Om te gee, help jou groei
👤 Scherlize van der Merwe

Oor die langnaweek het die Isibindi-familie weer op hulle jaarlikse uitreik na Calitzdorp gegaan. Volgens Scherlize van der Merwe is dit ‘n tradisie wat elke keer hulle vorm en hulle sending verdiep.
Sy vertel dat hierdie jaar besonder spesiaal was, omdat hulle vergesel is deur hulle ECHO-familie van Pretoria. “Saam was ons ’n span van 50 mense met een doel: om met liefde en oorgawe te dien.
Ons dae was vol, en ons harte nóg voller. Ons het saam met die kinders gespeel en gelag en ’n poppekas aangebied oor die verhaal van die vriende wat hul siek vriend deur die dak laat sak het om by Jesus uit te kom. Die kinders se oop oë en spontane lag het ons weer herinner aan die eenvoud en krag van die evangelie.
Ons het ook die voorreg gehad om die plaaslike ouetehuis te besoek. Ons het saamgesing, hande laat klap en trane van vreugde gesien.
By die Calitzdorp-koshuis het ons ag kamers geverf en nuwe gordyne opgehang. Hierdie praktiese projek was ook ’n geleentheid vir die Isibindi- en ECHO-spanne om mekaar beter te leer ken en sterk bande te bou.



Ons het ’n ouerleiding-oggend aangebied, waar eerlike gesprekke, bemoediging en wysheid gedeel is. Dit was ’n voorreg om saam met hierdie ouers te kuier en hulle te herinner dat hulle nie alleen is nie.
Een aand het ons saam met die Calitzdorp-jeug ’n aanbiddingsgeleentheid gehou. Die kerk was gevul met musiek, opregte lof en die tasbare teenwoordigheid van God. Jongmense het hul harte oopgemaak en ’n diepe ontmoeting met Jesus gehad—’n aand wat ons nie vinnig sal vergeet nie.
Deur dit alles is ons weer en weer herinner aan hierdie eenvoudige, maar kragtige waarheid: hoe meer jy gee, hoe meer groei jy as volgeling van Jesus. Elke daad van diens, elke gebed, elke oomblik van konneksie met iemand in Calitzdorp of die groep het ons gevorm, ons geloof verdiep en ons harte oopgebreek vir die vreugde van ’n lewe wat uitgedeel word.
Ons sien julle volgende jaar weer.”