Dis ‘n geskenk om te glo; geloof is nie iets wat jy bereik nie
👤 Ronelda Visser
Geloof is die een ding wat ons nodig het om te leef in ’n verhouding met Jesus Christus. Baie mense weet van Jesus en bewonder Hom selfs, maar die vraag is of jy in Hom glo? Om te glo beteken nie jy is hierdie wonder-Christen wat al die antwoorde op die lewe se moeilike vra het nie. Geloof is nie iets wat jy bereik nie. Dit beteken ook nie vroomheid nie. Dit is ’n geskenk van die Heilige Gees wat jou instaat stel om op reis te wees met God en God op God se Woord te neem. Dit is die vermoë om deur die lewe se op- en af-tye vas te hou aan die wete dat God jou God se geliefde kind noem en jou nooit in die steek sal laat nie.
Geloof los nie ons probleme op nie, maar ons geloof in God se trou help ons om ons probleme met meer kalmte te hanteer sodat ons daardeur kan groei. Hierdie kalmte kom uit die wete dat God in beheer is en dat Hy ons nooit sal verlaat nie, ongeag die omstandighede. Geloof gee ons ‘n innerlike vrede en die vertroue om te weet dat ons nie alleen is nie, en dat elke uitdaging en oorwinning deel is van God se groter plan vir ons lewens. Dit is hierdie geskenk van geloof wat ons versterk en ons die moed gee om met hoop en volharding deur die lewe te gaan.
Kyk, dink en doen verder oor hierdie tema.
Lees: Markus 1:16-20 – ‘n Praktiese voorbeeld wat wys hoe om te glo
Jesus roep sy eerste dissipels
16Eendag toe Jesus langs die See van Galilea loop, het Hy vir Simon en Simon se broer Andreas gesien waar hulle besig was om werpnette in die see uit te gooi. Hulle was vissers van beroep. 17Hy het toe vir hulle gesê: “Kom hier! Kom saam met My, en Ek sal julle vissers van mense maak.” 18Onmiddellik het hulle die nette gelos en Hom gevolg. 19Toe Hy ‘n entjie verder gaan, het Hy vir Jakobus seun van Sebedeus, en sy broer Johannes gesien waar hulle in die skuit besig was om hulle nette reg te maak, 20en dadelik het Hy hulle geroep. Hulle het hulle pa, Sebedeus, net so saam met die loonarbeiders in die skuit gelaat en saam met Jesus gegaan.
In Markus 1:16-20 sien ons ‘n praktiese voorbeeld van hoe geloof werk. Jesus roep sy eerste dissipels – Simon, Andreas, Jakobus en Johannes – om Hom te volg. Hierdie mans was besige vissers, maar hulle het alles summier net daar en dan gelos en vir Jesus gevolg. Hierdie daad van geloof was nie gebaseer op ‘n logiese of praktiese oorweging nie, maar op ‘n diep vertroue en gehoorsaamheid aan Jesus wat vir hulle roep om Hom te volg. Dit wys dat geloof nie altyd sin maak in menslike terme nie, maar dat dit ‘n innerlike oortuiging is wat lei tot aksie. Deur in geloof te reageer op Jesus se oproep, het die dissipels ‘n reis begin wat hulle lewens vir ewig verander het.
Die roeping van die dissipels herinner ons daaraan dat geloof dikwels ‘n stap in die onbekende vereis. Dit is ‘n oorgawe aan God se wil en plan vir ons lewens, wat ons uitnooi om ons vertroue nie op ons eie vermoëns of begrip te plaas nie, maar op God se getrouheid en liefde. Dit is hierdie soort geloof wat ons lewens verryk en ons in staat stel om ten volle te leef volgens God se doel en visie vir ons.