Noodhulp verander lewens betekenisvol | Fia van den Heever
Mariëtte Odendaal
As jy die N7 noordwaarts na Namibië vat, sal jy onder andere naby die dorpie, Carolusberg, ongeveer 11 km oos van Springbok, verby ry.
Carolusberg is nie net ’n historiese koper¬mynnedersetting nie, maar is ook bekend vir sy Namakwaland-blomme, ruwe staproetes en diep-gewortelde kopermyngeskiedenis.
Wat hierdie dorp nog meer besonders maak, is Fia van den Heever se Noodhulp-projek. Vanuit haar kantoor sorg sy dat talle skoolkinders in die omgewing en ook verder, al geakkrediteerde Noodhulp-opleiding ontvang het; iets wat vir die kinder besonder baie beteken.
Cassandre Bezuidenhout, een van Hoërskool Okiep Noodhulp se spanlede, vertel byvoorbeeld: “Ek kan basiese noodhulpdiens aan mense lewer totdat daar professionele hulp opdaag. Die noodhulpkursus het my lewe betekenisvol verander; dit het my selfvertroue versterk.”
Charlize Curnow vertel: “Ons het groot respek vir mekaar, want ons is hier om lewens te red. En niks hiervan sou moontlik gewees het sonder Tannie Fia nie.”
Maar wie is hierdie tannie Fia van den Heever? Ons het meer oor haar en dié opwindende inisiatief gaan uitvind.
Fia, vertel ons eers meer van jouself
Ek is as een van agt kinders op Springbok gebore en het in die Richtersveld op die dorpie Octha, vandag bekend as Sendelingsdrift, grootgeword.
Alhoewel ons finansieel arm grootgeword het, was ons as gesin skatryk aan liefde, deernis en familiewaardes. Tot vandag toe is ons agt kinders, ons kinders en kleinkinders, nog steeds onafskeidbaar.
Ek was vir 28 jaar in die kleinhandelbedryf waarna ek ’n privaat ambulansdiens begin het.
My ma het ’n polis aan my bemaak waarmee ek na ’n mediese skool kon gaan en as paramedikus opgelei kon word om die bes moontlike noodhulpopleiding te kan aanbied; iets wat dit vir my moontlik gemaak het om my roeping uit te leef.
Wat is die naam van jou jongste Noodhulp-inisiatief en hoe het dit begin?
Die naam van ons projek is die Hoërskool Okiep Noodhulp.
Ek het van die begin van my ambulansdiens by Namaqua Paramedic Services elke jaar ’n skool gekies waar ek 15 kinders in noodhulp opgelei het.
In 2023 het ons diens gedoen by ’n sportbyeenkoms by Hoërskool Okiep, waartydens die kinders my baie beïndruk het met hul mooi maniere.
Toe ons later daardie jaar diens doen by ’n MBT 3-dag fietsrywedloop, kom die organiseerder na die wedloop na my en vra om hulp. Die boere deur wie se plase die fietsryers ry, het gekla dat die wedloopbeamptes ongeverifieerd was – hulle het sommer mense van die strate af gewerf – en was volgens die boere bekende kriminele.
Ek stel toe voor dat ons 15 kinders van Hoërskool Okiep in vlak 3 Noodhulp oplei en dat dit dan die eerste byeenkoms in Namakwaland sal wees waar al die veiligheidsbeamptes opgeleide noodhelpers sal wees, mits hulle my met die kostes sal help.
Tri-Sport en Okiep Country Hotel het toe die koste met my gedeel en ook gehelp met die hempies wat ons vir hulle laat maak het.
Sedertdien is Hoërskool Okiep Noodhulp in volle gang!
Wat behels dit alles om ’ bekwame noodhulpwerker te wees?
Respek. As jy nie respek vir jou medemens het nie, kan jy nie ’n noodhulpwerker wees nie. Jy moet ook empatie en simpatie hê.
Kommunikasie is ook van kardinale belang. Die noodhulpspan moet noodgewonge respekvol teenoor vreemde mense optree en kommunikeer; selfs met hul teenstanders op die sportveld en in die skool.
Dit is ook belangrik dat hulle soveel moontlik inligting in hierdie veld as moontlike loopbaan opdoen. Daarom is dit belangrik dat ek hulle saam met my na geleenthede neem waar ons mediese bystandsdiens lewer.
