wat voorheen ‘n sangoma was en tot bekering gekom het. Vanjaar kon die span haar weer besoek. Dit was ‘n diep bemoediging om te sien hoe sy steeds getrou die Here dien, standvastig in haar geloof bly en met vreugde getuig van sy genade.

Msinga 2026 was inderdaad gevul met getuienisse van God se werk. Tog was die pad nie sonder uitdagings nie.

Toe 48 van die 54 spanlede deur ‘n maagvirus en/of griep platgetrek is, het die uitreik skielik heel anders verloop as wat beplan is. Daar was nie een dag waarop die hele span gesond saam kon dien nie. Baie van die verwagtings waarmee mense vertrek het, moes plek maak vir swakheid, teleurstelling en afhanklikheid van God.

Juis daar het God Hom op ‘n besondere manier laat ken. Die span het mekaar gedra, vir mekaar gebid, verantwoordelikhede oorgeneem en aangehou dien, selfs wanneer dit moeilik was. Sy krag het juis in ons swakheid sigbaar geword.

Msinga 2026 het ons weer herinner dat God nie belowe het die pad sal altyd maklik wees nie. Hy belowe egter sy teenwoordigheid, en daarvan was daar geen tekort nie. Hy het voorsien, genees, gevorm, bemoedig en lewens verander, dikwels op maniere wat ons nooit self sou kon beplan nie.

Met die lang pad terug het ons die aand by Chargo Merino Inn in Colesberg oornag. Ook hier het ons opnuut God se sorg beleef. Hy het ons veilig bewaar op die lang pad en vir ons ‘n plek van rus gegee voordat ons die volgende oggend die laaste deel van die reis na George aangepak het. Dit was ‘n geleentheid om asem te skep, nuwe krag te ontvang en die Here te dank vir sy trou wat reeds van die eerste kilometers af sigbaar was.

As ons terugkyk, besef ons dat hierdie uitreik ook ons lewens getransformeer het.

Ons sluit af met Petri en Ismari Stander, met hulle dogtertjie (9 maande) en seuntjie (2 jaar), se getuienis

Dit was vir ons ’n besondere voorreg om die sendingveld in Msinga saam met ons seuntjie van twee jaar en ons dogtertjie van nege maande te kon beleef. As ouers het ons dikwels gedink dat ons eers op ’n sekere plek geestelik of prakties moet wees voordat ons ten volle beskikbaar kan wees vir God se werk. In Msinga het ons egter ontdek dat God ons presies waar ons is ontmoet. Ons het geleer om nie geloofsgroei, stiltetyd of gehoorsaamheid uit te stel omdat die kinders nog klein is nie. Inteendeel, ons kinders het deel geword van hierdie geloofsreis en kon eerstehands sien hoe God se liefde mense se lewens aanraak.

Msinga het ons ook geleer om met minder klaar te kom en te vertrou dat God se voorsiening altyd genoeg is. Daar, tussen eenvoudige omstandighede en ’n gemeenskap wat mekaar dra, het ons weer besef hoe maklik ons soms in God se plan wil inmeng, terwyl Hy reeds die pad vooruit ken. Die ervaring het ons nie net nader aan die Here gebring nie, maar ook aan die breër kerkfamilie. Msinga gee vir jou toegang tot ’n besondere familie binne die familie van Christus, mense wat saam dien, saam bid en saam groei. Dit is ’n geskenk wat ons as gesin vir altyd sal koester.

Die stof van Msinga lê dalk nou weer agter ons, maar God se werk hou nie op wanneer die bus in George stilhou nie. Wat Hy begin het, sal Hy aanhou doen, totdat Hy ons, as Hy wil, weer volgende jaar na Ebusi stuur. Mag Hy alleen die eer ontvang, want dit is deur sy genade en sy krag dat harte aangeraak, lewens verander en sy Koninkryk uitgebrei word.

Deel hierdie inhoud met jou mense!
Lees ook: