Ontmoet ds. Wihan Rossouw en sy vrou, Ayla
👤 Kaapkerk Kommunikasie
Wihan Rossouw se storie begin in Pretoria, waar hy in 1997 gebore is, maar dit is in Fochville waar hy grootgeword het en waar hy in 2015 aan Hoërskool Fochville gematrikuleer het. Hy kom uit ’n huis waar harde werk en toewyding nie vreemde woorde was nie: sy pa, Willem, is ’n entrepreneur en nutsman, en sy ma, Mariette, ’n Wiskunde- en Wetenskaponderwyseres. Hy het ook ’n ouer broer, Marno, wat vandag as ’n rekenaar- en elektroniese ingenieur werk.
Na matriek het Wihan sy roeping gevolg en teologie aan die Universiteit van Pretoria gaan studeer. Hy het in 2020 afgestudeer en is in 2021 gelegitimeer. Tydens sy studiejare het hy ’n besondere liefde ontwikkel vir Nuwe Testamentiese studies en dogmatiek, maar sy belangstelling was nie net akademies nie. Musiek het deurgaans ’n belangrike rol in sy lewe gespeel. Hy het selfs klassieke klavier as vak aan die universiteit se konservatorium geneem.
Hierdie liefde vir musiek het natuurlik oorgeloop in sy bediening. Wihan was vir ongeveer tien jaar betrokke as koordirigent van die Vocalise Fellowship Choir en het ook jongmense afgerig en musiek verwerk vir skole en koshuise soos HTS John Vorster, Magrietjie Dameskoshuis en Mopane Manskoshuis. Die afgelope paar jaar voor sy beroep het hy as aanbiddingsleier by Wapadrant gemeente gedien en op verskeie plekke by jeugwerk en aflosprediking ingespring.
Hy het ook sy vaardighede verder ontwikkel deur formele opleiding in die Kodály-musiekopvoedingsmetode te voltooi, onder andere deur die University of Pretoria Kodály Academy en Cuskelly College of Music, waar hy tot vlak 6 met hoë onderskeiding gevorder het. En, soos dit dikwels gaan, was dit juis in hierdie wêreld van musiek waar iets nóg belangriker gebeur het.
By ’n koffiestasie, tydens een van hierdie opleidingsgeleenthede, het Ayla ’n gesprek met hom aangeknoop oor ’n koffiebeker met Jeremia 29:11 daarop. Wat begin het as ’n eenvoudige gesprek, het vinnig gegroei tot iets dieper, en 11 maande later, op 25 Mei 2025, is hulle getroud.
Ayla (gebore Prins) se eie verhaal begin in Windhoek, waar sy in 1999 gebore is, voordat haar gesin na Pretoria verhuis het. Haar pa, Theunis, is ’n vlieënier en vlieginstrukteur, en haar ma, Marilize, ’n musiekonderwyseres – iets wat duidelik sy spore in Ayla se lewe gelaat het. Net voor haar vyfde verjaarsdag het die gesin na Singapoer verhuis, waar sy in 2016 aan die Australian International School gematrikuleer het.
Na skool het sy Musical Theatre by Oakfields College in Pretoria gaan studeer. Haar loopbaanpad was uiteenlopend en kreatief: sy het gewerk as au pair, in administrasie, bemarking en sosiale media, en as dansinstrukteur in ballet, tap en kontemporêre dans. Tog het haar hart altyd teruggetrek na musiekonderrig.
Vandag is klasmusiek – spesifiek sanggebaseerde leer waar kinders deur musiek, beweging en spel leer – haar groot passie. Haar vaardigheid in hierdie veld is so sterk dat die Universiteit van Pretoria dit selfs as voorbeeld gebruik het vir BMus-studente se onderrigmodules. Haar droom is om eendag haar eie musiekskool te begin.
NG Hottentots-Holland is Wihan se eerste voltydse gemeente ná jare se deeltydse betrokkenheid in musiek en bediening. Vir hom en Ayla is hierdie nuwe hoofstuk nie net ’n beroep nie, maar ’n roeping wat hulle saam uitleef. Hulle sien uit daarna om deel te word van die Hottentots-Holland Familiekerk en om saam met die gemeente te groei, te dien en die Here se liefde sigbaar te maak in woord en daad.