Ek laat hulle ook deur die polisie toelaat (clear) om tydens presidensiële geleenthede in die rooi gebied te mag werk waar geen persoon van die publiek toegelaat word nie.
Dis tydens sulke geleenthede waar die kinders besef hoe breed die toekomsmoontlikhede kan wees wat loopbane in die polisie, weermag, sekuriteit, geleentheidsbeplaning, spyseniering en vele ander beroepe kan wees.
Omdat die betrokkenes weet dis een van die redes hoekom ek die kinders saambring, deel hulle graag soveel as moontlik inligting met hulle.
By nasionale sportgeleenthede sien hulle hoe die verskillende rolspelers werk. Ek nooi gewoonlik die fisioterapeute om saam met ons ’n tent te deel sodat hulle kan sien hoekom jy opgelei moet wees om iemand se beserings byvoorbeeld te verbind.
Die noodhulpwerkers leer ook om lyftaal te lees. Jy kan aan iemand se lyftaal sien dat hy of sy gedehidreer of beseer is en dalk te skaam is om hulp te vra.
Noordhulp vereis ook opoffering. Ek gee ’n week van my tyd vir opleiding en hulle gee een week van hul vakansie.
Watter impak of transformasie het hierdie noodhulp-inisiatief al teweeggebring?
Die kinders is só professioneel dat die Departement van Sport, Kuns en Kultuur hulle al genooi het om diens te doen by al die provinsiale byeenkomste. Hulle is ook al genooi na al die ander skole in die omgewing.
Hulle verdien vir die skool se Noodhulpfonds so R500 per geleentheid. Daarmee word die noodhulpsakke eers opgevul en met die res help hulle ander kinders met geleenthede, soos om byvoorbeeld ’n skaakkampioenskap in Gqeberha (PE) of die Hoërskool Kunstefees ARTSCAPE Arena by te woon; ons maak altyd ’n plan.
Die spanwerk en entoesiasme waarmee die kinders werk, is so aansteeklik dat dit uitgebrei het na al die ander aktiwiteite by die skool. Dit is net te wonderlik om te sien – ’n mens kan dit nie beskryf nie, net beleef.
“Die ervaring en vaardighede wat ek deur die noodhulpspan opdoen, kan my ook in die toekoms baie bevoordeel,” vertel Chantelle Lombaard. “Dit kan vir my nuwe geleenthede skep, veral as ek eendag in ’n beroep wil werk waar ek mense kan help wat met veiligheid en gesondheid te doen het.”
Liam vertel: ”Deur te leer hoe om ’n lewe te red, selfs as dit aan ’n draadjie hang, het dadelik ’n verandering in my leefstyl gebring.”
Deel met ons van die heldeverhale
Dit is, om logistieke redes, nie vreemd om in ons omgewing tot en met drie ure op ’n ambulans te wag nie. So is ’n noodhulpwerker eendag uitgeroep om ’n kind te help wat besig was om te verstik. Met sy aankoms was die kind reeds sinoties (blou) om die mond weens suurstoftekort en het hy onmiddellik die Heimlich maneuver toegepas en die kind se lewe gered. Hy was baie trots toe die ambulanspersoneel met hul aankoms sy hand skud en “dankie” sê, want hulle sou te laat wees.
Nog ’n leerder is ingeroep om ’n sesmaande-oue baba se lugweg te help oophou en af te spons totdat die ambulans, waarop die ouers toe al langer as ’n uur gewag het, opgedaag het; iets wat die baba se lewe gered het.
Hoe kan mense julle noodhulpdiens ondersteun?
Ons kort nog vier sport-noodhulpsakke. Hulle doen soms diens tot op vier verskillende plekke per dag. Net die Noodhulpfonds kry R500 vir die diens wat gelewer word; die kinders werk gratis.
Dit sal wonderlik wees as ons nog geborgde hempies kan laat maak, aangesien net 20 kinders kon hempies kry; die ander spaar al vir ’n jaar en het nog nie genoeg geld om ’n hempie te koop nie.
Dan moet ons ook nog probeer om ons kinders te help om hulle medeleerders by die ARTSCAPE te kry!
Vir meer inligting kan Fia van den Heever by 082 703 7858 of fia@namakwaps.co.za gekontak word.


