Willie Korb se toringwaak: Wanhoop na nuwe hoop
👤 Wilmi Wheeler
Met sy toringwaak wil Willie Korb elkeen aanmoedig om te volhard in gebed – om vas te hou aan God en met alles in jou altyd na God te soek. “Dit is ook my grootste wens dat ons as mens sal besef sonder God kan ons nie waarlik lewe nie. Hy is die bron van al ons krag en die een wat vir uitkyk en wag om terug te kom huistoe of so te lewe dat ander weer die pad sal terug vind na God toe.
Mens hoor gereeld die vraag: ‘Waarom op ‘n kerk se toring sit?’ My persoonlike ervaring is dat die kerktoring die hoogste punt van die kerk is en saam glo ons en bely ons dat Jesus die hoof van Sy kerk is. Dat ons ook al ons kommer en vrese na God toe kan neem en alleenlik op Hom moet bly vertrou. As kinders van God moet ons altyd by God se voete gaan sit en met vrymoedigheid met Hom kan gesels oor alles in ons lewe.
Daarom is op die kerk toring vir my so goed soos by God se voete gaan sit en met Hom gesels. Daarom op ñ kerk se toring sit. Nie om onverantwoordelik te wees nie, maar om aan Hom al die eer te gee wat hom toekom.
Hierdie ervaring was geseënd in baie opsigte. Die projek se ontstaan het gekom meer as ‘n jaar van tevore nadat iemand ‘n kommentaar gelos het in ‘n artikel van Netwerk 24 en die Volksblad (2022) oor dit wat in Matteus 5:16 staan dat ons die lig van die wêreld moet wees. Die doel was om ‘n lig te laat skyn vanaf die kerk se toring helder genoeg om mense daaraan te herhinner dat die Kerk ‘n plek is waar almal welkom is.
My gevoel was dat die kerk se stem het die afgelope tyd baie stil geword en daarom moet daar nuwe lewe in gesit word. Mense het ‘n behoefte om tuis te gaan in ‘n kerk wat ‘n stem het. ‘n Kerk wat waarlik uitreik en omgee. Natuurlik weet ons doen kerke al hierdie dinge, maar daar is altyd ruimte om dieper en meer betrokke te wees. Ons het mekaar nodig.
Ons mense het nodig om te weet dat God by ons is en geen ander plek sal wees as by ons nie. Elke dag moet ons in afhanklikheid van God lewe (Matteus 5:3) en ook ons lewe oorgee aan Hom. Net soos Jesus sy lewe vir ons gegee het aan die kruis, moet elkeen van ons daarna strewe om ons alles vir God te gee en ook so te lewe soos wat God van ons vra.
Die hoogtepunte van die toringwaak
- Die gemeente se kinders wat besorgd was oor die dominee en ‘n spesiale video gemaak het waarin hulle my vra om asseblief veilig te wees en na skool het hulle almal kom kyk hoe sit die dominee op die toring.
- Daar was lidmate en boere wat in die dorp was en ook kom stilhou het om te kyk wat die dominee doen. Sommiges van hulle het in bakkies gesit en saam gebid. Ander het weer om sekere tye saam gebid vir ons land, ons boere en elke lidmaat wat God op hulle harte gelê het.
- Daar was tyd gewees om ook in gebed te tree vir ons kerk en haar mense.
- Stories van Hoop en gebedsversoeke het ingestroom.
- Die deelname wat wonderlik.
My grootste les wat ek geleer het op die kerktoring was dat God altyd daar is en Hy sal altyd luister wanneer jy na Hom uitroep. Hy sal jou ook omvou van alle kante, ook sal Hy jou bewaar. Hy is jou Rots van hoop.
Daarmee saam dan ‘n kort getuienis oor gebedsverhoring. Vir meer as 2 jaar het ek en my pa nie kontak gehad nie. Die wonder was dat my pa die aand voor die projek sou begin opgedaag het in Pofadder wat ‘n groot geskenk was uit die hand van God uit. Nie net was my pa deel daarvan nie, maar ook was hy getroue ondersteuner. Deur hierdie deur wat die here oopgemaak het vir my kon ek en my pa deur alles werk en ook met mekaar versoen word en daarvoor sal ek God vir altyd en ewig prys.
Ek is dankbaar vir die geleentheid wat God aan my gegee dat ek daardie swaar las wat ek by die kruis gaan neerlê het kon inruil vir ‘n klippie van Hoop. Ek moedig ook elkeen aan om dit wat op hulle harte is na God te neem en te ruil vir ‘n klippie van hoop.”
Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees!
Romeine 15:13


