Om missionaal te brei – NG Kerk Piketberg vertel

👤 Wilmi Wheeler

As jy verby die pastorie op Piketberg stap op ‘n Maandagmiddag en mooi luister, sal jy definitief die sagte geklank van breinaalde hoor. Hierdie klank vertel die storie van ‘n groep toegewyde breiers, bymekaar voor ‘n kaggel, met hul hande besig om sokkies te maak vir dié wat in die winter se koue moet oorleef. Maar hierdie beweging weef meer as net wol en gare aanmekaar; dit verbind harte aan God en aan mekaar.

Wol Warm Winterprojek NG Kerk Piketberg

Die Wol Warm Winterprojek

Die Wol Warm Winterprojek is nie net ’n breiprojek nie. Dit is ’n lewende getuienis van hoe God deur ons hande werk om sy liefde uit te dra na die wêreld rondom ons. In net ses weke het hierdie groep dames sowat 180 pare slaapsokkies gebrei, ‘n bewys van die krag van gesamentlike inspanning.

Die idee vir die projek het ontstaan toe een van die gemeente se toegewyde breiers, Hanlie Linde, wat al jare lank beertjies brei vir getraumatiseerde kinders, voorgestel het dat die breiers in die gemeente saam moet staan en slaapsokkies begin brei vir mense wat dit in die koue wintermaande nodig het. “Ek het net gevoel ons moet iets doen,” het sy gesê, oortuig dat God haar gelei het. Hierdie gedagte het diep inslag gevind en die breiers het dadelik begin werk.

Missionale handewerk

Wat hierdie projek so besonders maak, is dat dit nie net oor die fisiese warmte van die sokkies gaan nie, maar oor die geestelike warmte wat deur elke steek ingeweef word.

Soos Marietha Goosen, predikantsvrou en ook een van die ywerige breiers, sê: “Elke sokkie wat ons brei, is ‘n gebed vir iemand anders.” Hierdie dade van omgee het die Gees in hulle harte aangesteek en die vlam het vinnig versprei, gelei deur Handelinge 1 vers 8, die teksvers vir die projek.

Sodra ‘n paar sokkies klaar is, word dit dadelik uitgedeel. Die uitgee van die sokkies het begin in die breiers se onmiddellike omgewing, maar soos die groep gegroei het, het dit uitgebrei na die breër gemeenskap. “Ons het eers naby begin,” verduidelik Marietha. By hulle eie ‘Jerusalem’, soos Handelinge 1 dit stel, en sokkies vir werkers en behoeftiges wat die gemeente ondersteun gegee. Toe het hulle ‘n bietjie verder uitgegaan, na ‘Judea’ en ‘Samaria’ soos die personeel van Huis AJ Liebenberg. Die groep is tans besig om vir die plaaslike kliniek se personeel sokkies te brei. “Dit was wonderlik om te sien hoe God ons voetstappe rig!”

Hierdie is meer as net ‘n breigroep

Die projek gaan nie net oor brei nie, dit gaan oor gemeenskap.

Marietha het tydens die Junie-vakansie die behoefte gehad om by een van haar vriendinne te gaan kuier. Sy het haar ma wat weens ‘n baie aggressiewe vorm van kanker swak en bedlêend was. Marietha het haar breiwerk saamgeneem en langs haar vriendin se ma se bed sit en brei. Sy is kort daarna oorlede. “Ons het nie gesels nie. Haar ma is swak en siek en moeg. Maar ek is daar en ek brei.”

Dit was haar manier om teenwoordig te wees, om haar liefde en ondersteuning uit te druk in stilte. Sonder woorde, maar met ‘n hart vol deernis. In daardie oomblikke het sy besef dat sy besig is om missionaal te brei – dat hierdie eenvoudige dade ‘n groot verskil kan maak.

Die projek het ook ‘n sosiale komponent. Die breiers van die dorp kom elke Maandagmiddag by die pastorie saam om voor die kaggel te brei. Hierdie tye van saamwees het ‘n veilige ruimte geskep waar mense hul harte kan oopmaak en hul laste kan deel.

Een van die vroue het genoem dat sy haar man onlangs verloor het en dat sy die behoefte aan ‘n saamkuier handwerkgroepie gehad en het deur die breigroep nog ‘n plek gevind het waar sy vreugde en sin in die lewe kan ervaar.

Gestuur deur die Here om te brei

Soos die koue winter voortduur, het die projek ‘n refleksie van die seisoen geword. “’Hierdie jaar is ‘n besondere koue winter in die Wes-Kaap – so, ons is voor hierdie tyd gestuur deur die Here,” vertel Marietha.

Binne-in die koue het God se warmte deur die handewerk van hierdie vroue gewerk. Elke steek het ’n boodskap van hoop gedra, elke draad het die liefde van Christus gebring aan diegene wat dit die nodigste gehad het.

Die groep is al klaar besig om te dink oor wat volgende op hulle lys kan wees. Hulle dink daaraan om handskoene of mussies vir skoolkinders te brei as ‘n volgende projek.

Soos die Bybel sê, “En julle sal my getuies wees… tot aan die eindes van die aarde” (Handelinge 1:8). In hierdie geval, begin dit met ’n bol wol en ’n paar breinaalde.

Deel hierdie inhoud met jou mense!
Lees ook:
  • Danicke se lewe is veel meer as haar diagnose

  • “Boys will be boys?” – Nee. Seuns, wees soos Jesus!

  • “Andrew gee nuwe blik op geskiedenis van die kerk.”