In die hartjie van Uganda, waar armoede en alleenheid dikwels die realiteit van talle kinders is, skyn ‘n helder lig van hoop, naamlik Noah’s Ark Children’s Ministry Uganda. Hierdie organisasie, gestig deur Peter en Pita van Nederland, maak ‘n reuse impak in die lewens van hulpelose kinders, jeugdiges, en selfs volwassenes in Uganda.

Die storie begin in die middel 90’s toe ‘n klein babatjie langs die pad in ‘n swartsak deur Peter en Pita gevind is. Hierdie babatjie is deur hul grootgemaak in hul woonstel in Kampala. In 1999 het hulle ‘n organisasie gestig, Noah’s Ark, met die doel om na kinders soos hierdie om te sien.

Die missie van Noah’s Ark is eenvoudig, tog kragtig: om liefde, sorg, en ‘n huis te bied aan kinders wat dit die meeste nodig het. Hulle bied nie net tydelike skuiling nie, maar ook langtermyn sorg, opvoedkundige programme, mediese sorg teen bekostigbare pryse, en nog vele meer. As ‘n nie-regeringsorganisasie (NGO) is Noah’s Ark afhanklik van skenkings vir elke aspek van hul werk.

Van ‘n klein huurhuis in Kampala tot ‘n uitgestrekte landgoed buite die stad van Mukono, het Noah’s Ark ‘n reuse tree in geloof gegee om meer kinders ‘n veilige hawe te bied. Familie-eenhede is gebou om ‘n so-normaal-moontlike lewe vir die kinders te verseker. Daar is selfs suksesverhale van kinders wat teruggeplaas is by hul eie families of aanneem ouers in Uganda.

Die New Horizon-skool het ook ontwikkel vanuit ‘n eenvoudige kleuter- en laerskool tot ‘n volledige opvoedkundige program van kleuterskool tot beroepsvoorbereidende sekondêre onderwys. Hierdie skool, wat oorspronklik slegs bedoel was vir kinders van Noah’s Ark, het uitgebrei om honderde kinders van arm gesinne in die omliggende dorpe te bedien. Dit is alles moontlik gemaak deur ‘n borgskapprogram wat die skoolgeld dek vir kinders wat dit nie kan bekostig nie.

Die kliniek van Noah’s Ark fokus nie net op die gesondheid van die kinders, studente en personeel op hul perseel nie, maar ook op die gemeenskap rondom hulle. Hulle bied bekostigbare, hoë gehalte gesondheidsorg, met ‘n spesifieke fokus op moeders, kinders, en die bekamping van ondervoeding.

Die toekoms van Noah’s Ark word gekenmerk deur hoop en ambisie. Hulle streef daarna om nie net ‘n veilige hawe te wees vir hulpelose kinders nie, maar ook om ‘n fondasie te lê vir ‘n beter toekoms vir elke kind wat met hul paaie kruis. Hulle hoop dat hul kinders eendag self ‘n gesonde gesin sal vestig en die siklus van armoede, onverskilligheid, en middelmisbruik sal breek. Met elke afgestudeerde van die New Horizon-skool glo hulle dat ‘n nuwe entrepreneur gebore word, gereed om nie net ‘n werk te soek nie, maar om ook werk te skep vir ander.

Noah’s Ark nooi elkeen om deel te word van hierdie inspirerende reis deur betrokke te raak. Luister ook na die gesprek met John en Magda Frylinck, wat hul verhaal deel, in ons onlangse podcast, en word deel van die verskil wat Noah’s Ark in Uganda maak.